Luidens Ruvasa se verslag oor dieresiektes wat in Desember uitgereik is, is uitbrekings van haarwurm in al nege provinsies aangeteken. Daar is ook ’n geval op ’n plaas aangeteken waar die haarwurmstam weerstandig was teen alle aktiewe ontwurmingsgroepe.

“Die omstandighede is tans ideaal vir die wurms weens die bedompigheid, hitte en reën,” sê dr. Alan Fisher, ’n afgetrede veearts van Queenstown, wat al baie navorsing oor haarwurmweerstandigheid en oorerflikheid by skape gedoen het. “As die wurms eers gevestig het, besoedel hulle die veld baie vinnig.”

Weerstandige wurms kom by verskeie skaapkuddes voor. Dit kan verskil van plaas tot plaas, en baie maal ook van kamp tot kamp op ’n plaas, na gelang van die bestuur wat voorheen in ’n kamp toegepas is.

Volgens Fisher is die kans groot vir ’n haarwurmuitbreking wanneer daar skielik groot hoeveelhede reën val ná ’n lang droogte. Skape ontwikkel bloedarmoede en kan binne ’n week vrek indien die uitbreking ernstig is.

Skape wat met haarwurm besmet is, word uitgeken aan bleek oogvliese en tandvleis. Aangesien die haarwurm bloed in geheel opneem, lei dit tot baie lae bloedproteïenvlakke en ’n kwakkeel of papperige, waterige sak wat onder die skaap se keel vorm.

In toestande waar ’n uitbreking plaasvind, sal skape vrek voor die wurms volwassenheid bereik en eiers kan lê, en die uitbreking sal soms nie in die mis opgemerk word nie.

Dosering

Met groot uitbrekings beveel hy aan dat boere voor die voet moet doseer. In normale omstandighede moet slegs bleek skape gedoseer word, terwyl skape wat nie aan bloedarmoede ly nie, nie gedoseer moet word nie.

“In ’n uitbreking help dit gewoonlik nie, want teen volgende week is daardie skape ook bleek.”

Veldbestuur speel ’n belangrike rol om wurms tydens ’n uitbreking te help bestuur. Wisselweiding moet toegepas word. Groter diere soos beeste moet voor die skape in ’n kamp gejaag word om die wurms op te tel. Die skape moet slegs vir ’n kort tydperk in die kamp aangehou word, en die kamp moet daarna vir minstens twee en ’n halwe maande rus.

Volgens Fisher sal jonger skape van twee maande tot ’n jaar vatbaarder wees as ouer skape, wat ’n meer natuurlike weerstand het.

Vleie, lekkende trôe, damme waaruit water sypel en krale met gras daarin moet vermy word.

Hy sê dit is belangrik om nie dieselfde middels opeenvolgend tydens ’n uitbreking toe te dien nie, maar om die middels af te wissel. “Wat gebeur, is dat jy van al die vatbare wurms ontslae raak en die weerstandbiedende wurms bly oor.”

Om weerstandigheid te voorkom moet boere die regte dosis van ’n wurmmiddel toedien. Onderdosering kan weerstandigheid vererger en oordosering, waar die veiligheidsdosis van ’n middel oorskry word, kan tot vrektes lei. Boere kan verskillende middels toets om vas te stel watter doeltreffend is.