VRAAG

Ek wil graag weet wat die rantsoensamestelling moet wees vir ’n kombinasie van hidroponiese hawer en ruvoer. Wat is die droëmateriaalinhoud (DM-inhoud) van hawerspruite (ek lees 12% raak)? As ek 3 kg hawerspruite voer, gee dit ’n DM-inhoud van 360 g. Indien die ooi DM-inhoud van 2 kg per dag moet kry, kan ek die ander 1,64 kg aanvul met droë lusern? Ek sal bly wees as u ’n rantsoensamestelling kan voorstel.

Dr. Jasper Coetzee se antwoord

Na gelang van die groeistadium van die hidroponiese groenvoer wanneer die voginhoud bepaal word, kan die droëmateriaalinhoud 12% tot 16% wees en die voginhoud 88% tot 84%.

’n Laat dragtige ooi met ’n enkelingfetus se droëmateriaalbehoefte is ongeveer 2,5% van die liggaamsgewig, en dié met ’n tweelingfetus ongeveer 3% van die liggaamsgewig. Ooie met enkelinglammers benodig ongeveer 3% van die liggaamsgewig, en dié met tweelinglammers ongeveer 4% van die liggaamsgewig.

Gestel ’n ooi benodig 2 kg droëmateriaal per dag, dan sal sy 16,7 kg hidroponiese groenvoer, met ’n voginhoud van 88%, per dag moet inneem om in die droëmate- riaalbehoefte te voorsien. Dit is onmoontlik, aangesien die ooi se rumenkapasiteit te beperk is. Die hidroponiese groenvoer moet dus teen ’n beperkte peil gevoer word, en die res van die voedingstowwe met ’n kragvoeraanvulling aangevul word.

Wanneer 3 kg hawerspruite aan ’n ooi gevoer word, neem die ooi 0,36 kg droëmateriaal en 2,64 kg vog (water) in, as aanvaar word dat die droëmateriaalinhoud daarvan 12% is. Die ooi benodig dus nog 1,64 kg droëmateriaal om in haar droëmateriaalbehoeftes te voorsien. Hierdie 1,64 kg droëmateriaal kan nie bloot aangevul word deur 1,64 kg droë lusern te voer nie, aangesien daar dan ’n tekort aan sekere voedingstowwe soos energie, ruproteïen, minerale en vitamiene sal wees.

Daar word dikwels in die praktyk die fout gemaak om die skaap se voedingsbehoeftes net volgens die droëmateriaal of energie te bepaal. Deur nie ander voedingstowwe, soos ruproteïen, deurvloeiproteïen, minerale en vitamiene in ag te neem nie, sal swak diereprestasie en dikwels ook metaboliese siektes veroorsaak.

Die ooi se totale voerinname moet gebalanseerd wees wat energie, ruproteïen, deurvloeiproteïen, minerale en vitamiene betref. Met behulp van ’n voerformuleringsprogram moet die hawerspruite dus saam met ander voersoorte gebruik word om ’n korrekte, volledige lammerooirantsoen te formuleer wat in die ooi se algehele voedingsbehoeftes voorsien.

Die volgende daaglikse rantsoen (op ’n soos-gevoer-grondslag) behoort in ’n lammerooi se voedingsbehoeftes te voorsien:

  • 2 000 g hidroponiese hawer per ooi per dag
  • 300 g gemaalde lusern per ooi per dag
  • 750 g gemaalde mielies per ooi per dag
  • 350 g Voermol Maxiwol-konsentraat (reg.nr. V15415, Wet 36 van 1947) per ooi per dag
  • 150 g Voermol Procon 33 (reg.nr. V12701) per ooi per dag
  • 20 g voerkalk per ooi per dag
  • 3 770 g totale voer per ooi per dag

Voer die helfte van die 3,77 kg in die oggend en die ander helfte laatmiddag. Maak seker daar is voldoende ruimte sodat al die ooie gelyktydig kan vreet.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.