Soos menige landboubedryf is veeboerdery kort-kort onder groot druk. Boere moet nie net oor onnodige politiekery en ’n papperige ekonomie seëvier nie, maar baklei ook teen droogtes, vloede, ongunstige produktepryse en hoë insetkoste.

Daarom is die jaarlikse LRF-Veeskool wat deur die Lewendehawe-registrerende Federasie (LRF), Breedplan en Landbouweekblad aangebied word, so waardevol vir veeboere en ander belangstellendes. Verlede jaar se tema was: Terug na die basiese beginsels. Lesings is deur talle buitelandse en plaaslike kundiges aangebied. In hierdie artikel val die kollig op die belangrike aspekte van volhoubare veeboerdery.

WEET WAT AANGAAN

Dr. Frikkie Maré, hoof van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, het gesê as ’n mens wil uitvoer, “moet jy weet wat aangaan”.

Eerstens moet die boer ’n produk hê wat mededingend is wat prys en gehalte betref. “Jy moet oorweeg of jy die vee op weiding of graan wil grootmaak en afrond, die vleis in verkoelde of bevrore vorm gaan bemark, en watter snitte jy wil verkoop.

“Die uitvoerder moet uiteraard seker maak hy het ’n mark vir sy produk en die markneigings in aanmerking neem, naamlik of dit ’n stygende, dalende of konstante mark is, wat die vraag na die produk is en wat die verbruiker se voorkeure is (soos klas, tipe en vetheidsgraad). Daarvoor moet hy deeglike marknavorsing doen.”

Maré het gesê die uitvoerder moet ook die land se gesondheidstatus in ag neem. Die belangrike uitvoerbeperkende siektes is onder meer bek-en-klouseer, runderpes, malbeessiekte, slenkdalkoors, kleinveepes en vark- en voëlgriep. Suid-Afrika sal goeie biosekerheid moet begin toepas en siektes by die staat aanmeld.

“ ’n Nasionale identifikasie-en-naspeurbaarheidstelsel is onontbeerlik,” het hy gesê.

Dit is nog nie verpligtend nie. Die huidige kwessie is wat die beste sal wees: ’n Nasionale stelsel of verskeie private stelsels, die tipe oorplaatjie, boere se bereidwilligheid om aan te pas en wie die verantwoordelikheid moet dra om dit te bestuur en te monitor, wie toegang tot data mag hê en wie dit gaan finansier.

’n Suksesvolle, volhoubare uitvoerbedryf kan nie gevestig word sonder dat die staat betrokke is met handelsooreenkomste en ’n naspeurbaarheidstelsel nie. Daarin moet staatsveeartse ’n rol speel en hawens moet saamwerk om uitvoer glad te laat verloop.

Die rooivleisbedryf moet die uitvoer ondersteun, soos die rol wat Meat and Livestock Australia (MLA) met vleisuitvoer vanuit daardie land speel. MLA verleen noodsaaklike finansiering omdat dit in nasionale belang is. In Suid-Afrika is die finansiering van die rooivleisbedryf van die kleinste ter wêreld, al is dit die grootste landboubedryf.

smutsvinger veeboerdery
Smutsvingergras groei hier binne-in slangbos. Met die regte beweiding kan gewenste grasse oor die indringers seëvier. FOTO: DANIE SLABBERT

PAS BY NATUUR AAN

Veral selektiewe en laedrukbeweiding, stadige of geen wisselweiding en oorbelading, oorbeweiding en té kort hersteltydperke lei tot die verswakking van natuurlike weiveld, het mnr. Danie Slabbert, herlewingslandbouboer van Reitz, gesê.

Die moderne (verkeerde) oplossings is om plaag- en onkruiddoders te spuit om byvoorbeeld van ongewenste plante, soos slangbos, ontslae te raak, groeihormone te gebruik, monokultuur in saaiboerdery toe te pas, en chemikalieë vir alle probleme aan te wend.

Slabbert boer met beeste, sonneblomme, koring, mielies, sojabone en aartappels, is in die beginfase van skaapboerdery en volg metodes vir herlewingsboerdery met alles. Hy ploeg die grond slegs vir aartappels. “Die natuur is die beste onderwyser en is altyd reg, maak nie saak of jy met gewasse of vee boer nie. Ons probeer om die natuur na die beste van ons vermoë na te boots.”

Met die verkeerde beweidingsmetodes veg die indringerplante terug en is die boer se oplossing dikwels om chemiese bestryding toe te pas. “As jy onkruiddoders gebruik, maak jy ook die waardevolle kruie en peulplante dood.”

Met die regte praktyke genees die natuur homself. In Slabbert se boerdery het hy daardeur talle verskillende grassoorte by die weiding gevoeg. Van die grasspesies is in staat om indringers, soos taaipol en slangbos, te bestry. Van die natuur se eie oplossings is:

  • Simbiose tussen diere, plante, grond en mense.
  • Ultrahoëdigtheidbeweiding.
  • Diversiteit.
  • Rustye. Slabbert bewei ’n blok net elke 10-14 maande.
  • Verbreek die plaagsiklusse. Selekteer en boer met die regte tipe diere.

Hy boer met Drakensbergers, wat hy as een van die mees aangepaste en parasietweerstandige rasse bestempel.

Winsgewendheid is een van die sleutelaspekte van volhoubaarheid. Slabbert het die belading van sy weiding met 300% verhoog deur sy boerderymetodes en bestuur aan te pas.

“As ’n kudde se speensyfer dan net 65-80% op ultrahoëdigtheidbeweiding is, kan ’n boer dit bekostig as van die koeie soms nie ’n kalf speen nie, want hy boer met baie meer koeie en speen meer speenkalwers as met konvensionele beweiding. Dus is belading die grootste winsaandrywer per hektaar.

“Terselfdertyd verbeter die grond se gehalte. By my het hierdie weimetodes gelei tot meer voordelige grondbewonertjies, soos miskruiers, wat ’n belangrike teken van grondverbetering is.”

Volgens hom behoort “groen voerkrale” meer aandag te kry, waar speenkalwers eerder op die veld pleks van in konvensionele voerkrale uitgegroei word. As die kenners eerder hul energie aan natuurlike voermetodes bestee, kan dit ’n groot verandering in ’n boerdery se koolstofspoor meebring. Die gevolg is gesonder kos en mense, ’n skoon omgewing en kristalhelder riviere en spruite, het Slabbert gesê. Boere is die rentmeesters van die aarde en het ’n groot verantwoordelikheid om dit te bewaar.

GESONDE DIERE

Dr. Schabort Froneman, tegniese bestuurder van Zoetis se herkouerafdeling, het die basiese beginsels van dieregesondheid verduidelik.

Meer as 50% van die bevolkingsgroei van die wêreld tussen nou en 2050 word in Afrika verwag. Die lande suid van die Sahara se bevolking sal verdubbel. Die kwessie sal wees om al hierdie mense te voed. Dit sal ’n moeilike taak wees, aangesien 70% van die aarde se oppervlak met water bedek is. Van die ander 30% op aarde is 40% nie-produktiewe grond, 30% bestaan uit woude en bosse en net 30% (oftewel 9% van die totale aarde) kan vir voedselproduksie aangewend word. Daarvan is 33,3% saaigrond en die res is permanente weiding wat slegs deur herkouers benut kan word.

Volgens die Verenigde Nasies se Voedsel-en-landbou-organisasie is lewende hawe die sleutelaandrywers vir volhoubare ontwikkeling in die landbou. Dit dra by tot voedselsekerheid, voedsame kos, verligting van armoede en ekonomiese groei.

Beeste is die doeltreffendste herkouers en het die vermoë om proteïen van ’n lae gehalte (gras) na proteïen met ’n hoë gehalte (vleis) om te skakel. Graan maak net 15% van die totale voeding vir die beesbedryf uit.

Deur ’n hele beeskudde se gesondheid te verbeter, sal dit outomaties tot beter gesondheid per dier lei omdat ’n groep diere met ’n gedefinieerde epidemiologiese verhouding tot mekaar dieselfde mate van blootstelling aan ’n patogeen deel. Dit is omdat hulle ’n gemeenskaplike omgewing het of eenders bestuur word. Vir ’n siekte om pos te vat, is ’n vatbare gasheer, patogeen en bevorderlike omgewing nodig.

Froneman het gesê ’n koeikudde is die funksionerende kern van ’n beesboerdery en die vervangingsverse is die toekoms. Albei begin by die kalf se geboorte, wat gevolg- lik die deurslaggewende tydperk in ’n dier se bestaan is. Kolostrumbestuur (biesmelk) en strategiese inenting is die kern van die grootmaak van gesonde vervangingsverse en speenkalwers.

“Onthou die slagspreuk vir kuddegesondheid: Voorkoming is beter as genesing.”

Voor dektyd. Inenting speel ’n belangrike rol in kuddegesondheid. Dit begin by beskerming van die fetus. ’n Koei moet dus voor dektyd ingeënt word om die fetus te beskerm. Inenting teen beesvirusdiarree (BVD) is belangrik om die groeiende fetus daarteen te beskerm en die geboorte van permanent besmette kalwers te voorkom.

Voor kalftyd. Die pasgebore kalf se sistemiese immuunstelsel is ten volle ontwikkel, maar nog onvolwasse. Pasgebore kalwers is dus vatbaar vir patogene. Ná geboorte ontwikkel die plaaslike immuunstelsel vinnig. Op 5-8 maande oud is die kalf se immuunstelsel ten volle ontwikkel. Froneman het gesê inentings voor kalftyd laat die teenliggaampies teen sekere patogene in die biesmelk toeneem.

Volgens proewe bekamp inenting onder meer maagwerkings by kalwers. Biesmelk verlaag siektes en kalfvrektes. As die koei ingeënt word, verbeter dit dus die biesmelk se gehalte. Die boer moet entstowwe gebruik wat vir ’n bepaalde doel ontwikkel is, soos Scourgard 4KC (reg.nr. G3841, Wet 36 van 1947) vir die bekamping van bees-rota- virus, bees-koronavirus, Escherichia coli en Clostridium perfringens tipe C.

Voor speen. Bees-asemhalingsiekte (BRD) is die grootste probleem in die vleisbeesbedryf. In voerkrale is dit verantwoordelik vir 50% van die siektes en vir 50-75% van die vrektes, volgens Froneman. ’n Speenkalf sonder BRD groei sterk en kan ná 120 dae in die voerkraal die teikengewig van 450 kg bereik. Daarteenoor groei ’n kalf wat op 5-6 maande oud matig deur BRD aangetas is, teen 72 gram per dag stadiger as die gesonde kalf. Dit is ’n gewigsverlies van 8,64 kg. ’n Speenkalf wat op 5-6 maande erg tot chronies deur BRD aangetas is, se groei is 202 gram per dag laer, oftewel 24,24 kg minder as normaal.

BRD raak die melkbedryf ook erg. In die geval waar ’n verskalf met BRD besmet was, sal sy twee weke later as normaalweg kalf en die melkproduksie sal met 4% verlaag weens haar BRD-tydperk. As koei gaan sy meestal ’n verkorte melktyd hê, en die kudde se langlewendheid sal nadelig beïnvloed word. Froneman het gesê rondewurms by beeste word dikwels onderskat en gaan soms ongesiens verby. Dit kan egter ’n groot nadelige impak op produksie hê in die vorm van stadige groei, swak voerbenutting, swak voeromsetting, ’n lang tussenkalfperiode en lae melkproduksie.

’n Gemiddelde koei en haar kalf produseer gedurende ’n weitydperk van vyf maande sowat 3 ton mis wat 51 miljoen rondewurmeiers bevat. Die eiers broei uit en die larwes besmet die weiding. Dit moet in hierdie vrylewende stadium deeglik bekamp word.

Kalwers is meer vatbaar vir rondewurmbesmetting as volwasse beeste. Eiertellings in die mis daal namate die beeste ouer word.

In drie proewe by die Universiteit van Florida in Amerika is lentekalwers op drie verskillende plekke 90 dae voor speentyd met doramektien gedoseer. Hul daaglikse groei was 6,5% beter as dié van die kontrolegroepe wat nie ontwurm is nie. Die behandelde groep het 2,7 kg meer as die onbehandelde kalwers geweeg.

BALANSEER VOEDING

Gebalanseerde voeding is uiters belangrik om seker te maak vee se voedingkundige behoeftes kry die nodige aandag. Dit sal ’n boer in staat stel om volhoubaar te boer, wins te maak en uit te brei.

Mnr. Johan Mouton, tegniese bestuurder vir navorsing by Molatek (RCL Foods), het gesê dit is maklik om reg te kry as die boer die basiese beginsels van voeding snap. Begin by die basiese dinge, was sy raad.

Die algemene opvatting is dat ’n plaas van 1 000 ha met ’n drakrag van 5 ha per grootvee-eenheid (GVE) 200 koeie kan dra. “Dit is egter nie altyd korrek nie. ’n Akkurater berekening is nodig om die drakrag te bepaal as bloot die getal diere,” het hy gesê.

Die tabel verskaf meer inligting oor die verskillende diere in ’n beeskudde. Die berekening is gedoen volgens die maatstaf dat ’n grootvee-eenheid ’n bees van 450 kg behels wat teen 500 gram per dag groei. In ’n speenkalfproduksiestelsel kan die betrokke plaas 125 produktiewe vroulike diere dra, gebaseer op die beginsel dat ’n produserende koei gelykstaande is aan 1,6-1,8 GVE. Die berekening maak dan voorsiening vir die kalwers, bulle en vervangingsverse wat uitgegroei word.

Die boer moet ook sy beskikbare hoeveelheid droëmateriaal (DM) in aanmerking neem. Indien hy 1 500 kg DM per dag beskikbaar het, sal sy weiding (met 125 produksiediere teen sowat 12 kg DM) ongeveer 10% oorbelaai wees. Dan word ál die diere in gevaar gestel omdat daar net 10,9 kg ruvoer per dag beskikbaar is.

“Boer in samehang met wat die natuurlike hulpbronne jou bied. Dit is die mees ekonomiese boerdery,” het Mouton bygevoeg.

Werk dus betyds uit wat die benodigde voervloei is en hoeveel voer gedurende die verskillende tye van die jaar beskikbaar is. Pas dan die veegetalle daarby aan om oorbeweiding, ’n voertekort en maer koeie (wat waarskynlik nie dragtig sal raak nie) te voorkom.

Mouton het verduidelik hoe om die som te maak. ’n Produktiewe koei se daaglikse behoefte bedra 94 MJ energie (7,8 kg mielies), 1 044 gram proteïen (2,7 kg katoenoliekoek), 31 gram kalsium (90 gram voerkalk) en 26 gram fosfaat (220 gram P12). Die grondstowwe tussen hakies is bloot gekies om die leser ’n gevoel van die tegniese terme te gee en kan nie net so toegepas word nie.

Fosfaat speel ’n belangrik rol in energie- oordrag. Daar is bykans reg oor Suider-Afrika ’n tekort aan fosfaat in weidings. Dit moet aangevul word, aangesien ’n tekort die beeste se groei erg benadeel en in die winter selfs tot vrektes kan lei. Die koste van fosfaataanvulling is sowat R240 per koei per jaar, wat min is vergeleke met die sowat R7 000 wat die boer vir ’n speenkalf kry.

Winterweiding verskaf ook nie genoeg proteïen nie. As ’n koei 11 kg gras met 4% proteïen per dag vreet, verskaf dit nagenoeg 440 gram proteïen. Die inname van DM is teen daardie tyd laer omdat die diere progressief minder voer inneem namate die gehalte afneem. ’n Koei het 600 gram vir onderhoud nodig en sy moet dus ongeveer 160 gram aanvulling kry. In die praktyk waar met dragtige diere gewerk word, en namate die winter vorder, word 200 gram en meer aanvulling benodig.

Die tekort kan grootliks met ’n fosfaatlek aangevul word. Wanneer dit egter baie koud is, moet die boer ’n energie-aanvulling verskaf, veral vir jong diere. Teen 15 °C het ’n speenkalf 36 MJ energie per dag nodig, maar by 0 °C styg die behoefte tot 42 MJ.

“Sorg veral vir die kalwers wanneer ’n koue front toeslaan. Gee dan nagenoeg 1 kg melassemeel of 750 g mielies bykomend om ’n bees in staat te stel om sy kondisie te handhaaf,” was Mouton se raad.

Daar is ’n groot verskil tussen verskillende produksiegroepe en dus tussen hul onderskeie voedingsbehoeftes. Diere moet daarvolgens in hul onderskeie groepe bestuur word om die gewenste produksie en reproduksie moontlik te maak.

In die somerreënstreek is daar vanaf Junie tot Augustus gewoonlik ’n tekort aan ruvoer. Die koeie moet gevolglik teen September kalf wanneer daar weer goeie weiding is.

Mouton het ook die uitwerking van koeie se kondisietelling op dragtigheid tydens dektyd verduidelik.

  • Telling 1,5 = 10% dragtigheid.
  • Telling 2 = 58%.
  • Telling 2,5 = 78%.
  • Telling 3 = 76%. Telling 3,5 = 92%.
  • Telling 4 = 76%.
  • Telling 4,5 = 2%.

Kondisietelling met kalftyd se invloed op die volgende dragtigheid lyk soos volg.

  • Telling 2 = 60% dragtigheid.
  • Telling 2,5 = 78%.
  • Telling 3 = 80%.
  • Telling 3,5 = 88%.
  • Telling 4 = 80%.
  • Telling 4,5 = 60%.

Mouton het gesê die beesboer moet vir genoeg ruvoer regdeur die jaar sorg, enige proteïentekort aanvul, en seker maak die koeie se kondisietelling bly op 3 tot 3,5. Hy moet ook toesien dat jong diere in die winter genoeg energie inneem en deurgaans ’n fosfaatlek verskaf. 

NAVRAE: Dr. Frikkie Maré, e-pos: MareFA@ ufs.ac.za; 051 401 9111; mnr. Danie Slabbert, e-pos: danieslabbert7@gmail.com; 082 339 9018; dr. Schabort Froneman, e-pos: schabort.froneman@zoetis.com; 082 348 2306; mnr. Johan Mouton, e-pos: Johan.Mouton@RCLFOODS.com; 083 278 7746.

BEREI KALWERS OP VELD VOOR

Die aanpassing van speenkalwers voordat hulle voerkraal toe gaan, hou verskeie voordele in, het me. Chéri-Lynn Steyn, ’n junior lektor en meestersgraadstudent in landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, gesê.

Die grootste voordele van aanpassing (backgrounding) is dat die voertydperk in ’n voerkraal daardeur verkort word, terwyl daar ook minder siektes en vrektes is. Die uiteindelike slaggewig, gemiddelde daaglikse gewigstoename en voeromsettingsverhouding verbeter sonder dat daar ’n noemenswaardige (indien enige) verandering in die karkassamestelling is.

Die aanpassingstydperk is gewoonlik op groenvoer, veldweiding, aangeplante weiding of oesreste waar die kalwers teen lae koste matig groei. Dit kan deur die boer, ’n onderneming wat daarin spesialiseer, of die eienaar van ’n voerkraal gedoen word. Daar is die kalwers minder blootgestel aan ’n verandering in voeding en omgewing, terwyl daar minder stof en modder as in ’n voerkraal is.

’n Alternatiewe stelsel vir aanpassing is in krale — sogenoemde droëkraalvoorbereiding. Dit is meer intensief as op die veld, laat die speenkalwers vinniger groei en hulle leer ook om uit ’n krip te vreet.

Die koste wissel tussen seisoene. As die mielieprys hoog is, kan die speenkalwers eerder op die veld aangepas word omdat dit goedkoper is. Aanpassing op die veld is egter aan goeie weiding en dus reën onderhewig. 

NAVRAE: Me. Chéri-Lynn Steyn, e-pos: SteynC2@ufs.ac.za; 071 688 9707.