Boere word aangeraai om altyd geaktiveerde koolstof byderhand te hou.

Dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), sê in sy Januarieverslag van siektes en toestande wat deur lede van die liggaam aangemeld is, sulke gevalle is gedurende Januarie in sewe van Suid-Afrika se nege provinsies aangemeld.

Vergiftigde diere kan met geaktiveerde koolstof behandel word. Sodra dit blyk dat ’n bees, skaap of bok giftige plante gevreet het, moet dit vir die siek dier ingegee word. Die dosis vir tulpvergiftiging is 2 gram koolstof per kilogram liggaamsgewig. Groot diere wat sowat 500 kg weeg, kry 1 kg geaktiveerde koolstof. Boere moet ’n veearts raadpleeg as hulle onseker is oor watter tipe vergiftiging ’n dier opgedoen het.

Veral jong diere wat nog nie giftige plante ken nie, is soms die slagoffers en vreet onder meer tulpe en inkbessies. Diere wat van elders kom of vee wat na ’n kamp gejaag word wat gerus het, vreet dikwels alles wat voorkom; ook giftige plante.

Gevalle wat in Januarie voorgekom het, sluit in gifblaar, tulp, Lantana, geeldikkop (weens duwweltjies) en nitrate. 

Klik hier vir die tabel van dieresiektes wat in Januarie 2020 by Ruvasa aangemeld is.