Volgens statistieke uit 2019 deur die Verenigde Nasies se Voedsel-en-landbou-organisasie is vark die vleistipe wat wêreldwyd die meeste geproduseer en verbruik word. Gemeet aan ander vleistipes is die omgewingsimpak van varkstelsels per eenheid vleis relatief laag. Die gesamentlike volume waarteen varkproduksie egter plaasvind, het ’n impak op die omgewing. In 2013 is bereken varkplase stel sowat 668 miljoen ton koolstofdioksied per jaar in die atmosfeer vry. Dit is sowat 10% van alle kweekhuisgasuitlatings wat aan veeproduksie toegeskryf word. Daarby dra varkboerderye ook by tot die toenemende versuring van grond en die eutrofikasie van die omgewing.

Luidens ’n verklaring deur Queen’s Universiteit Belfast in Noord-Ierland het Britse varkboere in die afgelope twee dekades dit reggekry om die koolstofspoor van hul plase merkbaar te verklein deur aanpassings te maak in die soorte voer wat hulle gee. Al hoe meer vervang sojavoer met plaaslik geproduseerde raapsaad en sonneblomvoer. Sojavoer word van Suid-Amerika, waar gepaardgaande ontbossing ’n groot omgewingsimpak het, na Brittanje uitgevoer.

Vooruitgang ten opsigte van dierevoeding en voedsel het ook ’n gunstige impak, sê die navorsers. Sintetiese aminosure en ensieme word toenemend gebruik omdat dit oor die afgelope jare goedkoper geraak het. Wanneer dit gevoeg word by plaaslik geproduseerde voer, soos raapsaad, verhoog hierdie aanvullende bestanddele die voedingswaarde daarvan, en skep ’n algemene voedingsbalans. Die diere is geneig om nie soveel belangrike voedingstowwe uit te skei nie, en in sommige gevalle het produksie met tot 30% gestyg.

Die hoeveelheid fosfaat wat uit varkmis spoel, is met tot 20% verminder. Dit verlaag die potensiële besoedelingsimpak van varkboerdery op varswaterbronne.

Oor die afgelope jare het die varkboere ook toenemend skraler, vinniger groeiende varke begin teel. Meer varkies per werpsel word verkry, en die algehele vrektesyfer het gedaal. Al hierdie aspekte dra daartoe by dat die koolstofspoor van Britse varkplase “byna onder die radar” krimp, volgens die studieleier, prof. Ilias Kyriazakis van Queen’s Universiteit Belfast.

Brittanje stel dit ten doen om teen 2050 koolstofneutraal te wees ten opsigte van boerderybedrywighede.