So maan dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die Nasionale Dieregesondheidsforum.

Hy sê hoewel snotsiekte nie meer ’n beheerde siekte is nie, is dit op die Direktoraat van Dieregesondheid se lys van aanmeldbare siektes. Dit is dus ’n vereiste dat boere uitbrekings by hul staatsveeartse aanmeld.

Prof. Moritz van Vuuren, emiritus-professor in virologie by die departement van subtropiese siektes aan die Universiteit van Pretoria se fakulteit veeartsenykunde, het vroeër op ’n snotsiekte-inligtingsdag gesê boere moenie moedeloos raak en dink die staat het nie erns met die siekte nie. Van Vuuren sê die direktoraat se lys van aanmeldbare siektes is juis daar sodat die staat sy vinger op die pols van ontwikkelinge rondom spesifieke siektes kan hou.

Van Vuuren wys daarop daar is ongelukkig ’n erge onder-vermelding van die siekte en baie boere en veeartse versuim om die voorkoms daarvan by die direktoraat of selfs by die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVasa) aan te meld. Tans is daar dus nie genoeg uitbrekings om te regverdig dat snotsiekte van aanmeldbaar na ’n beheerde siekte, soos tuberkulose, brucellose, slenkdalkoors of hondsdolheid, te skuif nie.

Die Limpopo-dieregesondheidsforum het onlangs sy lede versoek om inligting by te hou van snotsiektevrektes onder hul beeste en aan die forum verslag te doen.

Werk eerder saam

Vervoort sê hy sal graag wil sien dat boere ook op so ’n databasis aandui watter stappe hulle gedoen het om die risiko van uitbrekings saam met hul bure te bestuur. Dit sal ’n goeie aanduiding van die voordele van samewerking wees.

“Dit is belangrik dat ons databasisse opbou tesame met die vermelding van aanmeldbare siektes aan die staat, maar boere moet onder mekaar doen wat hulle kan om uitbrekings te voorkom,” sê hy. “Dit is nie net belangrik vir plaasveiligheid nie, maar ook vir biosekuriteit.”

Vervoort stel voor dat bure ook hul veearts by die gesprek betrek en dat hulle saam ’n plan beraam om die omgewing se dieregesondheidsrisiko’s te bespreek. Hy sê daar kan byvoorbeeld ooreengekom word om, waar moontlik, beeste en wildebeeste na kampe te skuif wat nie aangrensend is nie wanneer die blouwildebeeste kalf. Die snotsiektevirus, wat ’n soort herpesvirus is, breek uit wanneer diere onder stres is, soos wanneer hulle kalf.

“In Oos-Afrika leef beesboere al vir eeue sonder heinings met wildebeeste saam en hulle gebruik dié basiese bestuursbeginsels om hul verliese tot die minimum te beperk,” sê Vervoort. Hy waarsku egter ook dat intensiewe teling met wildebeeste in klein kampies tot permanente stres kan bydra.

'n Plan uit Zimbabwe

Vervoort vertel van ’n medeveearts in Zimbabwe by wie ’n beesboer om hulp kom aanklop het nadat hy beeste verloor het aan snotsiekte, wat deur blouwildebeeste op sy eie grond versprei is. Die boer was gereed om sy hele wildebeeskudde uit te skiet toe die veearts aanbeveel dat hy elke jaar net genoeg wildebeeste skiet om op te maak vir sy beesverliesse.

Die boer het vyf jaar later gesê om die verliese van sy wildebeeste te verhaal was die beste ding wat hy kon doen. Sy uitbrekings het verminder omdat die wildebeeste nou skrikkerig is vir mense wat met die beeste geassosieer word en ’n veilige afstand van die beeste hou. Boonop het sy wildebeeskudde gegroei nadat hy van die ouer diere, veral bulle, uitgeskiet het. “Selfs onder bure is so ’n reëling ’n baie goedkoper en vriendeliker oplossing as om in die howe te baklei,” sê Vervoort.