Die ekonomiese en produksie-omgewing waarbinne beesboere vleis produseer, word moeiliker. Die afgelope tyd was daar ’n neiging dat die styging in produksiekoste die styging in inkomste oorskry, buiten teen einde 2020 toe vleispryse die hoogte ingeskiet het. Hierdie neiging het winsgewendheid benadeel.

Die Covid-19-pandemie het alles verder kom deurmekaarkrap. Hopelik sal dinge mettertyd na ’n meer normale vlak terugkeer.

Die struikelblok vir die meeste Suid-Afrikaanse vleisbeesboere is dat hulle ’n enkele bemarkingstrategie gebruik. Meer as 70% van alle beeste wat in die formele sektor in Suid-Afrika geslag word, kom uit voerkrale.

Ongelukkig is sommige voerkrale geneig om teen die inheemse rasse te diskrimineer. Die prysdiskriminasie kan wissel van R6/kg tot ’n verbysterende R10/kg vir speenkalwers, terwyl sommige voerkrale glo selfs weier om speenkalwers van inheemse rasse (en sommige ander tropies aangepaste rasse) te koop.

Ek het eerstehandse ondervinding hiervan toe die Landbounavorsingsraad (LNR) in Desember 2020 ’n klompie speenkalwers op ’n veiling verkoop het. Die Bonsmara- en Bonsmara-Afrikanerkalwers, wat rooi was, het gemiddeld 195 kg geweeg en is teen R38,56/kg (BTW uitgesluit) verkoop. Die Bonsmara-Ngunikalwers, wat bont was, het gemiddeld 191 kg geweeg en is teen R28,80/kg (BTW uitgesluit) verkoop. Die verskil was amper R10/kg, oftewel R2 020 per kalf.

Twee jaar oue Nguni-osse by Makhanda. Foto: Leonie Yendall

Dit plaas die lewensvatbaarheid van boere wat met inheemse vleisbeesrasse en sekere tropies aangepaste rasse boer, onder druk. Die era van klimaatverandering, wat ekstra druk op die aanpassing van rasse by hul produksie-omgewing plaas, kan daartoe lei dat inheemse rasse uiteindelik die oplossing bied.

Suid-Afrika het uitstekend aangepaste inheemse beesrasse wat bekend is om hul lae onderhoudsbehoeftes, hoë vleisgehalte, langlewendheid en die vermoë om vanaf die veld bemark te word. Dit is egter laasgenoemde eienskap wat hulle minder geskik maak vir voerkraalafronding, aangesien hulle op die normale voerkraalrantsoen vroeër en op ’n jonger ouderdom vet neerlê as die Britse en Europese rasse.

Dit beteken dat alternatiewe bemarkingstrategieë gevolg sal moet word, soos om diere op ’n ouderdom van 18-30 maande of selfs 36-40 maande regstreeks vanaf die veld te bemark. Beeste jonger as 30 maande het steeds sagte vleis as geen groeistimulante gebruik is nie.

OS- OF BULSTELSEL

Die voordeel van ’n osproduksiestelsel (ook jong bulle tot op 18-20 maande oud) is die buigsaamheid daarvan. Verder stel dit die boer in staat om vir verskillende markte voorsiening te maak en terselfdertyd die risiko’s te verlaag, vergeleke met ’n produksiestelsel waar die hoofproduk ’n speenkalf is. In tye van droogte kan die boer gouer van die osse (jong bulle) ontslae raak en dan hoef hy nie van sy teeldiere te verkoop nie. Sodoende bly sy teelkudde ongeskonde.

Die kuddesamestelling van die twee stelsels gaan drasties verskil. ’n Voorbeeld van die kuddesamestelling van ’n speenkalfstelsel teenoor ’n stelsel met 18 maande oue osse word in die tabel aangedui, soos bereken deur ’n simulasieprogram.

Die aannames wat gemaak is, is ’n plaas van 2 000 ha met ’n drakrag van 6 ha per grootvee-eenheid (GVE). Die gewigte wat gebruik is, was koeigewig = 450 kg, speengewig = 200 kg, 18 maande oue os of bul se gewig = 440 kg, met ’n speenpersentasie van 75%.

Die verbruiker is meer gesofistikeerd en gesondheids- en gehaltebewus as dié van ’n paar jaar gelede. Dit word geïllustreer deur die toenemende vraag na organiese en natuurlike produkte soos veldvleis. Ongelukkig beskryf Suid-Afrika se huidige vleisklassifikasiestelsel nie gehalte nie. Daarom word boere wat vleis van ’n hoër gehalte sonder stimulante vanaf natuurlike weiding lewer, nie noodwendig beloon nie.

Die belangrikste kriteria vir die bepaling van die prys van vleis in die huidige stelsel is ouderdom en vet. Dit diskrimineer by implikasie teen jong diere (klas AB en selfs klas BB) met uitstekende vleisgehalte wat met of sonder aanvulling op veld afgerond is. Die uitstekende gehalte van die vleis van inheemse rasse word ook nie in die huidige klassifikasiestelsel erken nie.

Een van die belangrikste kenmerke van vleisgehalte is sagtheid. Die inheemse rasse is bekend om hul vleissagtheid, wat soms selfs dié van die beste Britse rasse oortref. Dit beteken dat die vleis van jong (klas AB) inheemse beeste net so sag kan wees soos die vleis van klas AA-diere.

Baie min verbruikers is bewus van die gesondheidsvoordele van veldbeesvleis. Dit is wetenskaplik bewys dat dit gesonder is, met die regte balans tussen omega 3- en omega 6-vetsure en hoër vlakke van gekonjugeerde linoleïensuur, wat teenkankerverwekkend is.

’n Afsonderlike bemarkingskanaal of nismark sal dus ontwikkel moet word om hierdie osse te bemark. Dit kan selfs uitgebrei word na die uitvoermarkte van Europa en Asië.

Een voorbeeld is die Afribeef-stelsel. Inheemse rasse sal egter strategiese alliansies moet vorm as hulle ’n sukses van nismarkte wil maak. Verder is ’n betroubare naspeurbaarheidstelsel noodsaaklik.

’n Osproduksiestelsel bied ook ’n bemarkingsgeleentheid vir opkomende en kommunale boere. Hierdie boere besit ongeveer 4,5 miljoen beeste. Die meeste daarvan is Sangas of Sanga-kruisings, en ander tropies aangepaste kruisings.

Jong Charolais-Ngunibulle in die voerkraal.

KUDDEBESTUUR

Die oorskakeling van ’n speenkalf- na ’n osproduksiestelsel kan kontantvloeiprobleme in die eerste jare veroorsaak. Dit kan oorkom word deur die swak produserende en minder vrugbare koeie in die kudde te bemark. Dit is ook nodig om oorbeweiding te voorkom, aangesien meer diere aangehou sal word en ekstra weiding vir die osse nodig is.

Hou ’n kernkudde van slegs die koeie wat die beste produseer. Dit beteken dat daar geen passasiers in die kudde is wat die wins kan benadeel nie. Dit sal verseker dat die nageslag die genetiese samestelling het om aan te pas en in die spesifieke veldtoestande te groei.

Selfs met ’n osproduksiestelsel kan kruisteling waarde toevoeg, soos met die Afrikaner en die Nguni. Veronderstel die gewig van ’n Afrikaneros van 24 maande oud is 434 kg en dié van die Nguni 344 kg. Indien Afrikanerbulle met Ngunikoeie gepaar word en daar is 10% basterkrag, gaan die kruisras-os op 24 maande 428 kg weeg, wat 84 kg meer is as die rasegte Nguni.

Nog ’n moontlikheid vir kommersiële Nguniboere is om van swart Angus- of Charolaisbulle gebruik te maak. In so ’n geval word die Nguni-kleurpatrone “weggesteek” en kan die kalwers aan voerkrale bemark word.

Volgens die simulasieprogram wat gebruik is, sal ’n kleinraamras in ’n osproduksiestelsel gewoonlik lewensvatbaarder wees as ’n speenkalfstelsel, ongeag wat die speenpersentasie van die kudde is. In die geval van ’n medium- raamras sal ’n speenkalfstelsel net lewensvatbaarder as ’n osproduksiestelsel wees met ’n speensyfer van 75% of meer.

TEN SLOTTE

Hoe lank sal Suid-Afrika nog die luuksheid kan bekostig om menskos vir diere te voer? (Ek is al baie oor hierdie vraag gekritiseer.) Alternatiewe produksiestelsels sal dus ontwikkel moet word. 

Prof. Michiel Scholtz is ’n afgetrede spesialisnavorser in toegepaste diereteelt by die LNR-Diereproduksie op Irene waar hy nou op kontrak betrokke is. Hy is onder andere ook ’n geaffilieerde professor in diereteelt aan die Universiteit van die Vrystaat (UV). Erkenning word gegee aan prof. Frikkie Neser van die UV wat die simulasieprogram ontwikkel en insette vir hierdie artikel gelewer het. E-pos: GScholtz@arc.agric.za