Vraag

Ons het ’n groot probleem met ons Boerbokke. Hulle vreet kandelaarsbos en kry dan krimpsiekte. Die groter bokke oorleef, maar die lammers vrek as hulle dit vreet. Wat kan ons doen om dit te keer? Is daar enige teenmiddels? Hoe kan ons siek diere doeltreffend behandel?

Raad

Daar is geen spesifieke behandeling vir krimpsiekte nie en die behandeling is simptomaties en ondersteunend.

Hou die diere rustig, goed versorg, met goeie kos en water beskikbaar en van hulle kan herstel. Veeartse sal byvoorbeeld middels doseer om die grootpens te stimuleer (rumenstimulante). Voorkoming behels die uitroei van die plant, maar dit is dikwels nie prakties moontlik nie.

Probeer om die diere uit besmette kampe te hou, veral vanaf Mei tot November. Kamp indien moontlik die gebiede af waar die kandelaarsbos groei. Voorsien goeie hooi en lekke gedurende droogtes.

Ek het goeie resultate met ’n eksperimentele entstof behaal. Dit was egter ’n baie beperkte gidsstudie. Die gifstof is gekoppel aan ’n proteïen en ná inenting het dit teenliggaampies by twee skape opgewek.

Die skape is toe binneaars met ’n suiwer gifstof behandel. Een kontroleskaap het gevrek en die ander kontroleskaap het tekens van krimpsiekte ontwikkel, terwyl die ingeënte skape weerstandig was. 

Prof. Christo Botha is verbonde aan die departement parakliniese wetenskap, fakulteit veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.