Alle vee-eienaars word aangemoedig om hul vee teen dié virus in te ent.

Die Nasionale Dieregesondheidsforum (NDGF) en die dieregesondheidsmaatskappy Afrivet (’n borg) sê dit is nie eens nodig om die belangrikheid van slenkdalkoors as ’n gevaarlike siekte te beskryf nie. Die virus maak verskeie diersoorte siek. Skape word die ergste aangetas, maar bokke, beeste en selfs buffels kan die siekte opdoen.

Die NDGF en Afrivet se tegniese span sê mense kan ook besmet raak, hoofsaaklik wanneer ’n mens ’n siek of dooie dier hanteer. ’n Jong staatsveerts is ’n paar jaar gelede in die Oos-Kaap weens slenkdalkoors dood en dit beklemtoon waarom dit ’n aanmeldbare sieke is. Die laaste geval van slenkdalkoors in Suid-Afrika is in Mei 2018 by Jacobsdal in die Vrystaat aangemeld.

Die forum sê ideaal gesproke moes die entstof reeds in die vroeë lente toegedien gewees het, maar dit is nog nie te laat nie. Dit is van groot belang dat die entstof spoedig toegedien word aangesien die meeste uitbrekings in die hoog- en laatsomer plaasvind.

Die enigste manier om die verspreiding van die siekte en die besmetting van lewende hawe te voorkom, is om diere in te ent teen slenkdalkoors en om muskietbyte te voorkom deur produkte te gebruik wat geregistreer is vir die bekamping van muskiete (gewoonlik dippe, sproeie en opgietmiddels wat deltametrien bevat). Jaarlikse inenting teen die siekte is die doeltreffendste en maklikste uitweg om uitbrekings te voorkom.

Die NDGF wys daarop dat Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) tans twee entstowwe vervaardig.

Die een is OBP se lewende entstof teen slenkdalkoors wat die Smithburn-stam bevat. Hoewel geglo word dat hierdie entstof ’n lang tydperk van beskerming bied, word jaarlikse inenting sterk aanbeveel. Hierdie entstof moet nie tydens uitbrekings van slenkdalkoors gebruik word nie aangesien rekombinasie met die veldstam kan geskied en die uitbreking vererger. Hierdie entstof moet ook nie vir dragtige diere gegee word nie.

Die tweede is OBP sê geïnaktiveerde entstof teen slenkdalkoors, wat ’n jaarlikse inenting benodig en veilig is om by dragtige diere te gebruik. As diere die eerste keer ingeënt word, word twee dosisse ses weke uitmekaar gegee, wat die inenting duurder en meer arbeidsintensief maak.