Duitse en Britse navorsers het dopgehou wat gebeur toe 21 bokke en 27 skape hul pad rondom hindernisse moes vind om kos te bereik. Die diere is een-een na ’n kampie geneem. Iemand het aan die ander kant stelling ingeneem met kos byderhand. ’n Hek met ’n opening daarin het die direkte roete na die bak kos afgesper.

Die navorsers het dopgehou of die diere direk vir die gaping mik, en hoe lank dit hulle neem om uiteindelik die kospunt te bereik. Ná ’n paar probeerslae is die opening verskuif, en die diere is weer getoets.

Die bokke het aanvanklik vinniger en makliker om die eerste gaping geloop, maar die skape het gemiddeld vinniger die eindpunt bereik. Nadat die gaping geskuif is, het dit die skape én die bokke ’n tydjie gevat om aan die nuwe posisie daarvan gewoond te raak. Die bokke het oor die algemeen beter gevaar.

“Daaruit blyk dit dat hulle kognitief buigsamer as skape is,” sê dr. Britta Osthaus van die Canterbury Christ Church Universiteit in Brittanje. Die navorsers reken dit is omdat skape wei, terwyl bokke voortdurend soek-soek na groener lote om aan te vreet.