Volgens me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, is dit die eerste keer dat dié verwoestende pes in die Oos-Kaap aangeteken is.

Die siekte het in 2019 nagenoeg 30% van die wêreld se varkbevolking laat vrek, met China –  die wêreld se grootste varkprodusent –  wat 40% van sy varkkudde weens die siekte verloor het.

“Die uitbreking kom in die kommunale areas voor, wat die beheer van beweging en biosekerheid tussen verskillende varkkuddes moeilik maak. Die huidige beheermaatreëls sluit in dat alle besmette varke alleen en so ver moontlik weggehou word van nie-besmette varke,” sê Didiza.

Die departement se veeartsenydienste het op 13 April ’n ondersoek en nadoodse ondersoeke by vyf informele nedersetting in die plaaslike munisipaliteit Mnquma binne die distriksmunisipaliteit Amathole uitgevoer. Altesaam 50 varke het in die omgewing gevrek.

Uitbrekings van die siekte is die afgelope drie jaar reeds op plekke buite die Afrikavarkpes-beheerarea in die Vrystaat, Noordwes, die Noord-Kaap, Gauteng en Mpumalanga aangeteken. Daar moet nog vasgestel word of dié uitbreking met enige uitbrekings in ander provinsies verbind kan word.

Volgens die departement vrek omtrent alle besmette varke weens die virus. Algemene kliniese tekens sluit bloeding op die vel en asemhalingsprobleme in. Daar is geen entstof en geen behandeling teen die siekte nie.

Die siekte kan na varke oorgedra word van besmette wilde of mak varke, asook besmette, sagte bosluise, aanraking met mense, voertuigtoerusting of skoene en die vreet van besmette afvalkos, voer of vullis.

Volgens die departement moet kommersiële varkplase wat varke binne die area aan slaghuise lewer, die nodige gesondheidsverklaring hê wat verklaar waar die varkkudde vandaan kom, dat die varke nie tekens van die siekte toon nie en dat daar geen toename in varkvrektes aangeteken is nie. Kommersiële varkplase word aangemoedig om te voldoen aan die biosekerheidstandaarde ten opsigte van kompartementalisering om hul varkplase te beskerm teen besmetting met die siekte.