Mnr. Koos van der Ryst, nasionale voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê sy bedryf staan voor die uitdaging om die vorige hoë produksievlakke te bereik. “In hierdie stadium is die verwagting dat die vleispryse wat produsente verdien, betreklik hoog sal bly.”

Die speenkalfprys het in die boekjaar 2017-’18 met ’n allemintinge 102% vanaf sowat R18-R19/kg tot R42/kg toegeneem. In die ooreenstemmende tydperk was die styging in die prys van ’n A-graad-beeskarkas 24%.

“Wat prysbewegings betref, is dit moeilik om in die kristalbal te kyk,” sê Van der Ryst. “Die tradisionele balans tussen die speenkalfprys en dié van ’n A-graadkarkas is aansienlik versteur, aangesien die speenkalfprys gebruiklik op sowat 60% van die prys van ’n A-graadkarkas vasgestel word.”

Volgens hom is dit ’n ope vraag in watter mate dié balans herstel sal word. “Daar is twee moontlikhede: Die prys van speenkalwers sal moet daal of ’n A-graadkarkas sal moet duurder word.”

Van der Ryst skryf dié prysversteuring toe aan die kuddebouproses as een van die nagevolge van die troppe beeste wat weens die droogte geslag is. “Dan kan gevra word hoe lank die intensiewe veebedrywe, soos die voerkrale, die pryswanbalans kan absorbeer.”

Hy is huiwerig om self dié vraag te beantwoord, aangesien die droogte in dele van die land die kuddebouherstel steeds vertraag.

Daar is verskeie faktore wat die prysvorming in die rooivleisbedryf beïnvloed, sê hy.

Voerpryse
Klimaatsfaktore raak onder meer die produksie van mielies, wat ’n belangrike bestanddeel vir die beesrantsoene is. Die wisselkoers is nog een. “Die huidige verstewiging van die rand teenoor die vernaamste valuta-eenhede is slegte nuus vir uitvoerders, maar bevoordeel invoer.”

Suid-Afrika voer tans nie groot hoeveelhede rooivleis in nie. In die voorafgaande tydperk is keursnitte (sowat 37 000 ton) na laewaardemarkte in 42 lande soos Mauritius en in Afrika uitgevoer.

Volgens Van der Ryst het die RPO onlangs met die rooivleisbedryf in Namibië oor sake van gemeenskaplike belang samesprekings gevoer. Sowat 50% van dié buurland se speenkalwers (sowat 200 000) word jaarliks na Suid-Afrika uitgevoer. Dit maak sowat 6% van die plaaslike produksie uit.

Sowat 300 000 Namibiese skape word jaarliks óf as karkasse óf lewend in Suid-Afrika bemark.

“Die Namibiese prys van rooivleis is mededingend met dié van die plaaslike mark,” sê Van der Ryst. “Namibiese produsente voldoen ook ten strengste aan die gesondheidsprotokol wat deur die standaarde van die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) gestel is om hul uitvoermark in Suid-Afrika te beskerm.”

Van der Ryst se raad aan verbruikers is tweërlei: “Soek vir winskope en koop in groot maat.” 

Volgens hom ontstaan ’n misverstand tussen die produsent en die verbruiker wanneer die kwessie van bekostigbaarheid en die prys van rooivleis ter sprake is. “Produsente moet aan die een kant ’n billike prys vir hul vleis kry om ’n winsgewende bestaan te voer, maar die verbruiker moet ook nie uitgebuit word nie en moet waarde vir sy verbruikersrand kry.”