Die vierde jaarlikse Meatmaster-veiling is onlangs op Ashkam en ook virtueel aangebied, sê mnr. Nico de Wet van Swartpan. “Vooraf het sewe verkopers foto’s en video’s van hul diere op WhatsApp en Facebook geplaas sodat kopers die diere van alle kante kon beskou. Kopers kon telefonies registreer en bie, terwyl hulle terselfdertyd regstreeks op Facebook in verbinding met die veilingsvloer was.”

Hy sê die tegnologie het meegebring dat boere van die vloer af gebie het teen bieërs oor die telefoon, wat ook die diere kon sien soos wat hulle aangebied word. “Die gevolg van hierdie manier van veiling hou, was dat die pryse van ramme en ooie aansienlik hoër was.”

Die veiling is deur KLK aangebied en die omset was R813 635. Mnr. Jan Engels van KLK was die afslaer. Daar is 49 ramme en 92 ooie te koop aangebied. Die hoogste prys vir ’n ram was R56 000. Die verkoper was mnr. Jean du Plessis en die koper was mnr. Gerhard Kasselhoffer. Die hoogste prys vir ’n ooi was R8 000. Sy is deur mnr. Chris Potgieter aan Didymus Farming verkoop. Die gemiddelde prys van ramme was R8 855 en ooie het gemiddeld R4 172 behaal.

ashkam veiling
Selfs die afgeleë Kalahari is nie buite bereik van kopers landwyd wat aanlyn bie nie. Op Ashkam is die vierde jaarlikse Meatmaster-veiling onlangs virtueel bygewoon deur kopers van elders. Foto: Nico de Wet