Dis ’n ingesteldheid wat al sedert die begin van die beskawing geld, en is vandag selfs meer relevant vir die landbou as voorheen, sê prof. Gareth Bath, hoof van die adviesliggaam vir kleinveegesondheid en ’n veearts verbonde aan Onderstepoort.

Hy was verlede week ’n spreker op ’n boeredag op die Paradys-proefplaas buite Bloemfontein ter viering van Internasionale Dieresorgdag. Die boeredag is deur die Universiteit van die Vrystaat (UV) gehou. Landbouweekblad is ’n borg van dié geleentheid, wat deur landboustudente en opkomende boere bygewoon is. Die UV beoog om voortaan op ’n deurlopende grondslag kort landboukursusse aan te bied tot voordeel van die landbougemeenskap en sy studente.

SWARTSMEER

Bath het in sy aanbieding verwys na die video oor die beweerde mishandeling van Suid-Afrikaanse Angorabokke wat die diereregtegroep Mense vir die Etiese Behandeling van Diere (Peta) vroeër vanjaar die wêreld ingestuur het.

“Die video is onder valse voorwendsels gemaak en geredigeer om ’n bepaalde indruk te wek. Danksy die trefkrag van die hedendaagse sosiale media is miljarde rand se skade aan ’n bedryf aangerig.” Sy raad aan enigeen wat met plaasdiere werk, is om “te alle tye só op te tree asof die videokamera op jou is.”

Hy het gesê dit kos net een sondaar om ’n hele bedryf swart te smeer. “In ’n omgewing waar ’n leuen so vinnig versprei, moet ons optrede onkreukbaar wees wanneer daar na diere omgesien word,” het Bath gesê.

SLEUTELGEBIEDE

Sleutelgebiede waar daar veral op diere se welstand gelet word, sluit in wanneer hulle vervoer of opgeveil word, die hanteringsgeriewe waar skape byvoorbeeld geskeer word, dat diere op die voorgeskrewe wetlike en etiese wyse geslag word, en om genadedood toe te pas om diere uit lyding te verlos.

“Ons weet nie regtig wat diere voel nie, maar ons moet dit op die beste moontlike maniere bepaal. Een goeie maatstaf is wanneer diere goed produseer, siektevry is en die regte liggaamsgewig toon,” het Bath aan die studente gesê. Diereproduksie en dieresorg gaan hand aan hand, want navorsing het male sonder tal bewys die beste produksie word deur die beste versorging van diere verkry.

“Moenie sê dit (dieresorg) gaan jou geld kos en daarom steur jy jou nie daaraan nie. Dit is immers tot jou én die dier se voordeel.” Hy het egter gesê dat die ver- sorging van diere prakties uitvoerbaar moet wees, op ’n gebalanseerde wyse moet geskied en ten einde laaste ook winsgewend moet wees.

“Jy kan deel van ’n volhou- bare oplossing wees deur daarop aan te dring dat ’n balans tussen lewende hawe, die boer en die omgewing gehandhaaf word.” 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.