Hy verwag die vraag na rooivleis gaan oor die volgende tien jaar aanhou groei. “Daar is ’n ongelooflike plaaslike mark. Teen 2027 sal die vraag na beesvleis 24% sterker wees as nou.”

Schutte het egter gewaarsku dat bees- en skaapvleis nie kan meeding in die kommoditeitmarkte waar hoender- en varkvleis verhandel nie. “Ons gaan ietsie ekstra vir ons verbruiker moet gee.”

Die bedryf het hom egter nou vasgeloop in ’n perfekte storm van bek-en-klouseer, droogte, ekonomiese druk op die verbruiker en ander faktore wat bydra tot ’n prys wat vir die eerste keer op ’n jaargrondslag laer is as die vorige jaar.

Schutte het gesê die feit dat die bedryf nie pryse kon balanseer met vorige jare se uitvoer van 5% van sy produksie na China toe nie dui op die sleutelrol wat uitvoer in die bedryf se winsgewendheid speel. “Ons kan nie bekostig om nie in die uitvoermark te wees nie, ons sal as bedryf moet harder werk om ons uitvoer te verseker.”

Die rooivleisbedryf sal ook moet sorg dat hy internasionaal mededingend is en dat op die nuwe verbruiker se behoeftes van naspeurbaarheid en produksiestandaarde gekonsentreer word.

“Ons sal oor die volgende twee tot drie jaar ’n naspeurbaarheidstelsel vir ons diere moet hê om in die uitvoermark te wees. As ons dit oor tien jaar nog nie gereed het nie, sal ons dit ook nie aan die plaaslike verbruiker kan verkoop nie.”

Hy het gesê boere sal nie die toepassing van naspeurbaarheidstelsels, siektebeheer en onderhandelinge rondom handelsooreenkomste aan die regering alleen kan oorlaat nie. “Ons as produsente sal betrokke moet wees en help om daardie dinge te laat gebeur.”

’n Punt wat baie sterk in die rooivleisbedryf se guns tel, is dat die bedryf reeds meer as 40% getransformeer is, het Schutte gesê. Dit versterk die RPO se standpunte in regeringskringe.

Die beste nuus is en bly egter dat die plaaslike verbruikers die bedryf goed ondersteun. Die sleutel tot volgehoue steun van die plaaslike verbruiker gaan afhang van die mate waartoe die rooivleisbedryf met goedkoper produkte soos vark- en hoendervleis kan meeding.

Schutte het gesê faktore soos handelsmerke raak al hoe belangriker, want sommige verbruikers verkies veldvleis en ander verkies die wit vet van voerkraalvleis. “Ons moet seker maak die regte produkte word onder hul onderskeie handelsmerke bemark. Die goeie nuus is dat die verbruiker in Suid-Afrika van vars vleis hou en ons het vars vleis om te verkoop.”

Dieresorg speel deesdae ’n belangrike rol by verbruikers en Schutte het gewaarsku dat mense al hoe meer wil weet wat op plase aangaan. “Ons doen alles reg, maar die tannie in Sandton wil hê jy moet na jou bees omsien soos sy na haar poedel omsien.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.