’n Ram en ’n ooi van die teler van kampioene van die skou, mnr. Lukas Burger van die plaas Rietfontein in die distrik Griekwastad, het die hoogste pryse behaal en is onderskeidelik vir R150 000 en R140 000 verkoop.

Die koper van Burger se jong tweetandram, Rock, is mnr. Boeram Venter van Kirkwood in die Oos-Kaap.

Venter het in September 2020 ’n rekordprys van R375 000 vir ’n Burger-ram op ’n produksieveiling in Kimberley betaal, asook R200 000 vir ’n ander ram.

Die kopers van nog ’n Burger-ram, Boerseun (R135 000), is mnre. Johan Boshof van Marble Hall en Joubert Fourie van Louis Trichardt.

Die koper van die duurste ooi is André Kock en Seun namens ’n anonieme teler. Vyf van Burger se ooie op die veiling is teen ’n gemiddelde prys van R93 000 verkoop.

Die gemiddelde prys van die 14 ramme op die veiling was R50 642 elk en die 29 ooie R37 482 elk.

Mnr. Danie Strauss van BKB op Cradock wat as afslaer opgetree het, sê hoewel van die ramme uitskieterpryse behaal het, was die vraag na vroulike diere van gehalte hoër.