Volgens Takadi is die droogte wat verlede jaar in die belangrikste produksiegebiede ervaar is, een van die hoofredes vir die afname. 

Daar word verwag dat die 2017-’18-woloes sal daal tot 49 miljoen kg tot 50 miljoen kg vergeleke met die oes van 52,5 miljoen kg in 2016-’17, die hoogste in ’n dekade.

Die vraag na goeie fynwol is reeds beklemtoon deurdat die nasionale rekord vir die fynwolprys reeds twee keer hierdie seisoen gebreek is. Die Kerneels Greyling-trust het in Februarie die Suid-Afrikaanse rekord vir die skoonwolprys verbeter toe R216,80/kg vir lang nekwol van 15,6 mikron betaal is, met ’n skoon prys van R297,80/kg.

“Die internasionale vraag is ver bo die huidige produksievlakke en dit is waarom daar tans sulke uitskieterpryse gesien word,” sê mnr. Louis de Beer, uitvoerende hoof van Cape Wools Suid-Afrika.

Volgens De Beer is daar ’n geleentheid vir Suid-Afrika om nóg 50%, of 25 miljoen kg, meer wol te lewer vanweë die vraag na wol op die internasionale mark.

“Die wêreldproduksie van wol het afgeneem weens droogte en ander geleenthede buite die wolbedryf.” Hy sê dat die vraag egter dieselfde gebly het. 

Hy sê as Suid-Afrika in die vraag kan voorsien, kan ongeveer ’n bykomende R1 miljard tot die land se bruto binnelandse produk gevoeg word.

Volgens Takadi sal hierdie positiewe sentiment in die wolbedryf waarskynlik vir die volgende vyf tot vyftien jaar voortduur.

Volgens mnr. Danie Vorster, bestuurder van Merino SA, wil dit voorlopig voorkom asof veilingpryse vir Merinoskape tot dusver 20% beter is vergeleke met verlede jaar. Die veilingpryse is in pas met die hoër neiging in wol- en vleispryse.