Hy sê die werksessie wat op 16 en 17 Maart by Karibu-lodge naby Tzaneen gehou sou word, sou ’n gulde geleentheid vir die bek-en-klouseerforum wees om die nodige biosekerheids- en bestuursmaatreëls by kommunale boere tuis te bring.

Volgens Van Jaarsveld is die plan waarvolgens bek-en-klouseer bestuur gaan word, vervat in die reëls van die landbouprodukte-agenteraad (Apac) wat eersdaags in die Staatskoerant gepubliseer word. “Hierdie reëls sal stu-krag verleen aan die vereistes wat die bek-en-klouseerforum reeds by veral veilingskrale toepas.”

Hy sê die forum gaan nie op sy louere rus noudat die werksessie uitgestel is nie. “Ons gaan steeds aktief betrokke wees om boere op te lei om die siekte te bestuur. Ek gaan oor die volgende klompie maande praatjies by veilings aanbied en ons gaan kleiner slypskole in kommunale gebiede reël.”

Veilings gaan voort

Van Jaarsveld sê Ramaphosa se perk van 100 mense by openbare byeenkomste behoort nie ’n impak op veeveilings te hê nie. “Net by die heel groot veilings is daar dalk meer as 100 kopers en verkopers byeen. As voorsorgmaatreël gaan afslaers egter vra dat kopers en verkopers nie gaste saambring na veilings toe nie.”

Hy sê hoewel aanlyn veilings voorgehou word as die oplossing om die verspreiding van siektes onder mens en dier te voorkom, is hy bekommerd dat dit dalk eerder tot die verspreiding van siektes soos bek-en-klouseer kan bydra.

“Ons het ten minste nou ’n standaard by veilingskrale waar biosekerheidsmaatreëls die behandeling van voertuie en voetbaddens met ontsmettingsmiddels teen bek-en-klouseer insluit. Ons weet nie of dieselfde maatreëls op plase getref word waar ’n vragmotor ná ’n veiling van plaas na plaas moet ry om diere op en af te laai nie.”