Borane word nie verniet Afrika se geskenk vir sy beesboere genoem nie. Dié Afrikaras se gehardheid en aanpasbaarheid is oor eeue heen in hul gene vasgelê en hulle verg min onderhoud. Op Kenia se uitgestrekte grasvlaktes wei Borane in harmonie met die wildlewe. Saans word hulle in opslaankrale teen roofdiere beskerm en bedags loop ’n beeswagter heeltyd saam met die trop. Daar vorm ’n hegte band tussen trop en veewagter.

Ondanks hul geharde uiterlike is Borane saggeaard, vertel die telers wat al sedert 1995 in Suid-Afrika met hulle boer. Dat dít die ras is waarop die negejarige Zippo Lamprecht in 1999 met die eerste oopgopslag versot geraak het, kan ’n mens verstaan. Daar is iets van dieselfde sagtheid en rustigheid in sy geaardheid te bespeur. Zippo was sy bynaam aan die Landbouskool Landboudal op Jacobsdal. “Almal ken my so en ek verkies dit so”.

Lamprecht is op sy gelukkigste in die veld saam met sy beeste op die familieplaas, Mijnhartsrus, met sy rifrugteef, Lola, al stertswaaiend op sy hakke. Daar is ook skape, perde en koivisse wat in die beeskrippe en plaasdamme rondswem. Op Dewetsdorp is hy as “ons kaalvoetboer” bekend, want aan skoene het dié plaaskind nie erg nie.

“My pa het my eerste bees vir my op vyfjarige ouderdom gegee. Van daardie dag af het ek maar my ou klein kudde opgebou. Toe ek die Boran vir die eerste keer sien, was dit my mikpunt om met hulle te boer,” vertel Lamprecht.

Sy dankbaarheid teenoor sy pa, Adriaan, duik kort-kort tydens die onderhoud op. Hulle woon nie saam op die plaas nie, maar help mekaar met hul onderskeie boerderye, wat ook op huurgrond bedryf word.

“My pa het my van jongs af ondersteun. My beeste het saam met sy beeste geloop. Ek het baie by hom geleer en ek sal hom altyd dankbaar wees. In ’n stadium het hy die rieme losgemaak dat ek my eie foute kan maak.”

Die pad na die plaas Mijnhartsrus in die distrik Dewetsdorp in die Vrystaat. FOTO: JOHAN NORVAL

KENIA TOE

Dit was op Ermelo, waar hy tydens ’n skoolvakansie by mnr. Schalk van Oudtshoorn, ’n vriend van sy pa, op die plaas gaan kuier het, dat hy sy hart op ’n Boran verloor het. Maar niks het in sy skoot geval nie. Hy moes self planne beraam om geld in die hande te kry om een te koop.

“Dit het my ’n tydjie gekos. Ek het in 2004 my eerste Boran gekoop toe ek 14 jaar oud was. Daar het ek begin tot waar ek nou is. My stoetery, Bloodline, het in dié stadium 432 vroulike diere en 116 manlike diere. Ek boer al oor die 15 jaar met Borane en ek was nog nie een oomblik spyt nie.”

In 2007 is hy en sy pa saam met ’n aantal Suid-Afrikaanse Borantelers Kenia toe op soek na teelmateriaal. As 16-jarige seun was dit ’n leerskool soos min om te sien hoe die Borane in hul streek van herkoms in harmonie met die natuur wei. Meer nog, dit was ’n geleentheid vir ’n jong seun met groot drome om by die beste telers te leer.

Mnr. Francois Smit, Boranteler van Derby in Noordwes, was een van die telers wat hom op dié toer oor die tiener ontferm het.

“Wat my van die begin af van Zippo getref het, was hoe leergierig hy was,” vertel Smit. “Hy het moeite gedoen om van ’n jong ouderdom al te verstaan watter eienskappe ’n stoetdier moet hê. Hy het toe reeds ’n fyn waarnemingsvermoë gehad, soos ’n goeie stoetboer moet hê.”

Smit beskryf Lamprecht as iemand wat sy kundigheid in die veld op die harde manier geleer het. “Na my mening bou jy minstens tien jaar aan ’n stoetery. Al is Zippo dus nog baie jonk, het hy reeds die lang roete gestap en sy stoetery stadig en metodies opgebou.”

Bloodline Boran se vroulike diere word geteel vir vrugbaarheid, goeie melk­produksie en groei. FOTO: ZIPPO LAMPRECHT

GRASBOER

Lamprecht het vir die graad BAgric aan die Universiteit van Vrystaat gaan studeer en sê die belangrikste ding wat hy daar van beesboerdery geleer het, is dat hy nie met beeste boer nie, maar met gras. Hy beskryf sy boerderyfilosofie as holisties en so na as moontlik aan die natuur.

“Ek glo ’n bees moet vir my geld maak. Ek moenie genoodsaak wees om hulle spesiaal op te pas nie. Dit is waarom die Boran só goed inpas by my filosofie. Daar is absoluut minimale siektebekamping. Ek dip glad nie, en ons voer nie ekstra nie. My beeste leef van die veld af.”

Hy het die bewaringsboer mnr. Johann Zietsman se kursusse oor ultrahoëdrukbeweiding bygewoon en sê dié stelsel maak vir hom sin. “Om vir jou ’n voorbeeld te gee: Die aanbeveling vir ons omgewing is dat die drakrag 7 ha per grootvee-eenheid is. Ek druk hom soms al tot by 3 ha per bees. Ons pas dié metode al langer as tien jaar toe en die veld het definitief verbeter.”

Só het hy danksy hoëdrukbeweiding stadig maar seker ontslae geraak van terpentyngras in sy beeskampe. Omdat die beeste in dié stelsel nie te selektief kan bewei nie, word die minder smaaklike grasse ook bewei.

“Terpentyngras is nie ’n diepgroeiende gras wat hou van druk nie. Op dié manier het ons dit taamlik weggewerk en het die rooigras vermeerder. Dit het ons baie gehelp om die drakrag te verhoog.”

Hy probeer sy kampe kleiner maak en bewei dit dan met groter troppe sodat die kamp relatief vinnig klaar bewei word en die diere dan aanskuif. Lamprecht laat hom egter deur die natuur lei.

Bulle moet aan Bloodline Boran se gewenste ekonomiese eienskappe voldoen en aan die bouvormkant genoeg vleis dra. FOTO: LISA VERWEY

UNIEKE EIENSKAPPE

Hy onderskei nie tussen sy kommersiële vertakking, bestaande uit Boran-kruisbeeste, en sy stoetery nie. Inteendeel, in ooreenstemming met sy filosofie boer hy juis ’n bietjie harder met sy stoetbeeste.

Hy sê die Boran se unieke eienskap van tropsgebondenheid werk in sy guns. “Jy sal altyd sien Borane bly in ’n troppie. Hulle versprei nie. Hulle bly bymekaar en wei bymekaar, want dit is hoe hulle geteel is om te wees.”

Lamprecht glo dié tropsgebondenheid is ook ’n eienskap wat Borane uiters geskik vir ultrahoëdrukbeweiding maak. “Borane is klaar geteel om in ’n groep te wei. Dus sal die stres heelwat minder wees.”

Hy werk sonder arbeid en doen alles wat op die plaas gedoen moet word, self. Dít, sê Lamprecht, is net moontlik omdat die Borane só selfversorgend en mak is. “Jy het ’n matriargkoei en waar sy gaan, sal die trop haar volg. Ek werk eintlik net met haar. Sy vat voor en die bul kom agterna en kyk dat niemand agterbly nie.”

Hy vertel met ’n tikkie heimwee dat hy sy vorige matriarg, wat vir tien jaar voorgevat het, op sy produksieveiling in Februarie verkoop het. Sy was só mak dat as hy ’n hek oopgemaak en haar aangesê het om kraal toe te gaan, dit presies is wat sy gedoen het.

“Dit was moeilik. Ek is ’n ou wat sentimenteel is oor my beeste, maar ’n mens moet ook realisties wees. Sy was al 12 jaar oud. Die koper gaan vorentoe net so goed uit haar voordeel trek as hy haar byvoorbeeld vir embriospoeling gebruik.”

Dit lyk of langlewendheid nog een van die ras se voordelige eienskappe is. Volgens Lamprecht het hy een koei wat al 18 jaar oud is, maar steeds produktief is en elke jaar swaar kalwers speen.

Hy weeg kalf en koei by geboorte. Om dié weegproses te vergemaklik, posisioneer hy sy krippe om naby die krale te wees. Die koeie kalf op die veld, maar kom dan binne die eerste twee dae daarna krip toe om water te drink. Dan vat hy hulle in die kraal in om te weeg.

“Die Borankalwers is van geboorte af lewenslustig. Van die oomblik dat hy gebore is, wil die kalf net suip en hy stap saam met sy ma.”

In Februarie vanjaar is Bloodline Boran se tweede produksieveiling op Dewetsdorp gehou. Daar is 140 uitsoekdiere op die veiling aangebied, onder meer van die stoetery se beste bulle. FOTO: ZIPPO LAMPRECHT

PRAKTIESE PLANNE

Dit is al tien jaar dat Lamprecht permanent op die plaas is en die boerdery alleen behartig. In dié tyd het hy praktiese planne bedink om die werk makliker te maak, soos om opslaankrale te gebruik. “Jy leer deur iets te probeer en as jy sien dit werk nie, beraam jy nuwe planne. Jy is nooit te oud om te leer nie.”

Nóg ’n plan wat lekker inpas by sy filosofie om saam met die natuur te boer, is om koivisse in sy krippe en sementdamme te laat rondswem. Die visse raak ontslae van enige slik wat aanpak.

Water word met windpompe uit boorgate gepomp, hoewel daar op die huurgrond ook op reënwaterdamme staatgemaak word. In die droogtetyd het sy ondergrondse water taamlik goed gehou. “Alles gaan oor bestuur en jy bestuur dit in ’n rigting tot die water weer reg is.”

Só het Lamprecht in die droogtetyd ’n ruk lank nie kunsmatige inseminasie toegepas nie, bloot omdat dit nie ekonomiese sin gemaak het nie. Hy pas in vitro-bevrugting en gewone embriospoeling by koeie toe en probeer gereeld programme deurloop om die teelmateriaal te verbeter.

Hy boer nie in ’n gebied waar gevaarlike siektes voorkom nie. Omdat hy sy geharde beeste so na as moontlik aan die natuur teel, doseer hy hulle glad nie en behandel hy hulle nie teen bosluise nie.

“Net my veilingsdiere wat na ander kopers toe gaan, word behandel. Ek het sterk biologiese sekerheid. Ek sal ook nie enige dier inkoop nie. Hulle moet vry wees van besmetlike misgeboorte (brucellose).”

Die koeie speen maklik kalwers van meer as 50% van hul eie gewig. FOTO: ZIPPO LAMPRECHT

VRUGBAARHEID

Lamprecht is streng op genomiese eienskappe ingestel, waarvan vrugbaarheid een van die belangrikstes is. Sy dektyd strek van Oktober tot Desember, ’n bietjie later as wat normaalweg die geval is.

“Ons het gekyk na die koeie met ’n goeie tussenkalfperiode (TKP) en ’n grafiek getrek om hul TKP te vergelyk met die tyd van die jaar wanneer hulle kalf. Die natuur het self vir ons gesê ons moet ’n bietjie later begin. Die kalf wat jy speen, is miskien bietjie ligter, maar die besettingsyfers is beter.”

Sy stoetery is in 2020 aangewys as die vrugbaarste Borankudde in Suid-Afrika en sy seisoen-TKP vir die jaar is net minder as 370 dae.

Vroulike diere word geselekteer vir vrugbaarheid, goeie melkproduksie en groei. Vroeë rypheid en ’n goeie bouvorm is ook belangrik. “Ek dink nie een eienskap is belangriker as ’n ander nie, maar ek dink ’n koei moet darem vroulik wees en die eienskappe van ’n vroulike dier hê.”

Die kalwers wat op speenouderdom nie geskik is om in die kudde bly nie, gaan voerkraal toe. Die groep jong bulle wat agterbly, ondergaan ’n fase C- en fase D-veldbultoets waar hulle vir verskeie eienskappe getoets word. Ná die toets word die swakker bulle voerkraal toe gestuur. Die bulle word dus met speentyd, op 12 maande en op 18 maande gekeur voor hulle deel van sy stoetery word. Hy vereis dat sy bulle wat bouvorm betref, genoeg vleis dra, genoeg manlikheid, ’n goeie lengte en ’n goeie loopvermoë het.

Telkens keer Lamprecht terug na die belangrikheid van ekonomiese eienskappe. Hy selekteer grootliks vir gehardheid en vrugbaarheid en probeer die beeste wat hy op sy plaas het, se ekonomiese waarde verhoog.

“Ek gebruik altyd die voorbeeld dat as jy jou speenkalf se gewig geneties met 3 kg per jaar kan verhoog, en daar is 100 kalwers gebore, is dit klaar 300 kg wat jy per jaar byvoeg. Vermenigvuldig dit met jou prys, en kyk hoeveel ekstra verdien jy. Vir ’n boer soos ek wat nie ’n ander inkomste het buiten uit my beeste nie, maak daardie ekstra gewig wat ek deur genetiese eienskappe bewerkstellig, ’n groot verskil.”

In die begin het hy baie streng seleksie op sy kudde toegepas om sy diere veldaangepas te kry. Dít het goeie vrugte afgewerp deur die droogte en hy reken die diere wat nou op die plaas is, is reg geselekteer vir sy omstandighede.

“ ’n Mens moet egter nooit stagneer nie. Ek probeer nog altyd verbeter. Sodra jy saam met die natuur begin boer, is daar altyd iets nuuts. Die natuur is nooit dieselfde nie.”

Wat bestuur betref, word daar nie onderskeid getref tussen die kommersiële vertakking, bestaande uit Boran-kruisbeeste, en die stoetery nie. Diere van albei vertakkings moet op die veld kan oorleef. FOTO: JOHAN NORVAL

FAMILIEGEVOEL

Oor die eerbewys vir Kudde van die Jaar is Lamprecht nederig. “Na my mening is dit die gesogste eerbewys wat ’n beesboer kan kry, want alle rasse is betrokke. Ek sê altyd vir mense ek jaag nie eerbewyse na nie. Ek het my visie en my mikpunte wat ek wil bereik, maar die pryse is ’n ekstra erkenning wat ek met groot waardering aanvaar.”

Hy het verlede jaar ook die LNR se nasionale eerbewys vir spesiale prestasietoetsklas-bul ontvang, terwyl hy vyf jaar gelede die LNR se Jong Teler van die Jaar was.

Dit is vir Lamprecht belangrik om in die gemeenskap terug te ploeg, daarom dien hy in die raad van die Boran-beestelersgenootskap. As inspekteur vir die genootskap doen hy sifting en hy is glad nie suinig met sy raad aan nuwe telers nie. “Daar is ’n baie sterk familiegevoel in ons ras. Ons glo in ons ras en dat dit ’n belangrike rol te speel het in Suid-Afrika.”

Dit maak Lamprecht gelukkig om sy dae rustig tussen sy diere deur te bring. Hy glo daaraan om sy veld noukeurig te monitor en elke dag tussen sy diere te loop.

“Die ware vreugde is om tussen daardie beeste te wees en te sien hoe hulle aangaan. Dit gaan nie net oor diere nie, dit gaan oor alles in die veld. Ek hoop mense besef watter belangrike rol alles in die veld speel om ons wêreld in harmonie en balans te hou.”

BLOODLINE-BORANE GEMIDDELDE PRODUKSIEWAARDES OP NATUURLIKE VELD MET minimale LEK
Stoetkudde se gemiddelde seleksiewaardes
NAVRAE: Mnr. Zippo Lamprecht, e-pos: bloodlineboran@gmail.com, 082 396 9071.