Dr. Minnaar Lyell, ’n veearts in Cradock, sê hy waarsku boere al die afgelope ses maande om hul skape teen die siekte in te ent vanweë die goeie reënval in die binneland. “Dit is egter nog nie te laat om te ent nie.”

Hy herinner boere daaraan om dragtige diere met dooie entstof en nie-dragtige diere met lewende entstof in te ent.

Volgens Lyell is geeldikkop ’n probleem weens die duwweltjies wat ná die goeie reën in die veld groei.

Hy sê uitwendige parasiete begin toeneem en dat boere veral paraat moet wees teen rooiwater en galsiekte. Hoewel Cradock nie in hartwatergebied val nie, glo hy die siekte sal een of ander tyd begin kop uitsteek in die gebied omdat vlakvarke en wild inkom van gebiede waar die siekte wel voorkom.

Dr. Casper Troskie, ’n veearts van Aliwal-Noord, sê daar is nie werklik buitengewone gevalle van siekte-uitbrekings weens die hoër reënval nie. Die voorkoms van bloutong onder skape raak wel problematies. Boere moet ook waaksaam wees teen driedaestywesiekte.

Hy sê die natter toestande bring probleme met bosluisgedraagde siektes. Kouer toestande kan ook daartoe bydra dat verlammingsbosluis ’n probleem raak.

Ander siektes

Dr. Dave Watermann, ’n veearts van Stutterheim, sê knopvelsiekte en bloutong is ’n bron van kommer in dié gebied, veral ná die goeie reën. Daar is egter nie drastiese veranderinge te bespeur nie.

Hy sê die meeste boere weet hoe om bosluissiektes te bestuur. “Ek word nie meer so baie uitgeroep vir enkele gevalle nie, aangesien die boere weet hoe om gevalle te hanteer en hoe om voorkomend op te tree.”

Hy waarsku dat bosluisgedraagde siektes, soos rooiwater, hartswater en galsiekte, weens die goeie reënval probleme kan veroorsaak. “Met die vyf jaar van droogte was diere nie so blootgestel aan bosluise soos normaal nie, wat beteken diere het dalk minder weerstand teen die siektes opgebou.”

Met paartyd wat nou voorlê, maan hy boere om die regte protokol vir inenting voor paring te volg.