Die Suid-Afrikaanse aanwyser het met 12,5% verswak tot R155,69/kg vir skoonwol sedert die vorige veiling.

Die mark het in dollarwaarde met 17,2% verswak. Die plaaslike aanwyser het minder verswak omdat die rand sedert die vorige veiling met ongeveer 5,6% teen die doller verswak het.

Volgens mnr. Paul Lynch van Standard Wool, die grootste koper op die veiling, het die mark die neigings van die Australiese wolmark gevolg. Hoewel die Australiese EMI met 5,5% verswak het, het die Australiese dollar met 13% sedert die vorige veiling gedaal, wat beteken die Australiese EMI het in dollarwaarde met 18,4% gedaal.

“Om eerlik te wees, ek het hierdie daling drie weke gelede verwag,” sê Lynch. “Dit is baie moeilik om te sê wat die uitwerking op die bedryf vorentoe sal wees. Ek hoop hierdie is die laagtepunt, maar ek kan verkeerd wees.”

Volgens die Cape Wools-markverslag is ’n derde van die aanbod op die eerste dag van die veiling onttrek. Die verkoopsyfer was 76%, gegrond op die wol wat op die veiling aangebied is.

Luidens die verslag was alle mikrongroepe onder druk. Die  grootste daling is gesien in die 19,5-mikrongroep, wat met 16,4% gedaal het.

Mnr. Guillau du Toit, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging, het voor die laaste veiling gewaarsku dat hoewel die mark in ’n stygende fase is, kan die virus ’n ongunstige uitwerking hê. Hy het boere aangeraai om by hulle makelaars te hoor wat hulle as produsente kan doen om te produseer wat die mark vereis.

China

In samesprekinge met kopers lyk dit asof daar meer belangstelling uit China sal wees, omdat die nuus uit China rakende die virus gunstiger is.

Luidens die Australiese wolbedryfsliggaam, Australian Wool Innovation, se markverslag is die week se verkope oorheers deur Chinese kambolverwerkers en uitvoerders na China. Die belangstelling uit ander lande is egter baie laag.

“Baie bronne meen dat die fabrieke in China nou ietwat terugkeer na normaal ná die onderbrekinge sedert die Chinese Nuwejaar op 25 Januarie.”

Hou SA gesond

Die Suid-Afrikaanse wol-en-bokhaarkopersvereniging (Sawamba) het vandeesweek verskeie maatreëls ingestel weens die beperkinge wat reeds ten opsigte van die virus geld.

“Ons as Suid-Afrikaners sal ons meer op ons gesondheid moet toespits as enigiets anders,” sê Lynch. “ ’n Moeilike tyd staar die wolbedryf in die gesig, maar ons moet gesond kan bly en nie lewens in die proses verloor nie.”