Vraag

Ek verstaan dit is nie ’n goeie idee om twee bulle in dieselfde kamp te laat saamloop nie. As die twee bulle snags saam op kraal gehou word met slegs ’n gewone draadheining wat hulle skei, sal hulle noodwendig die draad breek en met mekaar baklei? (Die bulle is ’n Angus – vyf jaar oud – en ’n Bonsmara – een tot twee jaar oud.)

Antwoord

Dit is baie moeilik om te sê wat reg en verkeerd is in hierdie geval. In baie gevalle loop bulle sonder enige probleme saam, en dan besluit hulle skielik op ’n dag om te baklei, met die gevolglike verwoesting van krale en heinings. Gewoonlik baklei bulle ook meer hoe nader dit aan dektyd is.

Daar behoort ook nie baie probleme te wees wanneer die bulle in die veld loop nie, veral as die een vyf jaar oud en die ander een twee jaar oud is. Normaalweg is die ouer bul die dominante bul en die jonger bul sal dit nie in sy nabyheid waag nie. Dit is baie keer ook goed om ’n jong bul saam met ’n ouer bul by die koeie te hê, aangesien die jonger bul die ouer een aanwakker.

Dit is egter moeilik om te bepaal of die bulle in die kraal met mekaar sal baklei. Omdat hul ouderdomme soveel verskil, dink ek nie hulle sal sommer baklei nie, maar dit hang baie van die bulle se temperament af. Die afgelope paar jaar word bulle se temperament by die veldbulklubs gemeet, en dit blyk daar is wel groot verskille in die temperament. ’n Bul wat dreig om mense uit die kraal te jaag, moet eerder uitgeskot word. 

Dr. Hannes Dreyer is ’n veekundige

© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.