Die kongres sou van 30 Junie tot 2 Julie in Jeffreybaai gehou word aangesien dit vanjaar die Oos-Kaap se beurt was om dit aan te bied. Dit vind steeds dié tyd plaas, maar word totaal virtueel aangebied.

Dr. Debbie Jewitt, voorsitter van die vereniging, sê die sprekers gaan ’n skriftelike aanbieding en video-opname van hul lesings maak wat op die bestemde tye aangebied sal word, soos wat gewoonweg op ’n kongres gebeur. Die verskil is dat die sessievoorsitters, sprekers en kongresgangers almal tuis is.

Die sprekers sal ook aanlyn beskikbaar wees om vrae te beantwoord en aan paneelbesprekings deel te neem.

Sy sê die lede se veiligheid is belangrik; daarom hou hulle eerder ’n virtuele kongres. Die kongrestarief sal aangepas word en lede bespaar ook geld omdat hulle nie hoef te reis en vir verblyf hoef te betaal nie.

Hulle hoop om 350 registrasies te kry, maar die vereniging sal die vermoë hê om 10 000 besoekers te akkommodeer. Deelnemers moet oor ’n stabiele internetverbinding beskik.

Die kongres gaan onder meer konsentreer op vordering in weiveldbestuur, veldherstel, voeding, aangeplante weidings, weiding in droogtetoestande, wildboerdery, natuurbewaring en toerisme.

Landbouweekblad gaan die kongres virtueel bywoon en verslag vir sy lesers doen.

Navrae: info@grassland.org.za, https://2020gssa.dryfta.com/index.php.