Om in die Kalahari te sien hoe ’n sekretarisvoël vernuftig ’n kobra met sy pote doodkap, bly ’n mens lank by. Die brute krag waarmee ’n breëkoparend met ’n likkewaan of selfs ’n steenbok wegvlieg, is eenvoudig asemrowend. Die wiegende vlug van die berghaan terwyl dit deur die lug sweef, bly een van die ikoniese prentjies van die Bosveld.

Volgens verlede jaar se rooidatalys moet ons dit egter nie meer as vanselfsprekend aanvaar om hierdie voëls te kan sien nie. BirdLife Internasionaal het in Desember hierdie drie, almal eens algemeen en wyd verspreid, amptelik as bedreig verklaar weens die kommerwekkende daling in hul getalle. Wetenskaplikes het dié afname reg oor die Afrika-savanne aangeteken.

Al drie spesies het voorheen groot verspreidinggebiede in Afrika suid van die Sahara gehad, maar deesdae sukkel navorsers om hulle op te spoor. In sommige gevalle het getalle met tot 80% gedaal, veral buite bewaarde gebiede. Gewone voëlkykers rapporteer ook die “verdwyning” van dié spesies uit baie gebiede.

’n Breëkoparend het ’n groot gebied nodig om in te jag. Foto: DAWID MALAN

Habitatverlies

Die verlies en agteruitgang van habitat, vergiftiging, stroping en versteuring dra alles moontlik by tot die afname in getalle, maar meer navorsing moet gedoen word om die basiese oorsake te verstaan om dit sinvol en volhoubaar op te los. Dié ikone van die savanne kan nie slegs in ons geheue voortbestaan nie.

Die verlies en fragmentasie van habitat is waarskynlik die belangrikste rede vir die afname. Die voëls het uitgestrekte, oop gebiede nodig om in te jag en groot bome om in te broei. Soos die natuurlike omgewing plek maak vir landbou, bosbou, myne en geboue, raak gebiede ongeskik vir dié roofvoëls. Boonop is die kans dan ook groter dat hulle teen infrastruktuur soos plaas- en kragdrade en windenergie-aanlegte sal bots.

Birdlife Suid-Afrika se navorsers gebruik al geruime tyd gesofistikeerde opsporingsapparaat om sekretarisvoëls se bewegings te volg. Hulle het bevind dat sowat 46% van jong voëls binne die eerste drie jaar vrek. Slegs 4% van dié voëls kom in beskermde gebiede voor. Dié bevindings word in lande soos Kenia bevestig.

Wat breëkoparende betref, is die bewaarde gebiede te klein vir pare om in te broei en hul kuikens te voer, daarom beweeg hulle buite die bewaarde gebiede.

Breëkoparende en berghane is van die roofvoëlspesies in die wêreld wat die meeste gejag en uitgewis word. Soms vang hulle pluimvee, kleiner vee of wild en raak só die teiken van boere en wildbewaarders. Die werklike impak op die prooi is egter onbeduidend. Wildgetalle neem ook af, en met minder beskikbare wild, is die kans groter dat die voëls pluimvee en vee sal aanval.

Gif word ongelukkig gereeld teen probleemdiere gebruik. Navorsing toon dit gebeur meer op kommersiële plase as in landelike gebiede. Aasvretende roofvoëls is gereeld die slagoffers, selfs al is hulle nie die gif se primêre teiken nie.

’n Sekretarisvoël hou nie ’n bedreiging vir wild- of veeboere in indien grond bestuur word om biodiversiteit te bewaar nie. Foto: ANTON ODENDAL

Bewaring vir die toekoms

Dis slegte nuus as spesies amptelik as bedreig verklaar word, maar dis nie noodwendig ’n tragedie nie. Vir baie spesies is dit die begin van hul herstelpad, want die bedreigde status maak hul verknorsing rugbaar en dra by tot hul bewaring.

In 2019 was die sekretarisvoël Birdlife Suid-Afrika se “Voël van die Jaar”. As uitvloeisel daarvan is projekte aangepak om grondeienaars aan te moedig om oorblywende natuurlike grasveld te bewaar en só geskikte habitats buite bewaarde gebiede te vergroot. As die grond bestuur word om biodiversiteit te verseker, kan sekretarisvoëls maklik saam met vee- of wildboere voortbestaan. Bewaarde gebiede is noodsaaklik vir dié roofvoëls se voortbestaan, terwyl baie bewusmakingswerk buite bewaarde gebiede gedoen moet word.

Neem deel aan impakstudies wanneer energie-, landbou- en ander projekte beplan word sodat alle belangegroepe se standpunte in ag geneem word. Só kan die opwindende ervaring om hierdie ikoniese roofvoëls waar te neem, behoue bly.

NaVRAe: Kontak Elaine Odendal by mwjasser@mweb.co.za of 082 455 8402 vir nog inligting oor aanlyn praatjies oor voëls en voëlidentifikasiekursusse.