Die gunstige reaksie van jong ooie op verhoogde voeding sal voorkom dat boere ’n “lammerdroogte” ervaar, selfs as die omgewingstoestande nie ideaal is nie, sê mnr. Giepie Calldo, bestuurder van wolontwikkeling by BKB. “Die ooie se wolinkomste betaal daarvoor, maar dit verg ’n kopskuif.”

Volgens hom het die sogenoemde geharde skaaprasse nie ’n reproduksiefabriek nie en is hulle dus minder ekonomies ten opsigte van produksie en reproduksie oor die hele leeftyd van die ooi.

In sy grootwordjare as plaaskind in die Moordenaarskaroo by Laingsburg moes hy soms te voet help met die skape se trek na die winterveld, sowat 80 km deur die Tankwa se bolope tot by die Ceres-grens.

“Meesal het dit gevoel of die behoefte om te oorleef, ons planne beïnvloed het. Vandag beleef ons dieselfde droogtes. Tegnologie en bestuurstelsels bring ons egter by ’n paar beter planne as in die verlede,” sê Calldo.

Die sukses van kleinveeboerdery word bepaal deur die korrekte bestuur van deurslaggewende bestuurstye. “Dit beteken daar moet altyd in die dier se voedings- en gesondheidsbehoeftes volgens die fase voorsien word.”

Goeie voeding vir jong lammers verseker die reproduksiepotensiaal van die ooi oor haar leeftyd omdat eierselvorming in dié tyd plaasvind. “Eierselvorming van speentyd tot eerste paring is verantwoordelik vir die reproduksietempo. ’n Mens meet die sukses in daaglikse gewigstoename tot ’n ooi se paargewig van sowat 48-51 kg.”

DEURSLAGGEWENDE TYE

Die ander uiters belangrike tye is:

  • Ses maande voor paartyd, ses weke voor paartyd, 14 dae voor paartyd en tot drie weke ná paartyd.
  • Skandering rondom 42-60 dae nadat die ramme uit is.
  • Die middelfase van dragtigheid.
  • Ses weke voor lamtyd, drie weke voor lamtyd en tot drie weke daarna.
  • Ses tot nege weke ná lamtyd.
  • Vanaf speentyd totdat die lam ’n jong ooi is.

Die lammeroes is die boer se opbrengs op sy belegging in die voorafgaande seisoen. Daarom is dit vir elke boer belangrik dat die ooilam met behulp van byvoeding so goed as moontlik presteer wat gesonde ontwikkeling betref.

Die sukses en ekonomie van enige kleinveeboerdery hang van die toestand van die natuurlike hulpbronne af en in welke mate ’n tekort reggestel kan word om in die ooi se behoeftes te voorsien en die genetiese potensiaal vir reproduksie en produksie te benut. Dieselfde geld die bestuur op aangeplante weidings en oesreste.

“Wat mense nie aldag besef nie, is dat die versorging van lammers en dus die sukses van enige reproduksie- en produksiestelsel reeds ses weke voor lamtyd reg moet wees.

SORG VIR DIE LAM

“Die sukses van enige reproduksie- en produksiestelsel begin ses weke voor lamtyd, waarna 72% van die fetusgroei, uierweef- selontwikkeling en primêre wolfollikelontwikkeling tot met geboorte plaasvind.”

Om dus die genetiese potensiaal ten opsigte van groei en wolproduksie te benut, moet in die ooi se groter voedingsbehoefte in dié belangrike tyd voorsien word. Voldoende fetusgroei bepaal die geboortegewig en daaropvolgende liggaamsgrootte, terwyl die uierweefselontwikkeling die potensiaal skep vir verbeterde produksie van bies en melk, wat die geboortegewig en die sekondêre wolfollikelontwikkeling aanvul om die genetiese potensiaal te bereik.

Gesondheidsbestuur en ’n inentingsprogram teen bloednier, pasteurella, bloutong, klem-in-die-kaak en ensoötiese aborsie is belangrik. Spoorelement-aanvulling en ontwurming (op grond van mismonsters) moenie agterweë bly nie.

Om ’n speensyfer van 135% in ’n kudde te behaal, het ’n ooi van 60 kg sowat 870 kg voer nodig, wat die lam of lammers se voeding tot speentyd insluit.

PAARGEWIG VAN DIE JONG OOI

“Die paargewig van die jong ooi bepaal haar reproduksietempo oor haar leeftyd omdat eierselvorming slegs van speentyd tot die eerste paring plaasvind. Dit word deur ’n konstante gewigstoename bewerkstellig,” sê Calldo.

Die ideale paargewig vir goeie reproduksie en produksie is gemiddeld 48-51 kg. Wanneer jong ooie op 12 maande die eerste keer gepaar word, moet hul gewig reeds 80% van hul volwasse gewig wees. Indien hulle op 18 maande die eerste keer gepaar word, moet hulle gewig 94% van hul volwasse gewig wees.

Dié jongooi-paargewig is nodig om die boer se plaasreproduksie- en produksiedoelwit te behaal, naamlik ’n speensyfer van minstens 135% en minstens 4,5 kg wol per teelooi (as 1,35 lammers se wolproduksie teruggewerk word na die ooi, is dit 7,6 kg per kop).

Dit is belangrik om te weet dat ’n ooi van 60 kg sowat 870 kg voer nodig het om ’n speensyfer van 135% te behaal, wat die lam of lammers se voer tot speentyd insluit. Dit help met die bepaling van drakrag.

UITGROEI VAN OOILAMMERS

Ooilammers word sowat 180 dae ná speentyd gepaar. In dié tydperk vind die eierselontwikkeling plaas en die jong ooi groei tot volwassenheid, gereed om te ovuleer en vir die bevrugting van haar eierselle deur die ram se saad.

Sien die groeitabelle hierbo waarvolgens die ooitjie maandeliks in die uitgroeityd geweeg word. Tabel 1 toon die syfers vir paring op 18 maande en tabel 2 vir paring op 12 maande.

TABEL 1: GROEITABEL VIR PARING OP DIE OUDERDOM van 18 MAANDE
TABEL 2: GROEITABEL VIR PARING OP DIE OUDERDOM VAN 12 MAANDE

Dit kos baie om ’n ooilam tot by paar te kry, maar daar is ’n inkomste uit die wolkomponent wat deels daarvoor vergoed. Om in die lam se behoeftes te voorsien, moet voeding in fases verdeel word.

1. Ses weke voor lamtyd tot drie weke daarna (wanneer die baarmoeder herstel het). Die rantsoen se samestelling moet uit 68% totale verteerbare voedingstowwe en 16% proteïen bestaan. Die voedingsbehoefte vir ’n ooi met ’n vierling is 95 kg (@R4,50/kg voer = R427,50); drieling, 75 kg (@R4,50/kg = R337,50); tweeling, 60 kg (@R4,50/kg = R270); en eenling, 45 kg (@R4,50/kg = R202,50).

2. Kruipvoer. Van lamdag tot ’n speengewig van sowat 26,8 kg op 100 dae benodig ’n Merinolam sowat 21,5 kg kruipvoer (@R4,50/kg = R96,75) en ’n vleislam sowat 25 kg (@R4,50/kg = R112,50).

3. Ná speen. Oor die daaropvolgende 42 dae word die kruipvoer tot 250 g/dag verhoog vir ’n gewigstoename van gemid- deld 123 g/dag. Die totaal van 10,5 kg (@R4,50/kg) beloop R47,50. Die lamgewig op 142 dae is sowat 32 kg en ’n gewigstoename van 19 kg is nodig om by die paargewig van 51 kg uit te kom.

4. Jongooilek vir paar op 18 maande. Byvoeding oor 289 dae beloop 140 g/dag, wat daagliks ’n toename van 63 g en maandeliks ’n toename van 1,95 kg beteken. Altesaam 42 kg lek teen R4,50/kg kos R189/ooi om haar gewig ná 289 dae op 50,28 kg te staan te bring. Instandhoudinglek van 50 g/dag tot paar oor 92 dae beteken ’n daaglikse toename van 30 g en maandeliks 1,5 kg. Die totale koste van die 4,6 kg lek (@R4,50/kg) is R20,70. Die ooi weeg ná die 92 dae sowat 54,88 kg.

5. Jongooilek vir paar op 12 maande. Byvoeding oor 222 dae verg 188 g/dag om ’n gewigstoename van 85 g/dag en 2,6 kg/maand te bewerkstellig. Die koste van die totale byvoeding van 42 kg (@R4,50/kg) beloop R189/ooi). Met haar gewig ná 222 dae op 50,9 kg is die ooi reg vir paar. Dié twaalfmaandestelsel bespaar 4,6 kg lek en wen een bykomende lamtyd in haar leeftyd teenoor die 18 maande-stelsel.

6. Prikkelvoeding met ’n goeie produksielek oor 63 dae (14 dae voor paar tot drie weke nadat die ram uit is) beloop 250 g/dag – altesaam 15,75 kg lek (@R4,50/kg) kos R70,87. Die totale koste van hierdie program is R424,83 per dier (paar op 12 maande is R20,70 goedkoper).

Indien op 18 maande gepaar word, is dit 751 dae van die ooilam se geboortedag totdat haar lam verkoop kan word. Die hoeveelheid, gehalte en prys wat die wol behaal, is dus belangrik. Wolinkomste kan bereken word teen produksie van 8,4 kg/ooi en ’n wolprys van R110/kg (in 2020). Die inkomste beloop dan R924/ooi. Sien tabel 3 vir ’n opsomming van uitgawes, inkomste en wins.

TABEL 3: BALANSSTAAT (UITGAWES EN INKOMSTE, 2020-SYFERS)

Die doeltreffende uitgroei van enige vroulike dier slurp baie van die regstreekse wins van die boerdery op, maar ongelukkig is die optimale eierselvorming van die jong ooi nie onderhandelbaar nie, aangesien die lewensreproduksie en produksie deur die korrekte bestuur bepaal word.

Die ooi kan op belangrike reproduksietydperke reageer, soos ses weke voor lamtyd (meerlinge kan ekonomies bykomende voeding ontvang) en lamdag tot drie weke ná lamtyd (die baarmoeder se hersteltydperk wat die daaropvolgende paarseisoen se besetting en lampersentasie bepaal).

Indien die natuurlike toestande verswak, kan met kruipvoeding selfs so vroeg as op 60 dae gespeen word. Die ooi het dan ’n rustyd van meer as vier maande voor die volgende paartyd. Die herstel is goed, die besettingsyfer is hoog en die wolproduksie kan tot 800 g/kop meer wees. 

NAVRAE: Mnr. Giepie Calldo, e-pos: giepie@rfid-experts.co.za, 082 772 4541.
‘Wat nie aldag besef word nie, is dat die versorging van lammers en dus die sukses van enige reproduksie- en produksiestelsel reeds ses weke voor lamtyd reg moet wees.’

TROMPSBURGSE JONGOOIPROJEK

Mnr. Giepie Calldo het op sy plaas, Kopje Alleen, by Trompsburg sy bestuursbeginsels oor die versorging van jong wolskaap- ooie in ’n reproduksieproef van 2003 tot 2011 beproef. “Die proef het bewys dat die voeding en versorging van die speenooi die belangrikste vertrekpunt op die plaas is. Alles begin by die jong ooi,” sê hy.

Omdat die ooie as jong diere goed versorg is, is ’n dragtigheidskoers van 122% met die eerste paring bereik, en ná die tweede paring was die skanderingskoers 148%.

Hy het ook die wolproduksie in ag geneem omdat wol teen ’n hoë speensyfer van 135% tot ’n inkomste van 20% kan bydra. Die treksterkte en kartels van die wol vertel ook ’n storie.

“Daarom is besluit om die skape ’n tyd lank nie te skeer nie. Die twee proefooie (wat as kontrole gedien het) sou altyd by die jong ooie loop, want dit is hier waar ons wou sien of die regte gewigstoename bereik is wat tot voldoende eierselvorming sou lei. In die lengte van die vesel kon geen merkbare verandering gesien word nie, wat op deurlopend goeie bestuur dui.”

Treksterkte- en mikronvariasie was ook nie merkbaar nie, terwyl volgehoue reproduksie gehandhaaf is.

Die twee ooie het elke jaar saam met die speenlammers geloop totdat die lammers as tweetandooie gepaar is, waarna die twee proefooie na die volgende groep speenlammers verskuif is. Die paargewig van die jong ooie het vanaf 40 kg in 2003 tot gemiddeld 51,3 kg in 2009 verbeter toe ’n dragtigheidsyfer van 122%, bepaal deur skandering, by die jong ooie behaal is. Die oomblik toe die jong ooie hul bydrae begin lewer, het die dragtigheidsyfer tot 155% verhoog en die speensyfer tot 137%.

Die wolvag van die langwolooie in die proef het danksy goeie voeding en optimale omstandig- hede saam met jong ooie geen noemenswaardige afwyking in treksterkte getoon nie.

VERLOOP VAN PROEF

Die reënval het oor die proefjare gewissel, en dus die hoeveelheid weiding en die gehalte daarvan. Die byvoeding moes aangepas word om weiding aan te vul. Die jong ooie se paargewig het toegeneem en so ook hul dragtigheid- en speenpersentasie.

Die kartel in die vesel van die proefooie op die ouderdom van 92 maande en 12 dae het konstant gebly. Dit is belangrik, aangesien enige afwyking in die voeding eerste in die kartel opgemerk word.

Die vag se mikrondikte het ook dieselfde gebly, wat dui op goeie, egalige voeding tesame met genetiese fynwol wat nie sterker word met verandering nie.

Die treksterkte van die vag dui van skeer tot skeer in elke reproduksiejaar op goeie voeding en bestuur. Die treksterkte het van 32 Newton tot sowat 37-39 Newton verbeter, ondanks die verhoging van die speensyfer tot 137%.

Die dragtigheidsyfer het verhoog namate die paargewig van 38 kg tot 51,3 kg gestyg het. Die druk op die stelsel vanweë die toename in lammers het ’n verhoogde toevoeging van deurvloeiproteïen nodig gemaak, wat die vag se treksterkte tot ’n aanvaarbare meer as 39 Newton vir superfynwol laat styg het.