Wanneer ’n mens R1,85 miljoen vir ’n bul betaal en ’n opskudding in die vleisbeeswêreld veroorsaak, moet hy beslis vertroue in die ras en in homself hê. Dit is presies só ’n kalm, rustige vertroue wat Johan (40) uitstraal toe Landbouweekblad met hom gesels in sy huis in Gordonsbaai, net ’n dag voor sy vertrek na Engeland.

Johan het as aktuaris reeds sy stempel in Brittanje afgedruk in die korttermynversekeringswêreld “deur die mark daar te ontwrig” deur sy buitengewone vernuwing in die motorversekeringsbedryf.

“My plan is om ook die vleisbeesmark in Suid-Afrika te ‘ontwrig’ – ek gaan die beste Wagyu-teelmateriaal ter wêreld op die plaaslike mark ‘loslaat’.”

Die Wagyu, wat vanweë sy uitsonderlike vleisgehalte astronomiese pryse behaal, is geen foefie of “borrel wat kan bars” nie, verseker hy.

BESONDERSE PRODUK

Johan vertel hy het in 2015 die eerste keer met hierdie befaamde Japannese vleisbeesras in aanraking gekom. “Ek het in Londen ’n Wagyu-biefstuk geëet en besef ek het hier met iets anders as gewone beesvleis te doen. Die prys daarvan was vier keer hoër as vir ’n ‘gewone’ biefstuk, en ek het voorheen gewonder of die premie vir vleis ’n foefie is.

Een proe is al wat nodig is om mense, soos ek, wat skepties is, te oorreed ons het hier met ’n besonderse produk te doen.

“My pa, dr. J.A.K. Strydom van Aliwal-Noord, het met wild geboer, en ek het somme gemaak oor die fundamentele waarde van wild en wildsvleis toe ek beplan het om die plaas Klipfontein oor te neem. Ek het na moontlike alternatiewe vir wildboerdery ondersoek en skielik besef: Dalk lê die antwoord by die Wagyu.”

Johan het begin ondersoek instel na die ras en alle moontlike inligting bymekaar gekry. Sy pa het vertel daar is reeds Wagyuboere in Suid-Afrika en dat hy die ras ken. In Suid-Afrika het Johan kontak gemaak met die broers drr. Thomas en Fanie Steyn, (laasgenoemde is voorsitter van Wagyu SA), en is voorgestel aan die groep Absolute Wagyu.

Dit bestaan onder meer uit vier veeartse, waaronder die Steyns, en word uit Bloemfontein bedryf.

“Ek het ná gesprekke met dié mense besef: Hier is ’n besliste geleentheid om die Suid-Afrikaanse vleisbeesbedryf te ontwrig. Hier bestaan geleenthede om ’n unieke nismark op die spits te dryf. Maar dan moet jy die allerbeste teelmateriaal daarvoor inspan en jou met kenners omring.” Hy het Wagyu-embrio’s by die groep bekom en dit is in koeie geplaas.

Johan het landwyd uitsonderlike Wagyu’s gesoek om sy kudde uit te brei. Hy ondersoek talle uitbreidingsmoontlikhede en beoog om 120 embriokalwers teen middel aanstaande jaar op sy plase in die Suid-Vrystaat te hê. FOTO: JOHAN NORVAL

“Ek het 120 rasegte-embriokalwers via Absolute Wagyu bestel. Van hulle begin nou speenouderdom bereik.”

“Die kalwers word tot speenouderdom grootgemaak, en dan kom hulle na my plaas Klipfontein tussen Aliwal-Noord en Rouxville.” Die eerste sowat 30 het reeds einde Mei op die plaas aangekom. Na verwagting sal al 120 kalwers teen middel volgende jaar gelewer word.

Johan het dié plaas van 1 200 ha verlede jaar by sy pa gekoop om rasegte Wagyu’s en Wagyu-kruisdiere daar te teel. Intussen het hy nog ’n plaas van 800 ha in die omgewing gekoop, ’n verdere 1 000 ha gehuur en 70 ha weidings onder besproeiing uit die Oranjerivier gevestig.

Hoekom die embriokalwers? Johan sê daar is nie genoeg rasegte Wagyu-teelkoeie in Suid-Afrika nie, en die genetiese herkoms van die embriokalwers is 100% bepaalbaar in koei-bul-kombinasies. Afgesien van die embriokalwers wat vir hom geteel is, het hy ook landwyd uitsonderlike Wagyu’s gesoek. Hy het nou reeds 80 rasegte en kruiskoeie.

Die bul Midnight, wat in ’n kwarantynstasie in Australië gehou word.

DIE DUUR BUL

Johan het op 4 Mei vanjaar die bul Midnight aanlyn uit Brittanje gekoop vir sowat R1,85 miljoen (AUS$185 000) tydens die jaarlikse Elite Wagyu-veiling. Tot dusver is dit die duurste Wagyubul nóg wat in Australië (en waarskynlik ter wêreld) verkoop is. Hoewel Johan die alleeneienaar is, bly die bul in Australië.

Hy is in ’n kwarantynstasie waar sy saad getap word en regstreeks gaan na Absolute Wagyu, wat al die geriewe en kennis vir teling het.

“Die Australiërs het sy volledige teelwaardes beskikbaar gestel en ek het daarvolgens gekoop.” Wat Midnight besonders maak, is dat hy die eerste top-Wagyubul is waarin die heterosigotiese poenskopgeen vasgeteel is. Hy is 98,9% raseg.

“Midnight se pa – Mayura Itoshigenami Junior – is tans die voorste lewende Wagyubul in Australië en is 100% raseg. Boonop het Midnight goeie marmering of vetneerlegging én is van ’n goeie grootte. Gewoonlik het Wagyubulle met beter marmering minder groeikrag, maar dit is nie by Midnight die geval nie.

Danksy die uitstekende marmering van Wagyu­vleis is dit baie gesog. FOTO: JOHAN NORVAL

“Die ideaal by die ras is om die marmering in die vleis te verbeter sonder om gewig in te boet, en dit is min dat hierdie kombinasie so ideaal is soos by Midnight. Sy karkasindeks is in die boonste 5% van die Wagyu in Australië en sy marmering net onder die boonste 1%.”

TOEKOMSPLANNE

Johan het groot planne met Midnight se nageslag.

“Ek het ’n teelooreenkoms met dr. Simon Coates, ’n veearts en eienaar van Sumo Wagyu, aangegaan. Sumo Wagyu is een van die eerste en grootste Wagyu-telers in Australië wat reeds twintig jaar met die ras teel. Hy stel sy beste koeie beskikbaar vir embriospoeling met Midnight-semen. Die koeie is almal in die boonste 1% of 5% vir karkasindeks en marmering. Só kry ek die beste moontlike embrio’s om na Suid-Afrika te bring.”

Soos genoem, gaan die saad na Absolute Wagyu vir verdere gebruik.

“Op dié manier kan ’n uitstekende teelprogram met die beste Wagyu-teelmateriaal hier bedryf word. Suid-Afrika sal só van die heel beste Wagyu-teelmateriaal ter wêreld bied.” Dit is nie net praatjies nie, beklemtoon Johan.

“Alle afstammelinge van Midnight sal deur die amptelike Gesertifiseerde Wagyu-beesvleisprogram bevestig word. Dié program word nou in Suid-Afrika bekend gestel en voldoen aan alle internasionale standaarde.” ’n Kalf se volledige genetiese herkoms vanaf die dag van geboorte sal naspeurbaar wees.

“Gehaltebeheer word daardeur gewaarborg. Gemoedsrus sal aan voerkrale, verbruikers en restaurante – reg deur die ketting – verskaf kan word. Dit sal vier jaar duur om my teeldoelwitte ten volle te bereik. Dit sal wees wanneer Midnight se eerste nageslag by abattoirs opdaag en ons hul karkasgehalte kan bewys.”

Alle bemarking sal ingevolge die Geregis- treerde Wagyu-beesvleisprogram gedoen word.

KRUISTELING

Sy tweede groot doelwit is om puik rasegte Wagyubulle beskikbaar te stel vir kruisteelprogramme. “Die mikpunt is om uitstekende F1-diere vir die vleismark te teel. Om die vleismark te ‘ontwrig’, moet daar genoeg vleis beskikbaar wees.” Johan wil hom saam met sy pa ook op Wagyu-Tuli-kruisteling toespits.

“Omdat die Tuli natuurlik gehard is en goeie melk- en moedereienskappe het, sal dit die Wagyu puik aanvul. Omdat Tuli’s meestal homosigotiese poenskopdiere is, sal 100% van Midnight se Tuli-kruisnageslag die poenskopgeen dra.” By die Universiteit van Arizona in Amerika word reeds kruisteling met die Wagyu en Tuli gedoen.

’n Nuwe ras, die Waguli, is daaruit voortgebring. “Dis ’n nuwe ras met uitsonderlike vleisgehalte en weerstand teen hitte. Die basterkragwerking tussen die twee ‘oerrasse’ uit Japan en Afrika is ongeëwenaar.” Johan het reeds ’n klompie geregistreerde Tulikoeie met goeie teelwaardes gekoop.

Hy gaan hulle met Midnight se saad insemineer wanneer die eerste daarvan aankom. “As jy die beste Tuli-stoetdiere met die beste Wagyuteelmateriaal kruis en die basterkragvoordeel kry, het jy besonderse teelmateriaal vir die Afrikaklimaat.”

BEMARKINGSPLAN

Is die ophef wat van die Wagyu gemaak word, nie dalk ’n “borrel wat wag om te bars” nie, soos wat al met ander “wonderrasse” en taamlik onlangs in die wildbedryf gebeur het?

“Nee, ek dink nie so nie. Die mark sal self daaroor besluit. In Australië en ander lande groei die Wagyumark steeds. As aktuaris is ek datagedrewe – ek weet wat ek kan meet, en ek meen ons moet konsentreer op die fundamentele ekonomiese waardes van die diere. ’n Borrel wat bars, gebeur as naïewe kapitaal, waar ekonomiese waardes nie verstaan word nie, ’n mark betree en pryse opjaag deur emosioneel op te tree.

“Ek het soveel geld in ’n bul belê omdat ek in die ras se toekoms glo. Ons gaan van die beste Wagyu’s ter wêreld hier teel. Met winkende uitvoermarkte, soos China met sy 1,3 miljard mense wat gehalteprodukte soek, is daar ’n byna onuitputlike mark. Ons gehalte gaan die Chinese lok.”

Die Wagyu is die vierde grootste beesras in Australië met 600 boere. Gemeet aan die groeikurwe sal dit na verwagting aanstaande jaar die naasgrootste ras wees.

“Die vraag na Wagyuvleis styg wêreldwyd. In Suid-Afrika is daar te min beskikbaar om selfs in die vraag van restaurantgroepe te voorsien. Namate restaurante die publiek blootstel, styg die verbruikersvraag ook. Soos in die wynbedryf gaan dit oor bykomende keuses vir die verbruiker. Koop ’n grootmaatproduk of koop iets spesiaals vir ’n spesiale geleentheid.

“Die millenniërgenerasie het reeds aan meer keuses, soos boetiekjenewer en -bier, gewoond geraak. Hulle begin nou kyk na die oorsprong van hul kos, hoe eties dit geproduseer word en of dit van grootmaatprodukte onderskei kan word.

“Daarom is my eerste doelwit nou om veral die F1-kruisings met die Wagyu te vermeerder om só die beskikbaarheid te vermeerder. Wanneer die punt bereik is waar Wagyuvleis uit kruisings geredelik beskibaar raak, sal die verbruiker gemaklik daarby aanpas.”

Drie strooitjies van Midnight se saad word in Augustus op die nasionale Wagyuveiling opgeveil en word volgende Januarie aan die kopers beskikbaar gestel.

LBW VRA . . .

MNR. JOHAN STRYDOM 

Het jy ’n mentor? Ek omring myself met kenners. Ek is baie dankbaar vir raad van dr. Michael Bradfield van Wagyu SA en die veeartse van Absolute Wagyu en Sumo Wagyu.

Wat is jou beste boerderybesluit? Om in goeie manlike diere te belê, want in drie generasies kom 87,5% van ’n kudde se gene van die laaste drie bulle wat gebruik is. 

Hoe bemark jy jou produk(te)? Op enige platform wat kopertevredenheid optimaliseer. Ek is ingestel op langter- mynverhoudings en ek wil dus hê my kliënte moet tevrede wees. Dis hoe ek ál my ondernemings bestuur, want dan hoef jy nie oor en oor te bemark nie. Kliënte vertrou jou en kom self weer terug. 

Doen jy waardetoevoeging op die plaas? Tans lê ek klem op teling, maar die logiese toekomsstap is die voer en afronding van diere, weer met die samewerking van kenners. 

Hoe wil jy jou boerdery se voortbestaan verseker? As aktuaris is ek opgelei in risikobestuur. My 70 ha weiding onder besproeiing gee my gemoedsrus vir droogtes, en ek het veeartse wat my diere tweeweekliks ondersoek. Die mening van die veeartse by Absolute Wagyu, asook Michael, is ook net ’n WhatsApp-boodskap ver, al is ek aan die ander kant van die wêreld

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.