VRAAG: Ek soek meer inligting oor Afrika-varkpes en hoe om dit te voorkom.

Afrika-varkpes kom voor onder vlakvarke, bosvarke, wilde en ander varke. Uitbrekings is vanjaar aangemeld in onder meer die Oos- en Wes-Kaap, Vrystaat, Gauteng, Noordwes en Limpopo. Mak en wilde varke en hul produkte mag nie uit beheerde gebiede verwyder word nie omdat dit gevaarlik vir ander varke is.

Afrika-varkpes is byna altyd dodelik en daar is geen geneesmiddel vir die siekte nie. Mense word egter nie deur die siekte geraak nie. Varke kan Afrika-varkpes opdoen as hulle in aanraking kom met ander siek varke of rondbeweeg in dele waar siek varke was. Varke kan ook die siekte opdoen van wilde varke en bosluise wat van die wilde varke afval in die Afrika-varkpes-beheerde gebiede. Varke kan ook Afrika-varkpes opdoen as hulle vullis inneem wat vleis van siek varke bevat, of wat in kontak was met vleis van siek varke. Volgens wet moet kombuisafval vir een uur gekook word voordat dit vir varkkos gebruik word om hulle teen siektes te beskerm.

Varke met Afrika-varkpes kan die volgende simptome toon: Koors, gebrek aan eetlus, sukkel om asem te haal, dragtige varke kan aborteer, die ore, neus, maag en bene kan rooi raak en die varke vrek baie vinnig.

Sommige varke wat siek geword het, maar nie gevrek het nie, word as gevaarlik beskou omdat hulle steeds ander varke kan aansteek. Indien jy vermoed jou varke het die siekte onder lede, moet jy dadelik jou plaaslike dieregesondheidstegnikus of staatsveearts in kennis stel. Hulle sal dan die varke kom toets. Besmette gebiede of kuddes word onder kwarantyn geplaas om te voorkom dat die siekte versprei.

Moenie varke verkoop wat siek is of vermoedelik siek is nie omdat die siekte gaan versprei en meer varke sal laat vrek. Moenie varke op veilings of by spekulante koop as hulle nie kan bewys al die varke op die verkoper se plaas is gesond nie. Moenie varke koop of verkoop as daar ’n uitbreking van Afrika-varkpes in jou distrik is nie, want jy kan die siekte laat versprei.

Indien jy twyfel, vra jou plaaslike staatsveearts of dieregesondheidstegnikus vir raad. 

Dr. Faffa Malan is bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika