Vrugtepulp kan volhoubaar in voerkrale benut word. Die gebruik daarvan as vesel lei tot groot groeivoordele by beeste. Só sê dr. Tawanda Tayengwa, veekundige navorser aan die Universiteit Stellenbosch (US), wat in navorsing met Angusbeeste vasgestel het vrugtepulp is voordeliger as koringsemels.

In sy navorsing wou hy vasstel of dit vir veeboere in lae- en middelinkomstelande van waarde is om uitgedroogde druiwe- en sitruspulp as alternatiewe veselbronne te gebruik, en of dit hul rande kan help rek. Van sy bevindinge is reeds in internasionale vaktydskrifte gepubliseer, waaronder Meat Science en Sustainability.

Tayengwa het onlangs die navorsingswerk vir sy PhD-graad in veekundige wetenskappe voltooi onder leiding van dr. Cletos Mapiye, senior dosent in die departement veekundige wetenskappe van die fakulteit landbouwetenskappe aan die US.

Dr. Tawanda Tayengwa

Sitrusvrugte en druiwe is van die vrugte wat die meeste ter wêreld gekweek word. Tot 100 miljoen ton sitrus en 80 miljoen ton druiwe word jaarliks geoes. In Suid-Afrika word jaarliks 2,9 miljoen ton sitrus en 2 miljoen ton druiwe geoes. ’n Derde daarvan word gebruik vir die maak van sap en wyn.

Nadat die vrugte verwerk is, bly daar sowat 225 000 ton sitruspulp en 280 000 ton druiwepulp oor waarmee ’n plan gemaak moet word. “Om maniere te vind om hierdie vrugte-afval te gebruik, maak nie net ekonomies sin nie, maar is ook goed vir die omgewing,” sê Tayengwa, wat ’n MSc-graad in veekunde in Zimbabwe verwerf het voordat hy middel 2017 met sy doktorale navorsing aan die US begin het.

Meer as 80% van alle beeste in Suid-Afrika word in voerkrale afgerond. Weens watertekorte en beperkte hoeveelhede veevoer funksioneer die meeste voerkrale egter nie optimaal nie. Dit beteken noodwendig dat verbruikers hoë pryse vir beesvleis betaal en dat boere se winsgrense knap is. “Alternatiewe en onderbenutte voerbronne, soos vrugte-afval, moet dus ondersoek word om die bedryf te help om volhoubaarder te wees.”

VESELRYKE OPSIE

Sitruspulp en druiwedoppe bevat albei baie vesel. Tayengwa het ’n reeks eksperimente uitgevoer om te sien hoe die gebruik daarvan as voerbron vergelyk met die gebruik van koringsemels, wat gewoonlik as ’n bron van vesel vir voerkraalbeeste gevoer word. Gedroogde afval is gebruik omdat dit andersins te veel water en tanniene bevat.

Tayengwa het ’n voerkraalstudie gedoen met 24 Angusbeeste van sewe maande oud. Dit is uitgevoer op Mariendahl, een van die US se proefplase buite Stellenbosch. Elke bul het 150 g gedroogde sitruspulp, droë druiwepulp of koringsemels per kilogram voer ontvang.

Tayengwa het onder meer met verteerbaarheids- en groeiprestasietoetse gemonitor tot watter mate die diere die alternatiewe veselopsies vreet en verteer. Hy het daarop gelet hoe hulle groei en hoeveel gewig hulle daagliks aangesit het, asook hoe doeltreffend die voer gebruik is. Die chemiese en fisieke eienskappe van die vleis is ook ontleed, en die vetsamestelling en rakleeftyd daarvan is onder meer vasgestel. Die vleis het ook proetoetse ondergaan.

“Bulle wat gevoer is met ’n rantsoen wat gedroogde druiwe- of sitruspulp bevat, het daagliks meer gewig aangesit en uiteindelik meer geweeg as dié by wie se rantsoen koringsemels gevoeg is. Hulle het ’n hoër karkasgewig en uitslagpersentasie gehad. Produksiegewys was dit winsgewender om die beeste veselryke druiwepulp te voer, gevolg deur sitruspulp en dan koringsemels.”

Druiwepulp word gedroog. Die waarde hiervan as voerbron is in navorsing bewys.

RAKLEEFTYD VAN VLEIS

Tayengwa het ook gekyk of die voer van pulp ’n invloed het op die rakleeftyd van vleis wat in lugdeurlaatbare verpakking verpak word, en die gehalte van die vleis as dit gaargemaak is. “Die vleis van beeste wat druiwepulp gevreet het, het ’n langer raklewe gehad vergeleke met dié van die diere wat sitruspulp en koringsemels gevreet het. Daarvolgens kan gedroogde druiwepulp ’n beter natuurlike preserveermiddel wees as sitruspulp.”

Hierdie bevinding is waardevol omdat talle boere tans sinteties vervaardigde antiok- sidante in voer en vleis gebruik om raklewe te verleng. Verbruikers maak egter toenemend stem dik hieroor, en verkies natuurlike produkte, soos antioksidantryke vrugte-afval.

In ’n smaaktoets is gevind dat die vleis van beeste wat sitrus- of druiwepulp gevoer is, sowat 10% taaier was as dié van die bulle op die semelrantsoen. Die vleis van beeste wat vrugte-afval gevoer is, het ’n beter profiel ten opsigte van gesonde vetsure en geurkomponente.