Drs. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), Sewellyn Davey van die afdeling veeartsenydienste in die Wes-Kaap, Grietjie de Klerk van die department van landbou en Pieter Vervoort van die nasionale dieregesondheidsforum sê in die jongste verslag van Ruvasa oor dieresiektes wat gedurende April aangemeld is, Covid-19 is nes menige dieresiekte hoogs aansteeklik.

Toe bek-en-klouseer in Suid-Afrika uitgebreek het, het buurlande onmiddellik ’n verbod op die uitvoer van diere, diereprodukte en voer geplaas om te voorkom dat die siekte na hulle toe versprei.

Op soortgelyke wyse het owerhede reg oor die wêreld aanvanklik ’n verbod geplaas op die beweging van mense vanaf lande waar Covid-19-uitbrekings voorgekom het, omdat hulle die verspreiding van die virus na hul lande gevrees het. Ongelukkig was dit nie doeltreffend nie aangesien mense by wie die siekte nog in die inkubasieperiode was, as “gesond” toegelaat is. Dit was ook die geval met bek-en-klouseer toe beeste in hul inkubasieperiode as “gesond” vervoer is, maar ’n week of twee later siektetekens gewys het.

Dieregesondheidsamptenare het begin om hierdie diere op te spoor en plekke waarheen die diere geneem is in kwarantyn te plaas. Toe die siekte nie langer teenwoordig was nie, is die kwarantyn opgehef. Dieselfde gebeur nou met Covid-19.

Die afplatting van die kurwe en afstandhouding tussen mense kan ook deurgevoer word na dieresiektes, waar dit belangrik is om verspreiding te voorkom deur kwarantyn in te stel, biosekerheid te verskerp, en instrumente en toerusting waarmee siek vee behandel word gereeld te ontsmet.

’n Voordeel wat veeboerdery bo Covid-19 het, is dat die verspreiding van baie dieresiektes deur inenting en met goeie samewerking voorkom kan word.

Klik hier vir die tabel wat die dieresiektes wat in April by Ruvasa aangemeld is, opsom.