Só sê mnr. Sameer Singh, ’n navorsingsontleder by Old Mutual.

Volgens hom bestaan sowat 15% van die wêreld se totale diereproteïenmark tans uit natuurlike seekos. Singh meen plantgebaseerde seekos bied toenemend groot moontlikhede vir groei. “Amerika se seekosmark is reeds $15 miljard (sowat R213 miljard) werd. As alternatiewe, plantgebaseerde seekos bygereken word, kan hierdie mark tot $150 miljard (R2,123 biljoen) in Amerika alleen groei.”

Heelparty maatskappye het al dié mark betree. Só het Nestlé reeds ’n plantgebaseerde, kunsmatige tunaproduk op die mark. Tyson, ’n groot internasionale vleisverwerker, het al belê in plantgebaseerde garnale deur gebruik te maak van alge, sojabone en ertjieproteïen.

Conagra Brands vervaardig vleislose hoender-, kalkoen-, bees- en varkvleis, asook visprodukte. Ander maatskappye kombineer peulplante met seewier en alge om salm en paling na te maak.

“Ons kan verwag dat meer maatskappye die plantgebaseerde seekosmark met nuwe produkte gaan betree,” sê Singh.

“Dit is belangrik omdat visbronne tot die uiterste beproef word. Naastenby 31% van die wêreld se visbevolkings word oorbenut. ’n Verdere 58% word tot die maksimum volhoubare vlak deur grootskaalse visvangpraktyke bedreig. Wilde seevis kan eenvoudig nie vinnig genoeg reproduseer om miljarde mense te voed nie.”

Akwakultuur is ’n beter opsie as seevangste, maar word beperk deur probleme soos siektes, die gebruik van antibiotika, klimaatsverandering, die agteruitgang van habitatte en, op lang termyn, die welstand van die visse self, aldus Singh.