Dis nie die eerste keer dat ’n ooi ses lammers kry nie, het mnr. Pierre Redelinghuys Sondagoggend gedink toe hy baie verbaas was om te sien dat die ooi ses lammers het.

“Ons het al ooie met ’n vierling gehad, maar dis die eerste een van ons ooie wat ’n sesling gekry het,” sê Redelinghuys, eienaar van die Dormerstoetery Ell-Roy buite Hartenbos.

Hy sê op die foto wat op sosiale media geplaas is, is die ooi baie maer. ’n Mens moet egter onthou dat sy 15 kg tot 20 kg gedra het. “Sy lyk nou beter.”

Hy boer net met Dormers in ’n intensiewe stelsel met “groen weidings en baie kos” op die plaas Outeniquabosch. Hy het egter die ooi vroeër vanjaar voerkraal toe gevat toe dit in Januarie en Februarie so droog was en hy gesien het haar kondisie is nie goed nie.

Hulle volg ’n agtmaandelamstelsel. Aangesien die ooi verlede jaar twee keer drielinge gehad het, het hy gemeen sy gaan vanjaar net een lam kry, sê Redelinghuys.

Een van die lammers was dood toe hy by die kraal aankom. Hy vermoed die ooi het dalk oor die lam gerol. “Die ander lammers gaan goed aan. Ons gee die een wat swakker as die ander vier is, met ’n bottel ekstra melk.”

Redelinghuys voel hom die laaste tyd besonder geseënd. Verlede jaar was hy Stamboek se Kleinveeteler van die Jaar en die ontvanger van ’n Elite-dubbelgoudtoekenning.

Sy navorsing toon dat daar al ’n sesling lammers in Suid-Afrika gebore is, maar hy weet nie of die lammers oorleef het nie. “Oorsee was twee of drie seslinge wat oorleef het. Die kans vir ’n ooi om ’n sesling te kry, is een in ’n miljoen.”

Die ooi, wat vanjaar uitgeskot gaan word, het 18 lammers in haar leeftyd gekry. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.