Tegnologie is belangrik vir individuele rooivleisprodusente en lande om internasionaal mededingend te bly, volgens buitelandse en plaaslike kenners wat einde verlede jaar deelgeneem het aan die LRF-Veeskool, wat weens die Covid-19-pandemie virtueel aangebied is.

Die jaarlikse LRF-Veeskool word deur die Lewendehawe-registrerende Federasie (LRF), Breedplan en Landbouweekblad aangebied, en is waardevol vir veeboere en ander belangstellendes deurdat dit noodsaaklike inligting aan die rooivleisbedryf oordra. Die tema vir 2020 was: Terug na die basiese beginsels. Verskeie tegnologiese hulpmiddels is bespreek.

GENOMIKA SE BYDRAE

Die rol van genomika is deur mnr. Christian Duff, strategiese projekbestuurder van Angus Australië, toegelig.

Genomika beskryf ’n reeks DNS-gebaseerde tegnologieë wat te doen het met die struktuur, funksie, evolusie en kartering van genome (die volledige stel gene in ’n organisme).

Duff het gesê genomiese profiele (enkelnukleotiedpolimorfismes, oftewel SNP’s) alleen het min of geen waarde in seleksie by lewende hawe. Om waarde daaruit te put, moet vee met genomiese profiele aan ’n verwante groep diere met genotipiese en fenotipiese eienskappe (’n genomiese verwysingsgroep) in die teel- of seleksiedoelwit gekoppel word.

Hy het die waarde van genomiese ontledings aan die hand van die afronding van beeste in ’n voerkraal verduidelik. Angus Australië bedryf ’n genomies gebaseerde projek, Angus SteerSELECT, wat daarop gemik is om sy lede se bestuur te verbeter, onder meer die uitkies van die beste osse vir die voerkraal. Hulle werk nou saam met die CSIRO, Australië se agentskap vir wetenskapsnavorsing.

Volgens Duff is SteerSELECT ’n hulpmiddel wat boere in staat stel om die risiko te verminder dat diere swak in die voorsieningsketting (voerkrale ingesluit) presteer.

Die osse word op eenjarige ouderdom op die plaas geweeg. In die voerkraal word die gemiddelde daaglikse gewigstoename (GDT) en inname van droëmateriaal (DM) gemeet.

By die abattoir word die karkas geweeg en die marmering, oogspieroppervlakte, ribvet en ossifikasie (beenvorming) gemeet. Daar word ook ’n onderskeid getref tussen lang en kort voertye.

Goeie vordering is reeds gemaak met na- vorsing oor groei- eienskappe. Om relevant in die vleisbedryf te bly, moet telers ook klem lê op vrugbaarheid. FOTO: CHARL VAN ROOYEN

Gesondheid en welsyn word gemonitor

Ontleding van die data het getoon hoe ’n groot verskil daar tussen diere kan wees. Osse wat oor ’n lang tydperk gevoer is (met die ooreenstemmende syfers vir osse wat korter gevoer is tussen hakies), het 17% (15%) verskil met die laagste en hoogste GDT, 12% (15%) met DM-inname, 8% (10%) met karkasgewig, 23% (14%) met marmering, 28% (27%) met ribvet, 9% (11%) met oogspieroppervlakte, 10% (10%) met ossifikasie en 17% (16%) met karkaswaarde.

Ontledings het getoon ná ’n lang voertydperk het die beste 25% karkasse 32 kg swaarder as die swakste 25% karkasse geweeg, terwyl die ooreenstemmende verskil ná ’n korter voertydperk 41 kg was.

Haarmonsters word nou ontleed om vas te stel watter beeste vinnig in ’n voerkraal gaan groei. Dit gaan gepaard met die bou van ’n verwysingsbevolking, sê Duff. Die koste per dier is ongeveer R500-R600. Indien ’n DNS-profiel slegs vir voerkraalgebruik ontwikkel kan word, is dit baie goedkoper. Duff het gesê hul navorsing bewys dat genomika die veebedryf ’n verdere hupstoot kan gee.

GEBRUIK BTW’S REG

Beraamde teelwaardes (BTW’s) ís ’n kragtige werktuig vir teling, maar die teler moet weet hoe om dit aan te wend, het me. Izaan du Plooy, tegniese adviseur van die LRF, gesê.

Sy het gepraat oor die waarde van seleksie gegrond op beraamde teelwaardes. Sy het verwys na skeptiese mense wat soms vra of hulle BTW’s en die wetenskap kan vertrou en genetiese vooruitgang sal maak as hulle hul vervangingsdiere volgens BTW’s selekteer.

Sommige telers doen seleksie volgens fenotipiese eienskappe, maar dit is onmoontlik om te sê watter een van twee mooi bulle geneties die beste bul is. Fenotipe word deur die omgewing beïnvloed, byvoorbeeld reënval, temperatuur en weiding. Daarom is dit moeilik om te onderskei tussen die genetiese meriete van ’n dier vir bepaalde eienskappe en die omgewing se invloed op die prestasie van die betrokke eienskap.

Du Plooy het seleksie op grond van BTW’s aan die hand van ’n voorbeeld verduidelik. Bulkalwers met ’n BTW vir speengewig met ’n akkuraatheid van 75% is in twee groepe verdeel. Die boonste 50% bulle was beter gemeet aan speengewig as die ras se gemiddelde (>+16 kg), en die onderste 50% bulle was benede die ras se gemiddelde (<+16 kg).

Die bulkalwers in die boonste 50% het op gemiddeld 284 kg gespeen, terwyl die bulle in die onderste 50% op gemiddeld 246 kg gespeen het. Die verskil van 38 kg toon dat as ’n teler bulle met ’n goeie BTW vir speengewig selekteer, hy swaarder kalwers sal speen. Die koei dra uiteraard ook 50% tot hierdie verbeterde prestasie by.

In hierdie proef is ook gekyk of die bulle se nageslag dieselfde neiging toon. Die beste 50% bulle se kalwers het oor ’n tydperk van jare gemiddeld teen 244,37 kg gespeen, met ’n BTW van +18,58 vir gemiddelde speengewig. Daarteenoor het die onderste 50% bulle se nageslag teen gemiddeld 231,38 kg gespeen – ’n BTW van +11,31 kg.

Du Plooy het dieselfde neiging met 200-dae-gewig waargeneem. BTW’s is vir bulle van ’n ongespesifiseerde ras bereken wat van 2008 tot 2013 gebore is. Syfers van bykans 25 800 bulle is ontleed. Die bulle met ’n BTW vir speengewig met ’n akkuraatheid van meer as 75% is uitgekies.

Al ses groepe bulle (volgens geboortejaar) wat bokant die rasgemiddelde was, het swaarder as die groep onder die rasgemiddelde gespeen. Die verskil het van 12-30 kg gewissel. Ook hul nageslag het swaarder gespeen; onderskeidelik gemiddeld 14,52 kg vir die bulle bokant die rasgemiddelde en 9,18 kg vir die bulle onder die rasgemiddelde.

“Daar is dus genoeg bewyse dat BTW’s wel werk. Dit is belangrik dat telers hierdie hulpmiddel ten volle benut,” volgens Du Plooy.

Genomika sal die wetenskap help om nóg vinniger met hierdie eienskappe te vorder. Dit geld veral eienskappe wat moeilik is om te meet, soos voerdoeltreffendheid, vleisgehalte en melk.

Mnr. Christian Duff FOTO: VERSKAF
Me. Izaan du Plooy FOTO: LRF
Dr. Brad Walmsley FOTO: Verskaf
Mnr. Matt Wolcott FOTO: verskaf

VOERDOELTREFFENDE BEESTE

Beeste wat in voerkrale en op weidings minder voer nodig het om hul teikengewig te bereik, bring vir die boer meer geld in die sak omdat hul residuele voerinname (RVI) beter is as beeste wat baie moet vreet om dieselfde teiken te behaal.

Dr. Brad Walmsley van die eenheid vir dieregenetika en teling aan die Universiteit van New England in Australië het oor die voordele van seleksie vir voerdoeltreffendheid in voerkrale en op weiding gepraat.

Die grootste uitgawe in beesvleisproduksie is voerkoste. Daarom moet weiding of voer so doeltreffend moontlik benut word en moet die boer diere aanhou wat so voerdoeltreffend moontlik is – op weiding én in voerkrale. Dit beteken diere word verkies wat minder voer as die res nodig het om teen ’n sekere tempo te groei.

Anders gestel, só ’n dier het minder kos nodig om meer vleis te produseer. ’n Groot aantal faktore beïnvloed voerinname, naamlik omgewing, groeitempo, volwassenheidspatroon, byvoorbeeld laat- of vroegrypbeeste, die doeltreffendheid van weefselgroei, die opname van voedingstowwe, aktiwiteitsvlak, teikengewig of gewig wat gehandhaaf moet word, en metaboliese tempo.

Hy het RVI verduidelik as die verskil tussen die werklike en voorspelde voerinname. Dit is die beste manier om voerdoeltreffendheid te verbeter. RVI is net so oorerflik as groei-eienskappe en bied die geleentheid om daarvoor te selekteer om genetiese verandering in diere se nageslag teweeg te bring.

Volgens Walmsley wys navorsing dat diere wat in ’n voerkraal doetreffend is, se nageslag ook op die veld doeltreffend is. Hy het telers egter afgeraai om vir ’n enkele eienskap te selekteer, en aangemoedig om eerder vir verskeie eienskappe te selekteer.

Lae RVI het ook ’n lae tot matige korrelasie met karkasvet, maar het geen tot ’n lae korrelasie met groei. Diere met ’n lae vlak van RVI het effens minder tussenspierse vet (marmering) en vet onder die vel.

’n Voerkraal bespaar heelwat geld met beeste wat ’n gunstige RVI het. Volgens ’n Australiese ondersoek met twee groepe beeste het ’n voerkraal minder uitgawes aan voer gehad met ’n groep met ’n lae (gunstige) RVI, vergeleke met ’n groep beeste met ’n hoë RVI oor ’n tydperk van 120 dae.

Albei groepe se GDT was 1,54 kg per dag. Die groep met ’n lae RVI het 13,2 kg voer per bees per dag gevreet teenoor 15,7 kg voer per bees per dag vir die groep met die hoë RVI. Dit was ’n besparing van R1 061,28 per bees in die voertyd van 120 dae. In ’n ander ondersoek het die besparing op voer met lae-RVI-beeste oor ’n seleksietydperk van 25 jaar van R88 tot R385 per bees toegeneem.

Walmsley het gesê die lae-RVI-beeste het ook 15-30% minder metaangas vrygestel. Beeste met ’n laer RVI is ook voordelig op weidings.

Dr. Paul Arthur, ook van Australië, het reeds in die 1990’s bewys dat bulle wat goed in ’n voerkraal presteer, se nageslag ook goed op die veld sal presteer.

In ’n nuwe proef met 100 koeie op raaigras en swenkgras is vasgestel die speenkalwers met ’n lae RVI het ’n hoër GDT op die veld gehandhaaf (618 g per dag teenoor 577 g per dag). Dié diere se nageslag in die voerkraal was ook doeltreffender (1 093 g teenoor 1 144 g voer gevreet, dit wil sê 5% doeltreffender). Die nageslag het in albei gevalle op die veld én in die voerkraal meer gegroei en minder gevreet.

Suid-Afrikaanse, Australiese en Zimbabwiese veekenners het verduidelik hoekom tegnologiese beginsels belangrik is sodat plaaslike veeproduksie internasionaal mededingend kan wees. FOTO: CHARL VAN ROOYEN

VERBETER REPRODUKSIETEMPO

Mnr. Matt Wolcott van die eenheid vir dieregenetika en -teling in Australië het oor seleksie vir die verbetering van die reproduksietempo by tropiese vleisbeesrasse gepraat, met verwysing na navorsing wat van 2000 tot 2014 deur Beef CRC (die navorsingsentrum vir vleisbees-genetikategnologie) gedoen is.

Die navorsing was in verskillende fases, waaronder oskarkas en verspuberteit, en herbesetting van koeie, reproduksie oor ’n leeftyd en liggaamsamestelling. Die proef was met ses kuddes Brahmane bestaande uit 1 030 vroulike diere, vier saamgestelde rasse (Santa Gertrudis, Brangus, Braford en Beefmaster-kruisings) met 1 130 beeste en die nageslag van 50 Brahman- en 50 kruisrasbulle.

Die vroulike diere se reproduksie is noukeurig aangeteken en die halfsibbroers is op 540 kg in voerkrale afgerond.

Die verse was op tweejarige ouderdom drie maande lank in ’n dekprogram. Al die vroulike diere is tot ses dektye lank in kommersiële toestande bestuur en koeie wat nie ’n kalf gespeen het nie, is geslag. Die verse is aanhoudend vir corpus luteum-eierstokontwikkeling geskandeer (2-16 keer per vers).

Die koeie se manlike nageslag se semengehalte is op 12, 18 en 24 maande getoets en die spermmorfologie is gemeet.

Die gemiddelde speensyfer van die Brahmane was 62% en dié van die kruisrasse 78%, met ’n oorerflikheid van onderskeidelik 11% en 7%.

Ouderdom van puberteit (vanaf speen totdat die corpus luteum ontwikkel het) is egter hoog oorerflik (50-60%).

Die ondersoek was in uiters marginale gebiede waar min ander rasse gebruik word. Van die Brahmanverse wat op tweejarige ouderdom gepaar is, het slegs 50% op hitte gekom, maar van dié 50% het 90% dragtig geraak en 72% het ’n kalf gespeen.

Daar is dus groot ruimte om deur middel van seleksie die Brahmane se vrugbaarheid op ’n jong ouderdom te verhoog.

Dieselfde geld spermtellings. Op 18 maande is bulle se persentasie normale sperm reeds 30% oorerflik, terwyl dit op 12 maande glad nie oorerflik is nie.

NAVRAE: Mnr. Christian Duff, e-pos: christian@angusaustralia.com.au; me. Izaan du Plooy, e-pos: izaan@lrf.co.za, 076 217 7819; dr. Brad Walmsley, e-pos: brad.walmsley@dpi.nsw.gov.au
Mnr. Jaco Maass FOTO: BKB
Dr. Mario Beffa FOTO: CHARL VAN ROOYEN

IDENTIFIkasie EN NASPEURING NOODSAAKLIK

Die groot kwessie vir die Suid-Afrikaanse veebedryf is om ’n stelsel vir die volle identifikasie en naspeurbaarheid van vee te begin. Die veebedryf werk tans aan die vestiging van LITS Afrika (Livestock Identification and Tracebility System).

Mnr. Jaco Maass, hoofbestuurder van Shift DX, ’n onafhanklike digitale filiaal van BKB, het gesê só ’n stelsel sal die veebedryf se potensiaal verder ontsluit en ontwikkeling en bestuur ’n hupstoot gee.

BKB werk al die afgelope tien jaar lank om opkomende boere se potensiaal te ontsluit. In dié tyd het hy sowat 35 000 wolboere gehelp om hul boerderytegnieke en boerderye uit te brei, waardeur hulle R200 miljoen per jaar verdien. Hierdie boere besit gesamentlik 10% van BKB.

Datagedrewe kunsmatige intelligensie-modelle gaan in die toekoms gebruik word om finansieringsmodelle te ontwikkel wat deur blokkettingtegnologie ondersteun word. Blokketting verleen deursigtigtigheid, naspeurbaarheid en vertroue in ’n produksiestelsel. In die geval van wolproduksie word elke stap waardeur wol deur die ketting gaan, op ’n verspreide grootboekstelsel bygewerk. Met blokkettingtegnologie het almal toegang tot die data, is daar konsensus oor die data en niemand kan daaraan verander nie.

Kommunale boere besit 40% van Suid-Afrika se beeste, hoewel 60% van kommersiële boere se beeste 80% van die waarde van totale markkapitalisasie van sowat R60 miljard uitmaak.

ZIMBABWE SE STELSEL

Dr. Mario Beffa, hoofbestuurder van die Zimbabwe Herd Book (ZHB), Zimbabwe se stamboekliggaam, het vertel hoe Zimbabwe se diere-identifikasie-en-naspeurbaarheidstelsel (AITS) werk.

Dit is deur die lewendehawe-en-vleisadviesraad (LMAC), waarvan die ZHB deel is, ontwikkel om te verseker dié land se vleisbeesbedryf voldoen aan die internasionale vereistes vir voortgesette handel in beesvleis en beesvleisprodukte, veral in die Europese Unie.

Die naspeurbaarheidstelsel is nodig omdat daar wêreldwyd kommer by verbruikers is oor siektes, vleisveiligheid en dieresorg. Dit is ’n vrywillige stelsel en wentel om die vermoë om die beweging van vee vanaf die plaas na ’n abattoir te monitor. Dit sluit die plaas in waar die dier gebore is en ander plase waar dit was voor dit geslag is.

Elke dier word van twee eiesoortige oorplaatjies (een vir elke oor) voorsien, met ’n tiensyfernommer wat op die oorplaatjies gedruk is. Inligting oor die dier se geboortedatum, ras en ouers word in ’n rekenaarstelsel in AITS se kantoor bewaar.

Beffa het gesê toe malbeessiekte in 2002 en 2003 in Amerika uitgebreek het, het die Amerikaanse uitvoer van beesvleis drasties gedaal. Dit het tien jaar geduur om weer die oorspronklike vlak te bereik.

“Dit is hoekom ’n identifikasie-en-naspeurbaarheidstelsel so belangrik is, want ’n land (of streek) kan dit gebruik om aan verbruikers en die mark te toon sy produkte word nie deur ’n bepaalde gebeurtenis geraak nie, soos gebeur het toe die hele Amerika as besmet beskou is.”

By ’n stelsel soos Zimbabwe se AITS is daar ’n groot aantal betrokkenes wat saam ’n ogie oor die bedryf hou – van die boer tot die polisie. Beffa het die funksionering daarvan as doeltreffend en betroubaar bestempel. Buiten dat dit die beweging van diere beheer, het dit ook die bekamping van siektes verbeter, risiko’s verlaag, voedselveiligheid verbeter, groter verbruikersvertroue gebou, beter kuddebestuur moontlik gemaak en toegang tot markte verbeter.

Dit bevorder ook waardetoevoeging, verminder veediefstal en maak prestasie-aantekening moontlik. “Só ’n stelsel hang egter af van hoe dieregesondheid en siektes bestuur word, die vroeë aanmelding en hantering van siekte-uitbrekings en inenting.

“Op die gebied van voedselveiligheid moet gewaak word teen residu van swaar metale, antibiotika en plaagdoders, die nakoming van onttrekkingstye, en die bestuur van voorvalle waar voedselveiligheid in die gedrang gebring is,” het Beffa gesê. 

NAVRAE: Mnr. Jaco Maass, e-pos: jaco.maass@shiftdx.co.za, 082 579 6890; dr. Mario Beffa, e-pos: mariob@lit.co.zw