Die Evans-familie boer reeds vier geslagte lank met Sussexbeeste op Huntersvlei en die gesogte platinumtitel is weer vanjaar deur die Huntersvlei-stoetery ingepalm. Die 13-jarige JRE 05-134, oftewel Huntersvlei Actress die 152ste, is die 152ste nageslag uit die bepaalde Actress-moederlyn, waarvan die eerste koei in 1966 gebore is.

Dié moederlyn presteer al dekades lank in die skouring en op die veld. Huntersvlei volg ’n benamingstelsel waarvolgens die dogters na hul moeders genoem word. Gevolglik het verwante koeie almal dieselfde naam. “Dit stel ons in staat om maklik te identifiseer watter moederlyne in ons kudde presteer,” sê mnr. Enrico Cronjé, kuddebestuurder.

JRE 05-134 se vaar, Huntersvlei Giant die 65ste (JRE 01-106), is ’n seun van Huntersvlei Titan die 29ste (JRE J-111). Titan het die goue beker gewen op elke skou waaraan hy deelgeneem het. Hy is ook een van die bulle wat ’n groot impak op die Huntersvlei-stoetery en die ras as ’n geheel gehad het met ’n aangetekende nageslag van 210 diere.

Een van JRE 05-134 se kleindogters, Huntersvlei Actress die 203de (JRE 16-206), is verlede jaar aangewys as die raskampioen op Vleissentraal se verskampioenskapskou op die Alfa-week. Een van haar agterkleindogters, Huntersvlei Actress die 204de (JRE 17-01), neem vanjaar aan Sussex se streekskampioenskapskou op die Royal-skou in Pietermaritzburg deel en as alles vlot verloop ook aan die internasionale kampioenskapskou tydens die ras se eeufeesvieringe in 2020. “Die visie vir die stoetery is om die gehalte en standaard te behou waarvoor Huntersvlei bekend is en waar moontlik te verbeter, hoewel dit geen geringe taak is nie.”

Mnre. Enrico Cronjé (links), kuddebestuurder, en David Evans van Huntersvlei.

Aanpassing ná droogte

Dit is maar een van die kuddedoelwitte wat deur mnr. David Evans, uitvoerende groephoof, nagevolg word in die strewe na volhoubaarheid en aanpasbaarheid by ’n veranderende klimaat en nuwe, moeilike ekonomiese toestande.

Volgens David het die droogte van 2015-’16 almal se oë oopgemaak. “Ons is gedwing om te kyk na die volhoubaarheid van ons kuddegrootte en die beskikbare weiding. In die proses het ons nóg strenger geselekteer en die kudde verklein in pas met die veld se dravermoë. Die kudde bestaan nou uit 120 koeie en 40 vervangingsverse.”

Die Sussexstoetery Huntersvlei stel reeds dekades lank uitstekende teelmateriaal aan telers beskikbaar. Op sy 48ste produksieveiling saam met Pothou-Sussex verlede Augustus is ’n topprys van R150 000 vir die bul JRE 150077 deur mnr. Mark Whittle van Swartberg betaal.

Die veiling was een van die suksesvolste in dié stoetery se geskiedenis, sê Enrico. Bulle (drie jaar oud) is teen gemiddeld R57 000 verkoop, bulle (twee jaar oud) het gemiddeld R44 000 behaal, koeie (3-in-1) gemiddeld R23 500, dragtige koeie gemiddeld R19 700 en nie-dragtige verse gemiddeld R15 125.

Elitekoei-inligting

Glo in geleenthede

Benewens die stoetery en kommersiële beeskudde bedryf die Rhys Evans-groep ’n slagplaas en ’n voerkraal. “Ons kyk na aspekte, soos hoëdrukbeweiding, bewaringsbewerking op die lande en hoe om by die mark se stygende vraag na vleis van ’n hoër gehalte aan te pas,” sê David.

Die feit dat beesrasse afkomstig uit Engeland, soos die Sussex, van nature baie smaaklike vleis produseer, is ’n groot voordeel. “Hoewel daar talle probleme in die landbou is, glo ek in die geleenthede om beesvleis van uitstekende gehalte te lewer. Ons beesboerderyvertakking en slagplaas is ’n belangrike deel van die diversifikasie van ons sake, en ek sien uit na geleenthede om hierdie afdelings volhoubaar te laat groei.

"Daar is min Sussexkuddes in die land wat nog nie diere by ons gekoop het nie, en die Huntersvleikudde hou aan om ’n beduidende bydrae te lewer tot die genetiese diversifikasie van die Sussexras.”

Navrae: Web: www.re.co.za; e-pos: david.evans@re.co.zaenrico.cronje@re.co.za; 056 343 3311.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.