Om die bobbejaankwessie suksesvol te takel is soos om die oseaan met ’n koppie te probeer leeg skep. Ek gee egter idees, want dis al wat ek kan doen.

Die probleem is dat die bobbejane die kos ontdek het en dit nou as ’n maklike voedselbron sien. Die bobbejane sal elke dag soontoe kom totdat die voedselbron nie meer beskikbaar is nie, wat beteken die boer sal moet ophou om voer aan die skape te verskaf. Dis bloot nie uitvoerbaar nie.

Bobbejane is gelukkig baie intelligente diere en daar is bewyse dat hulle logies kan redeneer. Dus stel ek voor dat ’n paar dinge gelyktydig probeer word, en hoop vir die beste.

Wanneer die kos vir die skape uitgesit word, is dit wenslik dat iemand agterbly sodat ’n menslike teenwoordigheid die bobbejane kan weghou.

Die klap van ’n sweep of selfs die afvuur van ’n vuurwapen in hul rigting kan help om kees en kie te ontmoedig. Dit hoef nie die hele dag te duur nie, maar slegs vir die eerste uur of wat nadat die kos uitgesit is. Om die klomp met ’n kettie en klippe te probeer verwilder kan ook suksesvol wees. Niemand, bobbejaan se kind inkluis, hou van ’n warm klip op die lyf nie.

Terwyl dit gedoen word, is dit die moeite werd om vir die kese ander kos, weg van die gebied waar die skape gevoer word, aan te bied. Daar is waarskynlik afvalkos of uitskotgraan wat gebruik kan word. Plaas dit op ’n plek waar die bobbejane dit maklik kan raaksien. Hulle behoort die plek gereeld te besoek, en as daar genoeg kos neergesit is, sal die klomp hopelik die boer se skape in vrede laat.

Ek wil my dank uitspreek teenoor die skrywer wat die situasie met ’n oop gemoed en simpatiek teenoor die bobbejane benader. Dit is bemoedigend om te sien dat landbouers die natuur se welstand ernstig opneem. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.