Dr. Faffa Malan, virtuele veearts en bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), sê veral bloubosluise hou groot gevaar in omdat dit siektes soos Afrika- en Asiatiese rooiwater, hartwater, galsiekte en knopvelsiekte oordra. Galsiekte is in agt van Suid-Afrika se nege provinsies aangemeld. Die tabel wat die voorkoms van siektes opsom is hier beskikbaar.

Veeboere moet seker maak vee wat hulle elders koop, is nie met bosluise besmet wanneer hulle op die plaas aankom nie. Dit verhoog nie slegs die gevaar van siektes nie, maar bevorder ook weerstand teen bosluisdoders. ’n Goeie bestrydingsprogram teen in- en uitwendige parasiete is noodsaaklik. Geen nuwe gevalle van bek-en-klouseer is aangemeld nie.

Vlieënde insekte is ook talryk en kan siektes veroorsaak wat boere groot skade kan berokken, soos knopvelsiekte, drie-dae-stywesiekte en bloutong. Veeartse het die uitbreek van bloutong in al nege provinsies bevestig.

Bakteriese siektes het ook hand uitgeruk, waaronder sponssiekte, bloednier, beesbrucellose en dikkopsponssiekte.

Malan sê vergiftiging met plante kom ná reën voor, waaronder geeldikkop weens verlepte duwweltjies wat deur hul goudgeel blomme in die veld gekenmerk word. Tulpe en inkbessies hou ook ’n groot gevaar in, veral wanneer vee van kamp verwissel en dan hierdie giftige plante vreet. Sommige vergiftigings kan met geaktiveerde houtskool behandel word.