As landboujoernalis weet ek hoe belangrik dit is om kleiner, plaaslike produsente te ondersteun, en ek probeer plaaslik koop waar ek kan. Nadat ek Noorsveld se sappige hoendervleis geproe het, waarby gewone winkelhoendervleis nie kan kers varshou nie, moes ek ’n bietjie dieper gaan delf.

’n Hele “gemeenskapsboerdery” sit agter dié smaaklike vleis. Die onderneming is die grootste werkverskaffer in die klein gemeenskap van Jansenville, en bied uitkoms aan vele veeboere in die omgewing te midde van die voortslepende droogte.

Noorsveld Hoenders het sy ontstaan te danke aan die veeboer mnr. Gerrit dos Santos, wat in die vroeë 1990’s planne moes beraam om sy boerdery by Jansenville meer droogtebestand te maak.

Hy en elf kontrakgroeiers van die distrik lewer tans vars vleis van vrylopende hoenders aan verskeie supermarkte in Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) en Jeffreysbaai. Twee reekse word tans verkoop. Die Homegrown-reeks is vars hoendervleis van hoenders wat nie antibiotika ontvang nie. Die Noorsveld-reeks is ook vars vleis, maar konsentreer toenemend op waardetoegevoegde produkte, soos vlerkies, sosaties en espetada, en gemarineerde hoendervleis.

VAN HUISVERKOPE TOT KONTRAKONDERNEMING

Nadat Dos Santos vele opsies oorweeg het, onder meer volstruisboerdery, het hy besluit om ’n hoenderboerdery op die been te bring. Hy het ’n paar hokke opgerig om sy eie hoenders groot te maak.

Die hoenderboerdery was aanvanklik klein en die vleis is direk aan klante op die dorp verkoop. Ná twee jaar is verkope uitgebrei na buurdorpe soos Kirkwood, Willowmore, Adelaide, Despatch en Middelburg. Hy het aanvanklik bevrore, gepekelde hoendervleis verkoop, maar later na vars vleis en verskeie waardetoegevoegde produkte oorgeskakel.

Dr. Herman Bosman, hoenderveearts van The Poultry Practice in Gqeberha, het oor die jare vir hom leiding gegee wat strek van hoendergesondheid tot sakebesluite en hoe om die boerdery aan te pak. “Hy het ’n groot invloed op my sukses,” sê Dos Santos.

Dos Santos maak tans self hoenders groot, maar bestuur en behartig ook die abattoir, verpakking en verspreiding namens die elf kontrakgroeiers wat vir hom hoenders grootmaak.

Die voer word spesiaal vir Noorsveld gemeng. Die hoenders word in ’n negeweeksiklus grootgemaak.

OORKOM SÓ STRUIKELBLOKKE

Hoewel hy aanvanklik alleen hoenders grootgemaak het, was die bekamping van siektes moeiliker as wat hy verwag het. Om hoenders van verskillende ouderdomme langs mekaar aan te hou, “was nie ideaal nie”.

“Aanvanklik het dit goed gegaan, totdat ons begin siektes kry het omdat die abattoir en hoenders op een plaas is. Omdat dinge so goed begin het, het ek gedink ek kan die probleme weg bestuur en weg boer.”

Nadat een van die hokke uitgebrand het, het hy mnr. Awie Smith, ’n veeboer van die omgewing, genader om hoenders in sy skeerskuur groot te maak.

“Awie behaal toe baie goeie resultate, en die proeflopie was ’n groot sukses. Toe besluit ek om die versekeringsgeld van die brand te gebruik om vir hom hokke op te rig, wat hy as ’n rentevrye lening moes terugbetaal.”

’n Tweede boer, mnr. Justin Krige, het ook begin om hoenders in sy skeerskuur groot te maak. Die resultate was weer baie belowend, en daar is by Krige ook hokke opgerig. “Ek besef toe dit is goed as die hoenders weggeskuif word.”

Daarna het mnr. Jannie de Klerk, ’n boer van Graaff-Reinet wat die nodige infrastruktuur gehad het, hom by die kontrakgroeiers aangesluit, en mettertyd het die span uitgebrei tot die huidige 11 kontrakgroeiers.

Dos Santos sê die kontrakgroeiers kry tans die kans om hul produksiekapasiteit uit te brei voor nuwe groeiers ingeneem sal word. Die boere se hokke is só ontwerp dat bykomende hokke net bygelas kan word.

Sy grootste vrees is dat hy nie sy kontrakgroeiers kan betaal nie, “want dit is gewoonlik die laaste ou wat in die ry staan”.

Elke boer kry tans ’n week se hoenders om groot te maak. Die kleinstes lewer 4 000 hoenders per week en die grootste boer 20 000 hoenders per week. “Solank hulle van een ouderdomsgroep is, kan jy honderdduisende hoenders aanhou. Jy moet net genoeg water hê.”

Daar word klem gelê op waardetoevoeging om meer vir die hoendervleis te verdien.

ANTIBIOTIKAVRYE HOENDERS

Noorsveld se vryloophoenders, van die ras Arbor Acres, is afkomstig van Caledon Hatchery by Caledon. Hulle word in ’n negeweeksiklus grootgemaak. Hulle word vir vyf en ’n half weke uitgegroei, waarna die hok 17 dae lank leeg staan – ’n voordeel in die ewige stryd teen siektes.

Noorsveld se hoenders word op 38 dae geslag wanneer hulle gemiddeld 2,4 kg weeg. “Ons het al agtergekom dat die vinnig groeiende hoenders se vleis minder smaaklik proe en soms melerig is.”

Dos Santos sê hulle het met gewone hoendervoer begin, maar toe oorgegaan na antibiotikavrye hoenders, wat beteken geen antibiotika word gebruik om die hoenders teen siektes te beskerm nie. Dit is moeiliker om hoenders sonder antibiotika groot te maak, en hulle groei stadiger. Omdat die hoenders vrylopend is, gebruik hulle boonop meer energie.

Die kontrakgroeiers begin ook hoendervleis lewer onder die Homegrown-handelsnaam van hoenders wat nie met geneties gemodifiseerde (GM) voer grootgemaak is nie. Die voermaatskappy wat hulle gebruik, formuleer die voer sodat die hoenders by die boerderye se omstandighede aanpas. Die groter boere lewer tans die antibiotikavrye, vrylopende hoenders, en die kleiner produsente die nie-GM-gevoerde hoenders.

Mnr. Gerrit dos Santos

KAROO SE VOOR- ÉN NADELE

Die warm, droë klimaat van die Karoo is voordelig om siektes en vrektes te beperk, sê mnr. Leonard Wright, een van die kontrakgroeiers.

Die Karoo stel egter ook vele eise aan hoenderboere. Genoeg water van ’n goeie gehalte is skaars, en daarby is hulle ver van Epol en Profile se voerfabrieke op Worcester en in die Paarl.

Die hoë temperature in die somer bring mee dat die hoenders se voeromsetting laer is. Volgens Dos Santos vind hulle egter dat die hoenders aan die klimaat gewoond raak. Hulle het nogtans verskeie planne gereed, soos om bevogtigers te gebruik en net 15 hoenders per vierkante meter aan te hou, pleks van die gebruiklike 22.

’n Voorvereiste is dat ál die boere se dakke geïsoleer moet wees.

Volgens mnr. Anton Scheffer, ’n kontrakgroeier van die plaas Palmietfontein naby Klipplaat, is die temperatuurverskille tussen uiters warm somers en koue winters baie moeilik, aangesien temperatuurbeheer een van die belangrikste komponente is om hoenders groot te maak.

Vir mnr. Bradley Dodds, die jongste kontrakgroeier, is ontydige kragonderbrekings weer ’n struikelblok.

Noorsveld Hoenders koop vrylopende Abor Acre-hoenders aan van ’n broeiery by Caledon in die Wes-Kaap.

SLIM GEBRUIK VAN ARBEID

Die meeste kontrakgroeiers is veeboere, wat hul plaaswerkers nou doeltreffender in albei vertakkings kan aanwend. “Die hoenderboerdery kos die boere in werklikheid nie baie meer wat salarisse betref nie,” sê Dos Santos.

Wright, wat al die afgelope 30 jaar met Angorabokke en Merinoskape op die plaas Paardefontein naby Jansenville boer, lewer al drie jaar lank hoenders aan Noorsveld. “Met die huidige droogte én in normale omstandighede is dit ’n goeie kontant- inspuiting vir my boerdery. Dit het dit ook moontlik gemaak om een van my seuns by die boerdery te betrek.”

Sy toekomsplanne is om sy ander seun ook by die boerdery te betrek.

Volgens Dodds van die plaas Meerlust, ’n sesdegeslagboer wat ook skape, bokke en wild aanhou, is dit ’n voorreg om toegang tot Dos Santos se kennis te hê. “Sy kennis van voëls strek wyd en hy is net ’n oproep weg, al bel jy snags.”

Scheffer sê die langdurige droogte het hom gedwing om alternatiewe inkomstebronne te oorweeg. “Die hoenderboerdery beteken dat ons ’n meer standvastige inkomste kan genereer op ’n vaste grondslag wat nie van die veld afhanklik is nie.”

Hy lewer tans nog min hoenders, maar brei uit. “Noorsveld Hoenders het reeds ’n verskil in my boerdery gemaak. Met die langdurige droogte het dit gehelp om ons voortbestaan op die plaas te verseker.”

Dodds beaam dat die byvoeging van die hoendervertakking baie help met die boerdery se kontantvloei tydens die droogte. Hy is ’n opgeleide elektrisiën, en nadat hy by sy pa op die plaas aangesluit het, het hy besluit om die boerdery te diversifiseer.

Mnr. Leonard Wright

BEMARKING, BEMARKING

Dos Santos sê sy idee is om hoendervleis van die beste gehalte teen die goedkoopste prys op die rak te sit, en om meer vir sy hoendervleis te kan vra. “Dit is dus nie soseer om meer hoendervleis op die rak te sit nie, maar om my handelsnaam, wat aan gehalte gekoppel is, só te bou dat ek ’n premieprys kan kry.”

Hy het nog nie alles bereik wat hy graag wil nie, maar hy meen Noorsveld kon hierdie doelwit reeds regkry met sy vlerkies en in ’n mate met die vars hoendervleis. “As ek net R1 per kilogram méér kan vra, sal dit winsgewender wees. Dit is hoe klein die marge tussen ’n wins en ’n verlies is.

“Dit gee ons ’n voorsprong bo die groot verskaffers dat ons sorg ons gehalte en diens aan kettingwinkels is reg.”

Dos Santos maak eerstens seker dat die hoendervleis op die oog af skoon en aan- treklik is, met geen vere nie. “Onthou, indien die mikrobioloog sê die bakterietelling is hoog of laag, beteken dit nie veel vir die koper nie. Dit is belangrik dat die bakterietelling reg is, maar dit is nog belangriker dat daar geen vere aan die hoender is nie.”

Die hoendervleis word so vars moontlik aan plaaslike supermarkte gelewer. As ’n bestelling geplaas word, word die hoenders dieselfde dag geslag en deur die nag verpak, en die volgende dag na die winkel gestuur.

Hoendervleis wat langer in die koelkamer gehou word ná slag, lewer ’n sappiger, geuriger produk. Die hoenders hang vir ses tot agt uur in die koelkamer, teenoor hoenders van groter produsente wat gewoonlik twee uur lank hang. “Ons verloor 3% lewende gewig, maar uiteindelik proe die vleis beter en is die gehalte hoër.”

Hoenderverkope is ’n ingewikkelde balanseertoertjie, aangesien verskeie faktore kopers se gedrag beïnvloed. “Wanneer die Springbokke ’n groot wedstryd verloor, braai die ouens minder, veral van die waardetoegevoegde produkte.”

Die weer kan ook ’n impak hê, en dan sit Dos Santos of die winkel met die produkte, met sommige van die winkels wat die boer verantwoordelik hou vir produkte wat nie verkoop nie.

Met die jare het hy geleer watter verskil verpakking kan maak. Een van die gewildste verkopers waarmee hulle nie kan voorbly nie, is vlerkies, waarvoor hulle ’n hoër prys per kilogram vra. Dit is te danke aan die vorm waarin die vlerkies verpak word.

Dos Santos het aanvanklik gesukkel om die vlerkies verkoop te kry, maar toe sien hy hoe vlerkies in ’n blomvorm verpak word in ’n supermark. Hy het dié idee met groot sukses vir Noorsveld se vlerkies ingespan. “Dit is waar ek geleer het van mooi en netjiese verpakking, en hoe belangrik dit is om vet af te sny.”

Me. Janine dos Santos

GROOT WERKSKEPPER

Noorsveld is een van die grootste werkskeppers op Jansenville en verskaf werk aan nagenoeg 150 mense.

Die abattoir is op Dos Santos se plaas gebou aangesien die munisipale water van swak gehalte is. Dit beteken egter dat die abattoir se werkers daagliks die swak grondpad na sy plaas in Noorsveld se busse moet trotseer. “Ons baklei elke jaar met die munisipaliteit daaroor.”

Boonop val van die kratte op pad na die markte om, wat beteken die produkte lyk nie altyd so mooi soos wat hulle dit wil hê nie.

Dos Santos het sy een dogter, Janine, sedert 2019 by die besigheid betrek, en haar rol raak ál groter. Sy klem is nou meer op die kontrakgroeiers en sy eie veeboerdery, wat bestaan uit Merinoskape en Angorabokke. “Ek gee haar ál meer verantwoordelikhede, veral die dinge waarvan ek nie hou nie, soos oudits,” sê hy skertsend.

Sedert haar aansluiting by die onderneming het Janine al ’n paar veranderinge aangebring. Sy kry tans ’n ouditstelsel vir die verskillende winkels gereed. Verskeie supermarkte het hul eie ouditstelsel en aanvaar nie die staat se vleishigiënestelsel nie.

Sy het ook begin om bewusmaking van die boerdery op dreef te kry. “Ek het vir my pa gesê hy sal moet uitbrei. Almal is op Facebook en Instagram, en jy moet in daardie rigting gaan,” vertel sy.

Janine behartig ook die debiteure, kry nog winkels aan boord en stryk die reëlings uit om AFSQ- (Agency for Food Safety and Quality) sertifisering vir die vryloophoenders by alle boere reg te kry.

Die droë lug van die Karoo is voordelig vir die grootmaak van hoenders, want die voorkoms van siektes is laag.

HOENDERINVOER MAAK SEER

Een van Dos Santos se grootste probleme is die goedkoop ingevoerde hoendervleis. “ ’n Paar jaar gelede was 80% van my verkope aan deli’s in die supermark waar kos berei word, en nou is dit sowat 5%.”

Ingevoerde hoendervleis kos omtrent 40% minder as Suid-Afrikaanse hoendervleis. Van die hoendervleis word teen minder in Suid-Afrikaanse supermarkte verkoop as waarteen dit in die land van herkoms verkoop word.

Boonop beweeg die prys van hoendervleis min. Die inflasiekoers by vars hoendervleis was die afgelope jaar -4,5%. In teenstelling daarmee het voerpryse met sowat 20% of R1 000 per ton in die afgelope jaar gestyg.

Hoewel Noorsveld as ’n nisverskaffer beskou word, raak die laer hoendervleispryse en hoër voerpryse sy sak. “As ons filette R75/kg gaan kos, en die grootmaatprodusente s’n kos R59/kg in die winkel, sal die koper twee keer dink,” sê Dos Santos.

SÓ IS trots by werkers GESKEP

Sowat vier jaar gelede het Dos Santos besef sy werkers se ingesteldheid is nie so goed soos dit behoort te wees nie. Tydens ’n besoek aan die Karstenboerdery het dié boerdery se werk met maatskaplike ontwikkeling onder sy werkmag hom beïndruk. “Onthou, Homegrown of Noorsveld bestaan eintlik uit die werkers. Dit is húlle wat dinge gaan maak of breek.”

Hy is terug plaas toe en het besluit om sy plaaswerkers te bemagtig. Hy het belanghebbendes soos die munisipaliteit, departement van gesondheid, die polisie en skole betrek en opleidingsessies saamgestel. Die onderwerpe van die sessies het gestrek van alkoholmisbruik en mishandeling tot algemene gesondheid en begrotings.

“Ek kon sien hoe die opleiding die mense raak wanneer hulle daarmee klaar is, veral die vroue. Die opleiding het ’n trots by hulle geskep.”

Nog ’n verandering was groter bewustheid van elkeen se pos. “Nou weet hulle die werker wat die hok skoonmaak, is net so belangrik soos die een wat bestellings plaas.”

Dié verandering in gesindheid lewer ’n groot bydrae tot Noorsveld se sukses. “Diefstal word aangemeld, en die werkers het begin verantwoordelikheid aanvaar en praat van ‘ons produkte’ en ‘ons trots’.”

Die regte werkopleiding, soos oor abattoirhigiëne en hoe om die hoendervleis te verpak, help ook baie.

Een van die lesse wat vir die kontrakgroeiers geleer word, is dat die boere moet besef hulle kan nie alles self doen nie. “Ons het al agtergekom as jy iemand leer, geniet die mense dit. Dit doen iets vir hul menswaardigheid om die werk te doen,” sê Dos Santos.

NAVRAE: Mnr. Gerrit dos Santos, 082 824 4014; web: noorsveldchickens.co.za