Mnr. Toit Wessels, aankondiger van die Merino Classic, sê vanjaar se Classic was een van die mees geslaagde Classics tot dusver. Dit gaan nie oor getalle nie, maar eerder oor die gehalte skaap wat vertoon is.

“Ek glo die gehalte skaap was bogemiddeld. Hier is topramme en -ooie ten toon gestel. Ten spyte van die droogte wat ons tans beleef, was die skape steeds van hoogstaande gehalte.”

Organiseerders van die fees is aangenaam verras deur die groot aantal inskrywings vir die onderskeie klasse. Volgens mnr. Danie Vorster van Merino SA was daar vanjaar 29 vertoners, wat 603 skape vertoon het.

“Daar was baie groot getalle in van die klasse op die skou, met die meeste wat 30 skape of meer in die ring gehad het. Die kompetisie was besonder straf,” sê mnr. Keith Coetzee, hoofbeampte van die skou se beoordelaars.

Volgens Coetzee is hy beïndruk deur die goeie gehalte van die skape en was die gees by die skou baie goed. Hy is dankbaar vir die goeie ondersteuning van besoekers, “maar ek weet nie of dit danksy die reën is nie.”

Die grootkampioenram van mnr Stefan Naudé van Geelbek-Elite-stoetery van Hanover word van nader bekyk. Foto: Fredalette Uys

Deelnemers was hoofsaaklik van die omgewing, maar ander het uit die Suid-Kaap, Oos-Kaap en so ver as Loeriesfontein in die Noord-Kaap gekom.

Vier kategorië is op die skou beoordeel, naamlik kudde, kortwol, langwol en die spesiale kampioenskappe.

’n Ooi van mnr. Grant Naudé, van die Nitique-boerdery by Hanover, is aangewys as die grootkampioenooi. Die grootkampioenram behoort aan mnr. Stefan Naudé se Geelbek-Elite-stoetery, ook van Hanover.

Landbouweekblad het vanjaar drie klasse geborg, naamlik die kortwol-ramlam in die swaargewigklas vir ongeskeerde lammers, die kortwol-ramlam in die middelgewigklas vir geskeerde lammers en die langwol-ooilam in die middelgewigklas vir ongeskeerde lammers.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.