Danksy die Brangusras se toenemende gewildheid onder kommersiële beesboere en die vraag na speenkalwers van gehalte, is dit een van die min rasse wat ’n groei in getalle toon. In boerderye geld slegs een faktor steeds vir hele bedryf, naamlik geld! Die voerkraal wat die beesboer se kalwers koop en die mark bepaal, soek ’n speenkalf wat so vinnig moontlik groei en teen die laagste bedryfskoste gevoer word. Dus, die maksimum wins teen die laagste bedryfskoste.

Op sy beurt word die voerkraal voorgeskryf deur die verbruikers wat hoofsaaklik uit twee groepe bestaan, naamlik die middelen laeinkomstegroep wat goedkoper vleis soek, en die middel- tot hoë-inkomstegroep wat op gehalte aandring (teen die regte prys).

Brangustelers probeer op hul beurt om bulle te verkoop wat dit so winsgewend moontlik vir die kommersiële boer maak. Hulle slaag daarin deur op die volgende eienskappe van die Brangus klem te lê:

  • Klein, gesonde kalwers (lae mortaliteit).
  • Vinnige groei tot speen (meer randwaarde per kalf).
  • Koeie wat vrugbaar is en jaarliks kalf.

Alle hulpmiddels wat Brangus SA se telers gebruik, soos teelwaardes en genomika, is daarop gemik om ’n produk van beter gehalte te lewer. Uiteindelik beteken dit meer geld in die boer én voerkraal se sak.

Laai pragbylaag gratis af!
Klik HIER om 'n digitale weergawe van die Brangus-bylaag gratis af te laai.

Genootskap

As ’n genootskap is ons gelukkig om ’n ras te verteenwoordig wat al die eienskappe het wat in die praktyk winsgewend en doeltreffend is. Daarom werk die genootskap baie hard aan opleiding vir telers en kommersiële boere, asook kliëntediens. Die hele klem van die Brangus SA-beestelersgenootskap het verskuif met die doel om ’n beter produk te lewer.

Bulle en koeie ondergaan twee keurings voordat hulle verkoop word. ’n Dier word streng gekeur op die plaas tydens die jaarlikse inspeksie en daarna weer voor ’n veiling. Dit is om te verseker dat die koper ’n bul gaan koop wat lank in sy kudde gaan werk sonder dat hy vervang hoef te word.

As ’n funksionele bul vyf tot ses jaar in ’n kudde kan werk pleks van drie jaar, kan hy 200 kalwers toevoeg teenoor ’n bul met ’n korter werkleeftyd wat net sowat 100 kalwers sal nalaat.

Lededienste

Die Brangus SA-raad bestaan uit jong lede met ’n gemiddelde ouderdom van 46. Elkeen van die ses streke word verteenwoordig met die volgende portefeuljes: Bemarking, rasverbetering, kantoorsake, veilings, finansies, statistieke, kliënteverhoudinge, organisatoriese ontwikkeling, klubs, opleiding en keuring.

Elke raadslid is ’n spesialis op sy vakgebied en kry ondersteuning van ander kundiges in klubs wat help om die berekende en verantwoordelike besluite te neem. Die raad is in voeling met wat die telers wil hê, en sorg deurgaans dat Brangus SA ook in pas is met kommersiële boere se behoeftes.

Die kantoor van Brangus SA het bekwame personeel. Die rasdirekteur, mnr. John Rafferty, sien om na kliënteverhoudinge, mentor jong telers en lewer ’n veekundige diens aan kommersiële en Brangus-stoettelers. Hy word ondersteun deur ’n span keurders wat seker maak elke teler word minstens een keer per jaar besoek.

Die kantoor is in Bloemfontein en word bestuur deur mee. Gail Bosch, Cheryl Haddad (data), Hanri van der Merwe (tegnies) en mnr. Andreas Myburgh (finansies). Dit is ’n plesier om te boer met hierdie uitstekende ras wat maklik bemarkbaar is.

Daar is geen fieterjasies as dit by ons beeste en telers kom nie. Tevrede kliënte bly ons eerste prioriteit. Ondanks onsekerhede in die land is die Brangus SA-telersgenootskap daartoe verbind om die hoogste vlak van diens aan sy telers en kopers te bied.

Mnr. Pieter Swart is voorsitter van die Brangus-genootskap.