Dit is ook gepas dat wol deel van dié landbouskou was, aangesien die plaaslike wolbedryf in dié gebied ontstaan het en steeds deel van sy karakter vorm.

Die tegnieke is reeds duidelik nog voor die skeermasjien aangeskakel word. Spesifieke kamme word tydens spesifieke tye in die jaar gebruik. Die kam wat in die winter gebruik word, laat ’n langer vag op die skape sodat hulle nie koud kry nie.

Nadat die skaap in die hok gevang is, moet die skeerder weet hoe om hom te hanteer dat hy deurentyd gemaklik is en stil lê. Die skaap se wol moet ook droog wees sodat die masjien nie die wol trek terwyl dit oor die skaap beweeg nie.

Eers word die maag, waar die penswol vandaan kom, oopgeskeer. Dan word die skaap se een boud, skouer en nek geskeer voor hy omgedraai en aan die ander kant ook geskeer word. Dit kos ’n masjienskeerder sowat 3 minute om die proses te voltooi. ’n Handskeerder skeer natuurlik langer.

Mnr. Zingisile Elliot Ntsombo
Mnr. Zingisile Elliot Ntsombo
Mnr. Khopolo Jackson Mohola
Mnr. Khopolo Jackson Mohola
Mnr. Zingisile Elliot Ntsombo
Mnr. Zingisile Elliot Ntsombo

Die vlakke van ’n skaapskeerder

Mnr. Philip Duminy, streekskoördineerder by OVK, vertel ’n skeerder sluit gewoonlik by die skeerspanne aan as hy rondom die ouderdom van 18 is. Eers word hy ’n wolgooier. Dan word hy ’n afrander. Dan word hy op die hokskaap, oftewel die laaste skaap in die hok wat geskeer moet word, geleer hoe om te skeer.

“Die ou skeerders leer hom dan om te skeer. Hy skeer dan elke dag twee of drie skape. Dit werk by die masjien- en handskeerspanne so. Die instrukteurs kom elke nou en dan en wys die spanne ekstra tegnieke, soos spesifieke maniere om te staan of die toerusting te slyp.”

Uiteindelik sal die NWKV wanneer hy inspeksie by die skeerspanne doen, sertifikate aan die skeerders uitreik. Skeerders kan ’n brons, silwer of goue sertifikaat ontvang na gelang van hoe lank hulle al skeer. Dit word by die nasionale departement van landbou ingedien. Dan is hy ’n amptelike, gekwalifiseerde skeerder.

Almal in die skeerspan skeer egter nie. Elke skeerspan bestaan uit tien lede – vier skeerders, ’n klasser, ’n wolgooier, twee afranders en twee stukkiesmanne. Een van dié stukkiesmanne vee die vloer. Die klasser kry ’n Springbokkop, ’n kwalifikasie wat deur die NWKV uitgereik word en die klasser in staat stel om wol op enige plaas te klassifiseer. “Om wol te klassifiseer is’n vaardigheid wat met die jare aangeleer word. Jy stap nie net in ’n skeerskuur in en begin wol klas nie.”

Om in ’n skeerspan te wees, is nie net ’n werk nie, sê Duminy. “Dit moet in jou bloed wees, dit moet jou liefde wees. Van kleintyd af moet jy ’n talent en passie hê daarvoor. As jy dit wil doen en kan doen, word dit jou lewe.”

Mnr. Zingisile Elliot Ntsombo
Mnr. Zingisile Elliot Ntsombo
Klassers kyk spesifiek na die lengte, fynheid en t
Klassers kyk spesifiek na die lengte, fynheid en treksterkte van die wol.

‘Broeke’

Die klassers kyk spesifiek na die lengte, die fynheid en die treksterkte van die wol. Die afranders knip die vuil en korter lokke rondom die vag af. In party dele van die land word “broeke” – die gedeeltes by die skape se bene en die rug waar daar sade vassit – en die nek waar die wol verskillende lengtes is, op ’n aparte hoop gesit.

Die stukkies wat afgerand word, word op die onderlynetafel gegooi. Daaruit word die lokswol gehaal. “Geen wol word gemors nie. Dit word in ’n baal gesit en in Port Elizabeth verkoop. Daarna word klere daarvan gemaak.”

Hoe fyner die wol is, hoe nader sal dit aan jou lyf gedra word. Terwyl lokswol vir taaier kledingstukke soos jeans gebruik word, sal die fyn vagwol vir onder meer onderklere gebruik word. “Die kopers op die wolveilings koop nou wol vir die kledingstukke wat hulle oor ses maande tot ’n jaar in die winkels wil hê.”

Die spanne skeer van 07:00 vir twee uur en eet dan ontbyt. Dan begin nog ’n sessie van twee uur. Dan eet hulle middagete voor die volgende sessie van twee uur. Die skeerders breek telkens vir ’n halfuur of 45 minute sodat die skeerders kan rus en hul toerusting nagaan vir die volgende sessie. ’n Masjienskeerder skeer van 80 en 100 skape op ’n dag, terwyl handskeerders van 50 tot 70 skape skeer.

Hoewel die jonger skeerders aanvanklik vinniger skeer, is dit gewoonlik die ouer skeerders wat volhou met die aantal skape wat hulle elke dag skeer. “Omdat die ouer skeerders al langer skeer as die jonger manne, het hulle ’n langer asem. Hulle skeer in ’n week ’n konstante aantal skape, terwyl die jong manne teen die derde dag begin moeg word. Dan steek die ou man hom verby.”

Mee. Annette van Eeden, voorsitter van VLV Bredasd
Mee. Annette van Eeden, voorsitter van VLV Bredasdorp, en Rienie Lüdick, voorsitter van VLV Gansbaai, wys by die NWKV-stalletjie by Nampo Kaap hoe wol gespin word.
Mee. Lammie Ferreira, van die Breede Centre op McG
Mee. Lammie Ferreira, van die Breede Centre op McGregor, en Elize Farre van JanJac Wol op McGregor.

Voordele van handskeer

Duminy sê veral boere in die Noord- en Oos-Kaap, waar dit geneig is om koud te word, hou nog daarvan om hul skape met die hand te laat skeer omdat dit meer wol op die skape agterlaat. Nog ’n voordeel van handskeer is die rustige atmosfeer wat dit in die skeerskuur skep. “Die masjien kan ’n bottelnek skep. Die wol kan begin ophoop omdat die klasser die wol nie weggewerk kry nie. Handskeer gaan stadiger en die boer kry meer kans om die skape weg te vat kamp toe en die volgende trop te laat kom. Hy het ook meer tyd om die wol te baal.”

Duminy vertel in ’n skeerhok waar met die hand geskeer word, kan mense met mekaar praat. “ ’n Masjien moet jy eers afskakel voor jy met die mense kan praat. Handskeer skep ’n baie rustiger atmosfeer. Die skape is ook rustiger, want dit is nie so ’n gejaag om klaar te kry nie. Die hele wêreld is rustiger. Niemand is haastig nie.”

Die verskil tussen dié benaderings was duidelik tydens die woldemonstrasie wat Donderdag 5 September aangebied is. Terwyl mnr. Khopolo Jackson Mohola, lid van ’n skeerspan in Swellendam, die masjien met spoed oor die skape stoot en vinnig die proses afhandel, vat die handskeerder, mnr. Zingisile Elliot Ntsombo, sy tyd om ’n wit wolkombers van sy skape af te knip.

Ntsombo het al herhaaldelik bewys hy kán skeer. Dié handskeerder, wat nogal met die linkerhand skeer, is al tien keer as Suid-Afrika se kampioen-handskeerder aangewys. Hy was ook in 1996 die eerste deelnemer uit Afrika wat die wêreldkampioenskap vir handskeer op die internasionale skaapskeer-en-wolhanteringskompetisie in Nieu-Seeland gewen het. Hy het dié titel weer in 2003, 2005 en 2010 gewen. Hy is tans in diens van Cape Mohair and Wool waar hy ander die kuns van skeer leer.

Die beste

OVK hou elke jaar in elke streek, onder meer in Riviersonderend, die Swartland en die Karoo, skeerkompetisies waar die skeerders geleentheid kry om hul staal te toon. “Dit is vir die skeerders ’n vreeslike ding, want hulle wil graag die beste wees. Die streekwenners gaan buiteland toe waar hulle internasionaal meeding. Daar is ook ’n nasionale kompetisie elke jaar in Bloemfontein waar skeerders en klassers meeding.”

Erkenning vir hul talente en vaardighede is vir die skeerders baie belangrik. “Die erkenning is vir hulle meer werd as die geld. Dit gaan vir hulle oor die eer.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.