Sommige boere se plase verdwyn op die gesigseinder waar die horison in ’n newel van rantjies verdwyn. Ander boere se grond is omtrent so groot soos die lengte van ’n goeie Tom Petranoff-gooi, maar die soeke na hoëgehalteproduksie staan nie ’n duim terug vir die groter eenhede nie.

’n Entjie buite Rustenburg in Noordwes het mnr. Clarence Rossouw vir hom reeds die afgelope 15 jaar ’n kleim afgesteek as kommersiële veeboer wat eers met beeste, later met Dorperskape en nou ook as Boerbokboer en restaurateur woeker. “Hoewel ons die afgelope 15 jaar reeds kommersieel met Brahmanbeeste, Boerbokke en Dorperskape boer, is die stoet-ervaring vir ons nuwe terrein,” sê hy.

Daar is tans 150 Boerbokooie op die plaas, waarvan 70 stoetooie, 50 kuddeooie en die res “kommersiële slaggoed” is, soos Rossouw hulle noem. “Daardie ooie staan definitief nie terug vir die ander nie, maar daar is ’n fenotipiese kwessie hier of daar wat teen hulle tel.”

Die stoetbedryf is mededingend en om jouself te onderskei, moet jy oor die beste bewese teelmateriaal beskik. Om dit reg te kry, glo Rossouw daarin om die beste manlike diere moontlik aan te koop.

“Dit is eintlik al manier hoe jy jou in ’n betreklike kort tyd kan onderskei. Onthou, ’n ram is 50% van jou kudde. Hoekom dus met die tweede of derde beste tevrede wees wanneer jy die geleentheid kry om die beste teelmateriaal aan te koop?”

Mnr. Clarence Rossouw (middel) en sy seuns, Dian (links) en Steven, op die veiling by die Boerbokram Bafana. Agter staan mnre. Kobus Potgieter (links, bemarker) en Stefan Greyling (afslaer) van Vleissentraal.

Duurste kudderam

Dit is waarom Rossouw nie gehuiwer het toe die ram Bafana op die streekkampioenskappe en veiling van die Bosveldboerbokklub beskikbaar geword het nie.

“Een van my vriende wat op Thabazimbi boer, Lourens du Plessis, het my laat weet van die besonder goeie ram wat beskikbaar sou raak. Op die dag van die veiling het die keurders egter Bafana se stoetoorplaatjie uitgehaal weens pap kote, wat hom onmiddellik as kudderam gegradeer het. Dit het my en my twee seuns, Dian en Steven, egter nie afgeskrik nie, want ons het geweet dit is die ram vir ons kudde.”

Die Rossouws het na Bafana gaan kyk en net daar besluit: Dié ram gaan saam met hulle huis toe. Oor die R160 000 wat Bafana gekos het, glimlag Rossouw net.

“Ons sou tot R200 000 betaal het. Ek het kenners ná die tyd na Bafana laat kyk en daar is niks fout met hom nie. Hy is dus 100% ’n stoetram wat ek vir ’n kudderam gekoop het. Ek gaan hom weer laat keur, en hy gaan weer ’n stoetram word. Intussen het ons reeds van sy saad getrek en verkoop. Hy is klaar besig om sy koopprys dubbel en dwars terug te maak.”

Trouens, Rossouw sê Bafana se waarde lê nie in die kontant van ’n verkooptransaksie nie, maar in die waarde wat hy tot die boerdery se stoetkudde toevoeg. “Deur Bafana te koop, het ek klaar ’n voorsprong, want daar is dadelik ’n mark vir sy saad. Ek ruil dan sy teelmateriaal vir stoetooie van goeie gehalte. ’n Stoetooi kos reeds rondom R15 000 en as Bafana tien van hulle inbring, is hy afbetaal.”

Volgens Rossouw is die vorige hoogste prys vir ’n kudderam rondom ’n derde van wat hy betaal het. Daar is egter nie ’n definitiewe syfer nie omdat die Boerbedryf ’n informele mark is en slegs die stoetvee se pryse op rekord gehou word.

Die Boerboklammers word eers vir drie maande in hierdie kamp afgerond voordat hulle saam met die kudde veld toe gaan. Rossouw selekteer vir lammers wat binne ses maande rondom 50 kg weeg.

BEGINSELS VIR SUKSES

Hoewel die aankoop van Bafana die storie is waaroor die omgewing gons, is dit die resultaat van baie jare se kommersiële boerdery, van kyk en leer wat die bedryf wil hê uit eie ervaring, en slim bemarking. Benewens Rossouw se Boerbokkudde het hy dieselfde beginsel met die Brahmane en Dorperskape toegepas. “Kry vir jou top-manlike diere en die gemiddelde van jou kudde sal natuurlik verbeter.

“My Brahmanverse was byvoorbeeld nie die beste verse nie, maar ek het top-bulle uit die R10 Brahmanstoetery van Letsitele gaan koop. Omdat die bulle so goed is, is hul nageslag hul gewig in goud werd. Ons het in ’n stadium met amper 400 Brahmane geboer, maar dit mettertyd afgeskaal terwyl ons die kleinvee-afdeling uitgebrei het. Ek wil die beeste egter weer meer begin maak.”

Die groot voordeel van kleinvee is volgens Rossouw dat die omswaai van jou belegging teenoor die inkomste gegenereer uit die belegging, baie vinnig is. “Daar is ’n sterk mark vir jong teeldiere in die kleinveebedryf. As jy die regte teelmateriaal het, kan dit baie vinnig baie winsgewend wees.”

Boerbokke is uiteraard nou die nommereen-dier op die plaas, maar Rossouw is nie minder trots op die kudde Dorperooie wat tussen die Boerbokke wei nie.

“Ek het 40 van die beste ooie wat ek uit die Sosatie- en Swartman-lyn geteel het. Veral Sosatie was ’n uitsonderlike ram wat geteel is deur Niekie Cilliers van die Atka-stoetery tussen Calvinia en Williston. Jy kan sien, hulle lyk almal presies dieselfde. As jy op ’n veiling is, moet jy kan sien dit is Clarence Rossouw se diere. Hulle moet eenders lyk.”

Met ’n boerdery op 1,8 ha moet ’n mens vernuftig sake kan doen en bykomende geleenthede benut. Só het Rossouw ses jaar gelede die Raasblaar-restaurant begin wat tot ’n volwaardige venue gegroei het. Dit bied ’n bykomende afset vir sy Boerbokke en Boerbokvleis is gewild op die spyskaart.

“Die vraag na Boerbokvleis het die afgelope tyd baie gestyg. Dit is eintlik waarom ons oorgeskakel het van ’n sterk Dorper-aanslag na ’n groter klem op Boerbokke. Die vleis is uiters geurig, en vanweë die laer vetinhoud reken voedingkundiges dit is ook gesonder.”

Hoewel die kudde op natuurlike weiding loop, word hulle in die winter ’n rantsoen gevoer om in topkondisie te bly.

Rossouw meen Bafana is ’n lopende advertensie vir die boerdery. “Hy het vir my ’n groot mark oopgemaak. Mense kom hierheen om aanvanklik na Bafana te kyk. Dan sien hulle die res van my kudde en wil sommer bietjie besigheid gesels.

“Boonop doen my restaurant soveel beter, want mense kom hierheen en vra of hulle die ram kan sien. Dan kom sit hulle, drink ’n koeldrank, eet dalk middagete. Vir my boerdery is Bafana ’n advertensie op sigself.”

Dit is nie net Bafana wat die Boerbokboerdery laat gedy nie. “Ek het onder meer teelmateriaal uit die Potgoud-bloedlyn van Lukas Burger, terwyl nog ’n seun van Superman by my loop. Dit is albei topramme en hul nageslag dra verder by tot die gehalte van my boerdery.”

Topteelmateriaal moet jy met die oog kan onderskei, glo Rossouw. “Omdat ons die restaurant op die plaas het, moet die diere wat ek aanhou, mooi wees. Mense koop nie net volgens syfers nie, hulle betaal ook meer vir ’n mooi dier. Dit bevestig weer eens waarom topteelmateriaal so gesog is.”

Die beste teelmateriaal beteken egter nie ’n koekiedrukker-tipe plan nie, beklemtoon Rossouw. “Dit wat in jou kudde kortkom, gaan bepaal watter tipe teelmateriaal jy moet aankoop. Dit help nie jy koop hier ’n uitstekende ooi en later weer daar ’n uitstekende ooi nie. Kry van die begin af die beste manlike dier wat jy kan bekostig en werk daarvandaan.

“Ons het byvoorbeeld nie baie lengte op ons ooie gehad nie, wat beteken het ons was op soek na ’n langer ram. Jy sal sien Bafana het ’n pragtige lang lyf wat ook by sy seuns inslag vind. Ons doen dus lynteling met hom, want ons het ’n beeld van hoe ons wil hê ons bokke moet lyk. Fenotipies moet hulle omtrent almal dieselfde lyk.”

Een van die mooi Boerbokooie uit die Raasblaarkudde. Rossouw het spesifiek na ’n ram met ’n langer lyf gesoek om dié eienskap by sy kudde in te teel.

KLEIN DOG WINSGEWEND

Pleks daarvan om groter te droom, oorweeg Rossouw dit om sy plaasaktiwiteite eerder te verklein. “Dit sal my meer beheer oor die plaas gee. Daar is ook ander besighede waarby ek betrokke is, wat beteken ’n groter boerdery sal nie my beste aandag kry nie. Vir my is kleiner beter omdat ek meer winsdoeltreffend te werk kan gaan.”

’n Kleiner plaasoppervlak beteken wel dat voer vinnig ’n kwessie kan word. Rossouw hou voerkoste fyn dop en het ’n stelsel wat groenvoer produseer. “In die somer koop ek heelwat voer in met ’n gewone SS200-mengsel wat ek gebruik. As mielies goedkoop is, koop ek in en berg dit op.”

Hy glo die aanteel van die vee moet só goed wees dat die produksie die koste neutraliseer. “Vir my lê die antwoord in meerlinge en ’n dier wat in kondisie is, produseer meerlinge. Dus bestee ek daardie ekstra rande om te verseker my diere is in topkondisie. “Daarom maak die Boerbokke vir my soveel sin. Hul aanteel is uitstekend. Boonop is hulle blaarvreters, wat ook die voerkoste verminder.”

Om te verseker dat die boerdery volhoubaar bly, is hy uiters streng met sy seleksie van lammers. “Ek speen my lammers op drie maande. Op ses maande moet hulle 45 kg tot 50 kg kg weeg sodat hulle 20 kg kan uitslag wanneer ek hulle op sewe maande bemark. Lammers wat nie produseer nie, word geslag. Daar is nie geld vir passassiers nie. Dit beteken egter ook dat die stoetery doeltreffender word, want die swakker diere word uitgeskot.”

OOG OP DIE toekoms

Vir die 45-jarige Rossouw is die boerdery ’n hartsaak, een waarvan sy twee seuns reeds deel is. “Dian (23) het ’n goeie oog vir Boerbokke. Hy weeg toplyne, wigvorms en al daardie fenotipiese eienskappe op, en kan vir jou presies sê watter dier die beste by die kudde sal pas. Dit was hy wat gesê het dat ons lengte in ons kudde kort.

“Steven (21) is die harde werker. Sy energie is aansteeklik, hy woeker met die kudde, inspekteer hulle en maak seker hul gesondheid is op peil. Dit is lekker om saam met my seuns te boer, want ons vul mekaar aan. Een ou is meer prakties, die ander meer intellektueel en dit werk. Die enigste keer wanneer ons dalk van mekaar verskil, is op ’n veiling wanneer ek en Steven die mooi diere wil koop en Dian die regte diere!”

Hoewel die ooikudde tans sowat 150 is, sal dit vir ’n tyd lank na 200 vergroot word om Bafana se lammers in te bring. Sodra die bloedlyn stewig gevestig is, sal die kudde weer verklein word.

“Die Boerbokbedryf is tans in ’n stewige posisie. Solank daar ’n vraag na topgehalte-diere is, sal ek die kudde, indien finansieel moontlik, groter wil hou. Daar is ook slaghuise wat ons kommersiële diere verkoop, maar daar is tans nie ’n slagpale naby ons wat gesertifiseer is om Boerbokke te slag nie, wat die vervoer bemoeilik.

“Die getal diere groei sterk, maar die kwessie bly waar om jou diere te laat slag.”

Gelukkig vergoed goeie bokpryse en groeiende belangstelling vir die vervoer na ’n geskikte slagpale, sê Rossouw.

Navrae: Mnr. Clarence Rossouw, 076 566 4803.