Karan Beef het in die jaar tot November reeds 4,3 miljoen kg beesvleis na China uitgevoer, en dié land het ná net ’n jaar die onderneming se grootste buitelandse mark geword.

“Suid-Afrikaanse beesvleis se vetinhoud is laer as dié van onder meer Amerikaanse beesvleis en voldoen beter aan die Chinese se vereistes,” sê me. Anso Bracken, bemarkingsbestuurder van die onderneming.

Ondanks ’n aanbod van R6 miljard vir Karan Beef uit China het dié Suid-Afrikaanse voerkraalonderneming besluit om eerder ’n meerderheidsaandeel aan die Suid-Afrikaanse Openbare Beleggingskorporasie (OBK) en die beleggingsmaatskappy Pelo Agricultural Investments vir R5,2 miljard te verkoop.

“Karan Beef word as ’n strategiese bate vir Suid-Afrika beskou. Daarom is besluit om die maatskappy nie aan buitelanders te verkoop nie,” sê Bracken.

KLEIN BEGIN

Mnr. Ivor Karan, stigter van die onderneming, het Karan Beef in 1974 op die familieplaas naby Heidelberg (Gauteng) met net 100 beeste begin. Vandag het Karan Beef ’n kudde van 160 000 beeste.

Karan Beef koop daagliks gemiddeld 2 040 beeste van boere landwyd aan en rond hulle dan in sy voerkrale af. FOTO: VERSKAF

Die onderneming se bedrywighede sluit in ’n slagplaas op die nabygeleë Balfour wat 2 100 beeste per dag kan verwerk, asook ’n verspreidingsentrum in City Deep in Johannesburg.

Die voerkraalonderneming koop speenkalwers van boere landwyd en voer hulle binne vier maande tot hulle sowat 420 kg weeg. Op dié wyse word tot ’n halfmiljoen beeste per jaar vir die slagplaas afgerond.

Volgens Bracken sal die Karan-familie vir minstens die volgende drie jaar betrokke bly by die onderneming, wat nou 90% aan die OBK en Pelo behoort.

Karan Beef voer reeds die afgelope twee dekades vleis na die Midde-Ooste uit en het in 2017 marktoegang tot China verkry, wat daartoe gelei het dat sy uitvoervolume verdubbel het.

SA EERSTE

Mnr. Matthew Karan, direkteur van Karan, het aan die nuusdiens Bloomberg gesê die maatskappy beperk tans die volumes wat hy na China uitvoer omdat hy nie voorraad van sy plaaslike mark wil wegneem nie. Sy geriewe in Gauteng word ook tans tot die maksimum benut.

Volgens Bloomberg kyk die onderneming ook na Maleisië as ’n nuwe uitvoermark. Hy sal binnekort ’n oudit ondergaan om seker te maak sy halaal-slaggeriewe voldoen aan dié land se standaarde.

Die beesvleisbedryf is onder druk om sy produksie te verhoog om in die plaaslike en internasionale vraag te voorsien, sê mnr. Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie.

Dit beteken die vermoë van kleinboere, wat omtrent 40% van Suid-Afrika se beeste besit, moet uitgebou word. Hulle is nog nie mededingend genoeg vir die uitvoermark nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.