Vraag

Hoe kan ek die gebruik van antibiotika verminder en verseker dat weerstand teen antibiotika nie ontwikkel nie? Ál meer beroepe word gedoen om die gebruik van antibiotika te verminder.

Raad

Die doel is nie ’n verbod nie, maar om versigtig met die gebruik daarvan om te gaan. Sodoende sal die doeltreffendheid van die middels verleng word, en sal daar aan die residu-regulasies (opspoorbaarheid van antibiotika in vleis, organe en melk ná toediening daarvan) voldoen word. Sommige ontleders voorspel dat antibiotika slegs vir ’n eeu doeltreffend gaan wees.

WAT IS DIE OORSAKE VAN BAKTERIËLE WEERSTANDIGHEID?

Bakteriële faktore

Bakterieë en die selle in ons liggaam is dieselfde op grond van die manier waarop hulle vermeerder. Hulle verdubbel in grootte en verdeel dan in twee ewe groot helftes. Hulle dra ook hul genetiese materiaal in DNS. Bakterieë dra egter dikwels ook ’n plasmied, wat ’n klein ekstra sirkel van DNS is. Die plasmied én die normale gene dra antibiotikaweerstandbiedende gene.

Wanneer die bakteriese sel vermeerder, verdubbel die plasmied om twee sirkels te vorm, en een eindig op in elk van die nuwe bakteriële selle. Een plasmied dra dikwels weerstandbiedende gene vir baie verskillende soorte antibiotika.

Farmaseutiese faktore

Baie min nuwe antibiotika word tans ontwikkel. Antibiotika moet bakterieë aanval en nie menslike en dierlike selle nie, anders sal hulle te toksies vir gebruik wees.

Navorsing om uit te vind wat versteuring in bakteriële verdeling kan bewerkstellig, het al daartoe gelei dat nuttige antibiotika ontwikkel is. Die huidige navorsing is hoofsaaklik daarop gemik om bestaande antibiotika te verander om hul werksaamheid te verbeter, en nie om nuwe antibiotika te vervaardig nie, wat baie duur is.

WAT DIE BOER KAN DOEN

Dosering

Antibiotika moet altyd in die korrekte dosis toegedien word. Onderdosering beteken dat die dier nie behoorlik behandel is nie, en weerstand ontwikkel dan makliker. Die gebruik van ’n laer dosis om geld te bespaar is ’n onjuiste ekonomiese beginsel. Die gebruik van antibiotika “vir die wis en die onwis” moet ook tot elke prys vermy word.

Biosekerheid

Wanneer ’n dier aangekoop word, word dit gewoonlik vir ’n tydperk onder kwarantyn geplaas om seker te maak dit is nie die draer van siektes nie. Siektevrye diere kan nogtans ’n normale aantal bakterieë huisves wat weerstandige gene dra. Hierdie gene kan oorgedra word na bakterieë, wat kwessies op die plaas kan veroorsaak. Dieselfde antibiotikum wat jare lank gewerk het, is nou nie meer doeltreffend nie.

Bakterieë kan ook na die plaas gebring word deur besoekers, vragmotors en vrylewende knaagdiere. Talle bakterieë kan deur ’n enkele persoon of knaagdier na lewende hawe versprei word. Beperk dus besoekers en ontsmet voertrokke en ander voertuie voordat hulle jou boerderyeenheid binnekom. Knaagdierbestryding en bygewerkte biosekerheidsmaatreëls is tans ’n móét vir ’n suksesvolle boerderyeenheid.

Beheer of beperking van antibiotikagebruik

Dié beginsel word reeds deur die meeste boere toegepas. ’n Onttrekkingstydperk is die tyd wat moet verloop tussen die laaste behandeling en bemarking. Dié tydperk word in die voubiljet van die produk aangedui. Elke antibiotikum bly vir ’n korter of langer tydperk in die liggaam, en dit verskil vir verskillende spesies en verskillende produkte soos vleis, melk of eiers. Die streng nakoming van die onttrekkingstydperk is ’n groot stap vorentoe in die bemarking van antibiotikavrye produkte.

Ondersoek jou produksiestelsel krities vir nakoming. Pleks daarvan om antibiotikabedekking vir lang tydperke voorkomend toe te dien, gebruik die antibiotika eerder vir ’n kort tyd tydens kritieke tye nét voordat diere moontlik siek kan word. As ’n paar diere daarna siek word, kan hulle individueel behandel word.

Higiëne

’n Enkele bakterium sal selde siekte veroorsaak. Daar moet gewoonlik ten minste 100 bakterieë of selfs 1 000 en meer teenwoordig wees voor ’n dier siek begin word. Higiëne is dus baie belangrik by siektebekamping en -voorkoming. Mis en etter bevat miljoene bakterieë. Deur albei so vinnig moontlik te verwyder, word die siekterisiko verminder.

Knaagdiere dra baie bakterieë en besmet voer met hul urine en mis as hulle nie bekamp word nie. Alles-in-alles-uit-stelsels verlaag die opbou van weerstandige bakterieë op ’n plaas.

Higiëne in die melkstal. Maak seker dat die ontsmettingsmiddels waarmee die toerusting en stal gewas word, in die regte konsentrasie gebruik word. Die melkmasjien moet volgens die vervaardiger se standaarde gebruik en ontsmet word. Koeie met mastitis moet laaste gemelk word. Om mastitismelk aan kalwers en ander produksiediere te gee, is nie ’n goeie praktyk nie.

Bakterieë vermeerder vinnig in melk wat vir ’n uur of langer by kamertemperatuur staan. Die verspreiding van bakterieë van behandelde uierkwarte op die plaas versprei ook weerstandige bakterieë, want die lae antibiotikavlakke in mastitismelk lei daartoe dat weerstandige gene in bakterieë ontwikkel.

Veedigtheid moet optimaal bestuur word. Die bakterieë wat longontsteking veroorsaak, word uitgehoes of uitgeasem. Diere wat in noue kontak met mekaar is, kan dodelike getalle kieme inasem. Diere wat versprei is en waar daar nie oorbevolking is nie, sal slegs ’n paar bakterieë inasem.

Besmette water. Water kan virulente bakterieë bevat. Dit kan seisoenaal van aard wees, met ’n hoër konsentrasie van bakterieë gedurende droogtetye. Chloorbehandeling van water sal die getal bakterieë verminder. Dit kan strategies gedoen word gedurende droë seisoene en kritieke tye.

Voorkoming van siektes deur diere te immuniseer, is ’n gebruik wat die meeste boere getrou navolg. Entstowwe teen dieresiektes is geredelik beskikbaar in Suid-Afrika. Die rasionele gebruik van antibiotika beteken nie dat die gebruik daarvan verbied word nie. Daar moet egter besef word dit het ’n skaars hulpbron geword, en dat daar baie is wat boere kan doen om die uitwerking van antibiotikaweerstand teen te werk. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.