Die Braford is 'n geldmaker in die wêreld se grootste beesvleisproduserende lande. Die mediumraam SA Braford kan dieselfde in Suid- en selfs Suider-Afrika vermag.

Van die 29 vleisbeesrasse in Suid-Afrika wat in telersgenootskappe en klubs georganiseer is, en nog vyf beesrasse met regstreekse inskrywings by SA Stamboek is bykans 30 % saamgestelde of sogenaamde komposiete rasse.

Daarmee bevind Suid-Afrika hom midde-in die wêreldwye neiging van 'n soort kruisteling wat rofweg 'n eeu gelede ontstaan het om die beste eienskappe van twee of hoogstens drie suiwer geteelde rasse in één nuwe ras te verenig. Die bedryf verkies die erkende botaniese term, komposiete, vir sulke rasse. Sulke doelgerigte samestellings is die sinvolste vorm van kruisteelt wat 'n mens kan kry.

Die beste voorbeeld hier te lande is die Bonsmara. Een van die jongstes is die SA Braford wat in 1997 as 'n ontwikkelende ras by SA Stamboek geregistreer is. Die SA Braford-telersgenootskap is die sewende lid van die Wêreld-Braford-konfederasie saam met Australië, Amerika, Argentinië, Brasilië, Uruguay en Paraguay.

Maar ook nie só jonk nie, want die Bonsmara- en Braford-filosofie is in der waarheid tydgenote. Dieselfde tyd toe wyle prof. Jan Bonsma sowat 50 jaar gelede met die eerste kruisings die grondslag vir die Bonsmara gelê het, het die Australiërs die Hereford en die Brahman in hul Braford gekombineer.

Die Hereford se genetiese bydrae tot die nuwe kombinasie word weerspieël in eienskappe soos 'n rustige temperament, uitmuntende vrugbaarheid en karkaseienskappe wat vleis van 'n hoë gehalte lewer.

Dit is waarom die Hereford as een van dié twee vleisbeesrasse vir vleisgehalte in die wêreld beskou word — veral in Amerika, Argentinië en Australië, wat as die drie belangrikste uitvoerlande van top-beesvleis bekend is. Voeg hierby die goeie moedereienskappe, 'n lang lewe, maklike geboortes, aanpasbaarheid by tropiese en subtropiese toestande, weerstand teen uitwendige parasiete, gehardheid en karkasopbrengs van die Brahman, en die resultaat is 'n ras met baie gewenste eienskappe.

Dit is nie 'n wonder nie dat die Braford internasionaal wyd byval vind. Die ras se aanpassingsvermoë, goeie temperament en die feit dat die gehalte en sagtheid van Brafordvleis herhaaldelik in Brasilië en Argentinië gedemonstreer is, is grootliks hiervoor verantwoordelik. Trouens, Brafordgetalle het die afgelope tien jaar merkwaardig in dié twee lande toegeneem en is tans die vinnigste groeiende vleisbeesras in Brasilië — 'n land wat 180 miljoen vleisbeeste het en op pad is om die wêreldleier te word in die produksie en uitvoer van beesvleis.

Dit is ook nie ongewoon om plase in Argentinië te besoek waar met 10 000 Braford-koeie geboer word nie, sê 'n afvaardiging van Suid-Afrikaanse telers wat dié lande in 2003 besoek het.

Die SA Braford is egter nie heeltemal dieselfde as die Braford in die res van die wêreld nie. Dit het só gebeur.

Mnr. Flip de Jager van die plaas Nooitgedacht, Ladysmith, het in 1975 sy Herefords en Brahmane begin kruis ná 'n besoek aan familie in Australië waar die Braford sy belangstelling geprikkel het. In die proses en weens praktiese redes het hy ook Herefordbulle by sowat 100 Afrikanerkoeie gebruik. Net die beste bulle is deurgaans vir die hele teelprojek met sowat 1 000 koeie gekoop.

In 1989 het De Jager besluit om die helfte van sy kruisverse met 'n genesamestelling van 50 % Hereford en 50 % Brahman met Afrikanerbulle te kruis. Dié verse wat 50 % Afrikaner, 25 % Hereford en 25 % Brahman was, is deur Herefordbulle gedek. Die resultaat van laasgenoemde kruising het gelei tot 'n veekundige besluit om die Afrikaner in te skakel as 'n moontlike alternatief vir die Brahman en is die naam van die Suid-Afrikaanse ras verander na SA Braford.

Enkele telers het De Jager se voorbeeld gevolg met die gebruik van Afrikaners, maar die meeste Braford-telers selekteer streng teen diere wat wild is. 'n Swak temperament by die ras is dus ongehoord.

Rasstandaarde ten opsigte van die genetiese samestelling van die SA Braford is soos volg:

  • Hereford: Minstens 50 % (4/8) tot hoogstens 62,5 % (5/8).

  • Brahman: Minstens 12,5 % (1/8) tot hoogstens 37,5 % (3/8).

  • Afrikaner: Hoogstens 37,5 % (3/8), maar onderhewig daaraan dat minstens 12,5 % (1/8) van die Brahman afkomstig moet wees.

    Dit is egter belangrik om daarop te let dat net enkele boere aanvanklik met suiwer Herefords en Brahmane begin het. Die meeste telers gebruik 'n opteelprogram waarbinne enige rooi funksioneel doeltreffende koei met 'n Brafordbul gekruis word. Ná vier geslagte is die resultaat 'n dier met 'n genetiese samestelling van 93,75 % SA Braford en net 6,25 % sogenaamde ander bloed.

    Die telersgenootskap het tans 18 toegewyde lede met sowat 2 200 geregistreerde diere. Elke lid boer op 'n taamlike skaal kommersieel met die ras. Dié boerderye is wyd versprei en dek van baie koue tot tropiese toestande. Oral is die diere goed aangepas.

    Tydens die kwaai koue 'n paar jaar gelede in die Ladysmith-gebied, waar ook die meeste Brafords voorkom, het 'n aansienlike aantal beeste gevrek, maar geen Brafords nie, sover vasgestel kon word. Diere van dié ras is geneig om 'n effense winterhaarkleed te ontwikkel, maar verhaar vroeg in die lente wat 'n gladde haarkleed in die somer verseker.

    Synde 'n betreklik nuwe beesras in Suid-Afrika is prestasiedata nog nie volop nie. Nogtans toon die beperkte inligting dat dié ras ekstensief op gras asook intensief in die voerkraal gedy. Die ras het die potensiaal om as 'n doeltreffende geldmaker 'n wesenlike bydrae tot beesvleisproduksie in Suid- en selfs Suider-Afrika te maak.

    SA Brafordbulle het in die eerste twee jaar van deelname aan die gesogte Oos-Vrystaatse Veldbulklub by Vrede reeds sukses behaal. Sowat 160 bulle van nagenoeg 10 rasse word jaarliks vir dié toets ingeskryf, wat oor 12 maande op natuurlike suur grasveld strek.

    'n Holistiese benadering word by die beoordeling gevolg deur 'n bepaalde waarde aan elk van die volgende agt parameters toe te ken: Daaglikse gewigstoename, Kleiber-indeks, veldvoeromsetting, temperament, skrotumomtrek, bosluistelling, kondisietelling en bespiering. Op grond daarvan word 'n gekombineerde waarde of ekonomiese indeks bereken.

    Hierdie benadering plaas die klem op doeltreffendheid en in 'n mindere mate op groei. Dit maak dit moontlik om rasse met mekaar te vergelyk. In die eerste jaar van deelname was 'n SA Brafordbul algeheel tweede en die tweede jaar eerste.

    Resultate van die amptelike fase C-toetse vir 2002/03 toon 'n uitmuntende gemiddelde voeromsettingsverhouding (VOV) van 5,41:1 vir die SA Braford vergeleke met 'n nasionale gemiddelde van 5,97:1 vir daardie jaar. Teen 'n voerprys van, byvoorbeeld, R1 190/ton kan dié verskil 'n besparing op voerkoste vir afronding van bykans R100/dier tot gevolg hê. Daarom dat die VOV die belangrikste gemete eienskap is wat doeltreffendheid, en dus wins, in die voerkraal bepaal.

    Dit is belangrik om nie 'n vader- of moederlynetiket aan die SA Braford te hang nie. Dis 'n ras wat aangewend kan word vir die produksie van speenkalwers, afronding in die voerkraal en die afronding van osse op die veld.

    Bygaande tabel toon 'n voorbeeld van doeltreffendheid en 'n goeie winspotensiaal.

    <img src=/Images/Photos/20040825150238Braford.gif

    Dit vergelyk die gemiddelde geboortegewig, speengewig op 205 dae, koeigewig teen speentyd, speengewig as persentasie van koeigewig en die tussenkalfperiode (TKP) van die SA Braford met die nasionale gemiddelde van 28 vleisbeesrasse. Dié ras kan dus met reg aanspraak maak op die begrip mediumraam.

    Die gemiddelde koeigewig in Argentinië is 400 kg, met kalwers wat teen speentyd ongeveer 180 kg weeg. Die verskil is dat die Argentyne 'n kalfpersentasie van 90 en meer kry vergeleke met die Suid-Afrikaanse neiging tot groter beeste en 'n laer kalfpersentasie.

    Omdat die indruk by Suid-Afrikaanse boere bestaan dat wit koppe verbind word met oogkanker, word geen bulle sonder algehele pigmentasie om die oë toegelaat nie. Oogkanker kom egter by hoë uitsondering by die ras voor en strook met kenners op dié gebied se mening dat dit nie in só 'n mate 'n gebrek aan pigment is wat tot die toestand aanleiding gee nie, maar eerder swak ontwikkelde oogbanke.

    Ten opsigte van pigmentasie bepaal die rasstandaarde dat F3- en F4-bulle en vroulike diere rooi-bruin moet wees met 'n minimum van 30 % wit aan die kop en pens, maar 100 % rooi-bruin om die oë.

    27 Augustus 2004