VRAAG

Is dit nadelig is om hoendermis met ander veevoer te meng as voer vir herkouers in die droogte? Ons kan hoendermis by ’n ander boer kry, maar ons weet nie of dit ’n risiko kan wees vir siektes of bemarkingsvereistes nie. Ons skuldlas is hoog en ons wil nie die boerdery benadeel nie.

ANTWOORD

Hoendermis word reeds lank vir beeste, skape en bokke gevoer, ondanks die bepalings van Wet 36 van 1947. Duisende ton hoendermis word na bewering jaarliks aan herkouers gevoer. Daar rus dus ’n verpligting op voedingkundiges om te voorkom dat die onkundige gebruik van hoendermis tot groot verliese lei.

Hierdie uiteensetting is bedoel as ’n waarskuwing en voorsorgmaatreël.

Wat is hoendermis? Dit is ekskreta (onverteerde vaste stowwe) van hoenders. Omdat die mis en urine in voëls gesamentlik deur die kloaka uitgeskei word, bevat hoendermis ook die eindproduk van stikstofmetabolisme, naamlik urinesuur. Anders as by beeste, skape, bokke en varke is die uitskeiding van stikstof deur die niere by hoenders hoofsaaklik in die vorm van urinesuur pleks van ureum.

Twee soorte hoendermis word kommersieel as afvalproduk gelewer, naamlik lêhenmis (layers) en kuikenhokafval (broilers). Vanweë die spesifieke produksiestelsel en ander faktore wissel die samestelling van dié soorte hoendermis aansienlik. Lêhenmis is die ekskreta (mis en urine) van lêhenne wat onder hul hokke op die grond beland saam met wisselende hoeveelhede voer wat gemors word. Die ekskreta van lêhenne bevat hoë vlakke kalsium wat in ag geneem moet word. Na gelang van die tyd wat die lêhenmis op die grond lê voordat dit verwyder word, word heelwat urinesuur reeds mikrobies afgebreek (vervlugtig) en gaan die stikstof as ammoniak verlore.

Kuikenhokafval is die ekskreta (mis en urine) van braaihoenders wat in die voertyd van sowat agt weke in die hokke op plantaardige afvalmateriaal (hooi, doppe of skaafsels) versamel. Die vog in die ekskreta word deur die afvalmateriaal op die vloer geabsorbeer, maar dit verdun ook die ekskreta. Die kuikenhokafval se stikstofinhoud is dus heelwat laer as dié van lêhenmis.

In albei soorte hoendermis word stikstof mikrobies na ammoniak afgebreek, wat die slymvliese van hoenders se lugweë irriteer. Daarom moet hoenderhokke altyd goed belug word sonder om trekke te veroorsaak. Die urinesuur in hoendermis is ’n goeie bron van nie-proteïenstikstof vir herkouers. Die mikrobiese afbreek van ureum en urinesuur lewer ammoniak wat deur rumenmikrobes vir de novo sintese van aminosure gebruik word.

Die tempo waarteen rumenmikrobes urinesuur in die retikulorumen na ammoniak afbreek, is egter baie stadiger as met ureum. Daarom is die gevaar van ammoniakvergiftiging met hoendermis taamlik laag vir herkouers, selfs wanneer groot hoeveelhede hoendermis gevreet word.

Heelwat vrektes kan wel onder herkouers veroorsaak word deur die gebruik van hoendermis as ’n voerbron. Dit kan gebeur wanneer hoendermis aan herkouers gevoer word sonder dat hulle spesifiek teen lamsiekte ingeënt is.

Hoë vlakke van koper, spesifiek in kuikenhokafval, hou ook ’n groot gevaar vir skape in. Mettertyd bou die koper passief op in skape se lewer en tydens ’n toestand van erge spanning kan die koper skielik vrygestel word en akute kopervergiftiging veroorsaak.

Hoendermis word dus op eie risiko en verantwoordelikheid aan herkouers gevoer.

Prof. HO de Waal is ’n veevoerkenner van die Universiteit van die Vrystaat.