"Hooggenoeg is net buite die dorp. Daar is ook ’n mooi standbeeld van ’n man wat staan en rook waar hy oor die vlakte uitkyk,” vertel die vriendelike winkelassistent by die kontreiwinkel op De Rust toe sy hoor ek is onderweg na mnr. Koos le Roux, wat onder meer met 2 200 Angorabokke boer.

Dié sybokhaarboerdery is verlede jaar aangewys as die naaswenner in die Japanse Miyuki Keori-kompetisie se kategorie vir volhoubare sybokhaarboerdery. En dít ten spyte van die fel droogte, wat Le Roux as die ergste in sy 54 jaar as boer beskryf. In sy kantoor pryk ook pryse vir die groentesaad (beet, wortels en uie) wat hy kweek. Die res van sy boerdery bestaan uit 330 Dohne-Merino’s en 45 Angus-beeste. “Diversifikasie is belangrik vir ’n boerdery se kontantvloei. Jy kan nie die hele jaar op een tjek wag nie, want jy het gereelde en heeltydse uitgawes. Die verspreiding van inkomste maak dit makliker om jou vaste personeel te behou.”

Le Roux skerm dat hy nie vir die Miyuki Keori-kompetisie ingeskryf het nie. "Ek het dit so gestel aan die inspekteurs toe hulle hier op die plaas aankom. Toe sê hulle, wel, hulle is nou hier, hulle kan netsowel die inspeksie doen,” sê Le Roux.

Een van die kriteria waarna hulle kyk, is die bestuur en hantering van die kudde. “ ’n Goeie bestuursprogram help jou om jou veekudde te verbeter, risiko’s te verminder en jou arbeid doeltreffend te benut,” sê Le Roux. Oor sy slag met Angoras sê hy: “Die groot ding van ’n Angorabok is jy moet hom reg verstaan. Jy moet weet hoe sy voeding werk, hoe jy hom moet dip en doseer, want dan bly hy gesond.”

Vir Miyuki Keori is omgewingaspekte en dieresorg baie belangrik, en in die lig van die opspraakwekkende Peta-video is die hele bedryf gevoelig oor die kwessie. Dit is hoekom Le Roux meen dat produsente aan die bedryfsregulasies moet voldoen om puik produkte te lewer. “Dan sal hulle verseker wees van ’n goeie mark vir hul sybokhaar.”

Hy meen kopers gee meer aandag aan bokhaarboere wat oor ’n langer tydperk volhoubaar met Angoras boer. Dit verseker hulle van ’n goeie produk vir die toekoms. “Goeie beplanning en goeie bestuur is nie die enigste faktore wat ’n boerdery goed maak nie. Geloof en reën is nét so belangrik.” Die afgelope paar jaar wat die reën wegbly, het ’n man se geloof getoets.

Gee genoeg kos

Ondanks droogtetye is genoeg voeding een van Le Roux se vaste boerderybeginsels. Dit is hoekom hy die ooie tydens lamtyd op die lusern- en garslande laat loop. Die tipiese natuurlike weiveld waarheen die ooie gaan wanneer hul lammers gespeen is, is Karoobossie, spekboom, ghwarriebos en wildepruim. Langs die lope van Olifantsrivier, wat deur die plaas vloei, bied doringboom (blare en saadpeule) en soutbos ook kos.

Die drie soorte soutbos op die plaas het hulle al meermale in die droogte deurgetrek. Joodse soutbos is gewild, maar sukkel in die droogte. Ouman-soutbos se soutgehalte is hoër en die veredelde soutbos verloor nie sy blare tydens die droogte nie. Die gespeende lammers bly tot 18 maande op die landerye en roteer tussen die vyf kampe (altesaam 10 ha). Hulle kry ook mielies as byvoeding.

Die Miyuki Keori-besoek was in ’n stadium toe die droogte Le Roux gedwing het om die Angoras van die veld af te haal of in kleiner kampe te voer, of in kampe met aangeplante weidings te plaas (hy het lusernlande van sowat 80 ha). “Die drie damme op die plaas was byna leeg. Ek het ophou groentesaad plant sodat die bokke genoeg drinkwater kon kry. Ek het wel ’n kans gewaag en lusern en gars gesaai en ’n bietjie besproei sodat die lande reg kon wees vir lamtyd in September. Jy moet jou diere voer om jou plaas te behou en ’n goeie produk te lewer,” sê Le Roux.

Laat September het die reën geval en die sneeu wit uitgesak oor die berge. Maar sulke toestande kan ook dodelik wees indien die bokke nie voldoende skuiling het nie. “As jy voel jy moet ’n baadjie aantrek, kan jy maar weet die bokke kry ook koud.”

Twee groot skure langs die aangeplante weiding bied beskerming aan die ooie en hul lammers teen reën, wind en koue, asook teen roofdiere. “Vandat die berge tussen Meiringspoort en Oudtshoorn afgebrand het, kom hier baie meer rooikatte en jakkalse voor. Omdat hulle hoofsaaklik lammers vang, jaag ons die lammers en die ooie elke aand in die skuur en laat hulle weer soggens uit. Dit werk.”

Lammers bly tot 18 maande op aangeplante weiding. Hulle slaap saans saam met die ooie in die skuur, wat beskerming bied teen reën, wind en koue, asook teen roofdiere.
Die indrukwekkende standbeeld van Piet Schoeman, wat in 1910 oorlede is. Sy familie het ’n foto van hom, deftig uitgevat, Italië toe gestuur om die beeld te laat maak. Dit is in 1912 opgerig.
Die “nuwe” opstal op Hooggenoeg is hoog op ’n koppie gebou, uit die pad van die rivier. Dit is waar die plaas se naam vandaan kom.

Beter genepoel

Benewens voeding en skuiling is ’n goeie skeersel net so ’n belangrike bestuursbeginsel vir Le Roux. Skeertyd is in Februarie en Augustus. “Ek streef altyd daarna om ’n beter skeersel te lewer as wat die mark verwag.”

Deurlopende verbetering van sy kudde is ook deel van sy bestuursplan. Hy meen dit is beter om sy ooie te laat dek as hulle bietjie ouer is – eers op viertand word die ram na hulle geneem.

Die dektyd is in Maart. Hy koop jaarliks vier tot ses stoetramme van verskeie telers om sy genepoel sterk te hou. Sy seleksiedoelwitte is: Goeie styl, karakter en lengte van hare, bouvorm, die hoeveelheid hare op die lyf, die fynheid van hare en geen steekhaar nie.

Die standbeeld

Ek moet net uitvra oor die standbeeld waarvan die vrou in die winkel my vertel het. Die beeld is dié van Petrus Albertus Schoeman, aan wie die plaas voorheen behoort het. Hy was bekend as Piet.

“Hy is in 1910 oorlede,” vertel Le Roux. “Toe my oupagrootjie, Stephanus Daniël Petrus le Roux, die plaas gekoop het, was die opstal nog daar onder in die rivierloop. Hy het die nuwe plaashuis hoër op die koppie gebou. In 1916 het dit baie gereën, die rivier was in vloed en dit het die ou opstal weggespoel. My ouma Magdalena het op die stoep van die nuwe plaashuis gestaan en kyk hoe die water opstoot. Sy sê toe vir my oupa, Ockert Johannes: ‘Die huis is hoog genoeg gebou.’”

Dit is ook waar Hooggenoeg sy naam gekry het. Die besigheid word as De Hooggelegen bedryf.

’n Paar jaar gelede het Schoeman se agterkleindogter, me. Louis-Ann Nel, en haar ma, me. Anna Schoeman (toe al byna 100), na Piet se standbeeld kom kyk. “Hy het altyd gesê hy wil nie in die familiebegraafplaas, in een van die lande naby die rivier, lê nie. Hy wil op die bult lê sodat hy oor die veld kan uitkyk.”

Piet het destyds die grond waarop die nabygeleë Vlakteplaas-stasie gebou is, aan die eertydse Spoorweë geskenk. Die dag van sy begrafnis het die Spoorweë spesiaal ’n trein van Oudtshoorn af laat loop en begrafnisgangers kon gratis opklim.

Nel vertel ’n foto van Piet, uitgevat in ’n pak en met ’n sigaar in die hand, is ná sy dood na Italië gestuur om die standbeeld te laat maak. Dit is in 1912 opgerig. ’n Wonderlike storie, maar tog is daar iets wat krap: Iemand het Petrus Albertus Schoeman se sigaar uit sy hand gesteel en niemand weet wie dit gedoen het nie. “Mense is stout,” sug Le Roux.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.