Saai- en veeboere kom tans te staan voor groot struikelblokke. Herlewingslandbou, met ’n intense fokus op grondbiologie, is hier om te bly. Vee, en spesifiek beeste, is ’n onlosmaaklike deel om herlewingslandbou die norm te maak in die volgende klompie jare. Die gesegde van “jy hoef nie te verander nie, maar jy sal moet meeding met hulle wat dit wel doen,” is beslis waar.

Raak betrokke by die opwindendste seisoen in die landbou. Die laaste hoofstuk oor herlewingslandbou is nog nie geskryf nie. Ons gaan nog baie leer namate die suksesstories, foute, planne en hopelik ook navorsing bekend word. Die inisiatiewe wat baanbrekers neem, is tans uiters belangrik.

Onkunde het veroorsaak dat ons die grond verniel het en om dieselfde rede het onkunde ook tot die teling van diere gelei wat te veel op produksiemiddele staatmaak en nie, soos van ouds, self op natuurlike weiding kan presteer nie. Herlewingslandbou is grootliks daarop gerig om die natuurlike prosesse te heraktiveer en dinge te herstel na hoe God dit beplan het dinge moes werk.

Een van die belangrikste vrae wat beantwoord moet word, is of die beeste wat ons tans teel, die regte of beste produk is om sy plek vol te staan om die proses van herlewingslandbou tot sy volle potensiaal te neem? Buiten die bydrae wat beeste tot die herlewingsproses lewer, word daar primêr met beeste geboer om wins te toon. Daar is nogal groot verskille in hoe hierdie bees moet lyk en wat ons moet meet of nie meet nie.

Hou jou oog op die wins-per-hektaar-bal

Twee uiteenlopende denkrigtings bestaan en dit lyk of hulle mekaar nie kan of wil oortuig nie. In my poging om gedagtes te prikkel, gaan ek verby rasspesifieke eienskappe kyk, want of ’n bees rooi, swart of bont is, kan tog nie maak dat hy of sy ’n kleiner of groter wins lewer nie. (Dit is egter so dat rooi die voorkeurkleur in Suid-Afrika is.)

As individue of rasgenootskappe te veel klem lê op eienskappe wat nie ’n bydrae tot wins lewer nie, is dit die genootskap of individue se probleem. Groep 1 beskuldig groep 2 omdat hulle nie meet nie, terwyl groep 2 terugkap om te sê groep 1 meet die verkeerde eienskappe of op die verkeerde manier.

As wins per hektaar ons maatstaf is, maak dit saak of ons speengewigte meet of nie? Gaan die feit dat ons dit meet of nie meet nie, die onderneming minder of meer winsgewend maak?

Wat belangrik bly, is dat jy nie jou oë van die wins-per-hektaar-bal moet afneem nie. Enige eienskap – of jy dit meet of nie – wat verkeerd gebruik word, gaan mettertyd ’n ongunstige uitwerking op die wins per hektaar wys. Elke verandering wat jy aanbring – met of sonder geverifieerde inligting – sal op lang termyn ’n uitwerking op die wins per hektaar van ’n onderneming hê. Sommige besluite se impak is vinnig sigbaar, terwyl ander stadig is.

Só lyk ’n dier wat tyd gaan weerstaan

Hoe lyk die dier wat in 2030 die pas gaan aangee? Sonder om enige van die twee skole te kritiseer of te komplimenteer, gaan ek probeer om daardie dier te beskryf. Onthou, ek beskryf haar vanuit die omgewing waarin ek boer, en dit kan verskil van die supersuurveld in die ooste of die supersoetveld in die weste. Ek verwys ook na ’n boerdery op natuurlike weiding met geen oesreste of hooibale in die winter nie. Sy moet die natuurlike weiding met min “hulp” doeltreffend in proteïen en energie kan omskakel.

Verder moet sy moeitevry wees en haar verblyfkoste moet minder wees as dit wat sy produseer. Nadat die koste betaal is, moet daar nog kleingeld oor wees. Om dít te bereik, moet sy sonder hulp suksesvol kalf.

Haar melkproduksie moet strook met haar omgewing sodat sy nie onnodige druk plaas op haar onderhoudsbehoeftes nie. Sy hoef nie die swaarste kalf te speen, die meeste melk te hê, die vinnigste te groei of ’n skouprys te wen nie. As een van dié eienskappe moontlik is, is dit ’n bonus.

Sy moet onder nie-selektiewe beweiding elke jaar (vanaf tweejaarouderdom) ’n goeie kalf speen waarvoor die voerkrale bereid is om ’n premie te betaal. Indien jy die bulkalwers in ’n osstelsel wil gebruik, moet hulle op die veld afgerond kan word sonder te veel ekstra koste. ’n Verskalf moet ten minste kan doen wat haar ma kon doen.

Maak dit saak watter kleur of ras dit is? Maak dit saak of jy weet wat haar speengewig is? Maak dit saak of sy aan prestasietoetsing onderwerp word of nie? Maak dit saak of sy genomies getoets is? Wat ook al jy doen (of nie doen nie . . .), maak net seker elke dier lewer ’n gunstige bydrae tot jou wins per hektaar.

Sommige boere wil weeg en meet en pas, en met ’n spesifieke ras boer. Maak dit hulle verkeerd? Ander wil nie meet, weeg en pas nie, en ook nie met ’n spesifieke ras boer nie. Is hulle daarom verkeerd?

Daar is nie net een oplossing vir die ideale bees nie. Moet ook nie teen ’n vroulike dier diskrimineer as dit ’n pragtige rooi Bonsmara-stoetkoei is, met ál die syfers, wat ’n groot bydrae tot wins per hektaar lewer nie. Die regte soort dier is nie aan ’n ras gekoppel nie. Dit is ook nie net ’n kruisgeteelde bees nie. Dit is ’n tipe dier. Soek ’n teler wat die regte diere teel in die ras waarvan jy hou en soek dan ’n bulkalf van die koei wat volgens jou die tipe is wat jy glo ’n bydrae gaan lewer tot jou winsoogmerk.

Die kern van goeie bestuur

Bestuur is die proses om elke segment van jou onderneming te evalueer en dan iets anders te doen as wat jy tans doen om die aspekte wat jou wins per hektaar knou, reg te stel. As jy dus elke segment van jou beesboerdery evalueer teenoor die invloed op wins per hektaar en vind dat jy die een of ander eienskap oor- of onderbeklemtoon het, maak die nodige aanpassings en boer voort. Doen dit gereeld!

As jy kan, sluit aan by ’n studiegroep wat wins per hektaar meet. Dit is altyd lekker om ’n maatstaf te hê, maar onthou dat jy vir jou eie bankrekening boer. Sorg dat jy nie op ’n afdraaipad gelok word om met Piet Buurman mee te ding nie.

As jy net op ’n verhoging van speengewig en groei gaan klem lê, sal jou koeie groter word. Die probleem wat hieruit spruit, is dat ’n groter koei meer onderhoud nodig het. Indien jy nie jou bestuur aanpas nie, sal sy nie dragtig wees met die volgende dragtigheidsondersoek nie.

Koeie moet genoeg vet opberg om hulle deur die winter te dra. Soos almal weet, is liggaamskondisie ’n belangrike faktor. Liggaamkondisietelling met kalftyd is die beste aanwyser vir herbesetting. Verder kan jy koeie saam met die natuur laat kalf, al minder hooi maak, goeie voervloei toepas (veral staande hooi vir winterweiding) sodat jou belading kan verdubbel. Maak ook seker jy selekteer vir vrugbaarheid.

Sy hoef nie rooi te wees nie, maar hoekom nou ’n kans waag? 

Mnr. Gerrit van Zyl besit die bekroonde Hanzyl-Bonsmarastoetery buite Dewetsdorp. Stuur kommentaar na e-pos: gerrit@g-h.co.za