Twee van sy bale jongbokhaar is in 2019 teen ’n wêreldrekordprys van R589/kg verkoop en het gemiddeld 24,8 µ getoets teen ’n skoonopbrengs van 89,1% met ’n uitstekende styl, lengte en gehalte. 

Hy het ná sy studie begin grond huur by Adelaide. Omdat wolskape te duur was, moes hy tussen hoenders of Angorabokke kies. Hy het op Angoras besluit. “Danksy doelwitte wat ek vir myself gestel het, onder meer die verbetering in gehalte en die lam- en speenpersentasie, kon ek vorder. Dit bepaal natuurlik die seleksiedruk. Tans is die speensyfer van 110% en hoër baie aanvaarbaar.”

Sy boustene is ordentlike ramme. “Jy moet goeie seleksie en aanteel hê, want dit bou alles op tot die vag op die tafel.”

Die Angoras is sy hoofvertakking met ’n Dorperstoetery as sekondêre vertakking, waar die teling van topdiere ’n afleiding en passie is. Hy maak ook melkverse groot vir ’n melkboer in die Tsitsikamma om sy maandelikse kontantvloei ’n hupstoot te gee.

Sy teeldoelwitte vir Dorperramme, soos lyflengte, konformasie en koppe, dien ook as bloudruk vir seleksie by sy eie Angoraramme. Van der Westhuyzen het sy eie Angorastoetery op die plaas, maar verkoop nie sy ramme op veilings nie. Hy bestuur sy jong Angoraramme soos ’n veldramprojek en evalueer hulle volgens hul prestasie op die veld.

Uit die toppresteerders kies hy ramme om in sy ooikudde te gebruik.

Benewens dat hy ’n groot, sterk ram uitsoek wat groter is as sy ooie, moet die ram se vag van ’n hoë gehalte en egalig wees met ’n aanvaarbare veseldikte van sy nek tot by sy broek. Dit beteken hy kan soveel as moontlik haar in sy hooflyne inklas. Daarby moet die haar goeie styl en karakter hê, en die lengte is ook belangrik om meer gewig te gee. Hy skeer elke ses maande die lengtes B en B+ in goeie veldtoestande.

Vanweë die langdurige droogte het hy veranderings aan sy kuddebestuur aangebring. Paartyd begin eerder vroeg in Februarie as die gebruiklike middel Maart, met lamtyd wat al in Julie begin. Die ooie lam in die lamkampe om sy huis om roofdierverliese te bekamp en sodat hy beter beheer oor die diere het.

Die lammers wat vroeër in die winter gebore word, groei beter. Meer tweelinge word ook gebore omdat die afdroogtydperk vir die ooie langer is. Die haar van die lammers het ook ’n langer groeityd.

Lammers word tans vroeër gespeen vanweë die droogte. Die somerskeertyd vir sy ooie begin gewoonlik teen 15 November, waarna die bokkies gespeen word.

Van der Westhuyzen se sukses lê in sy uitsonderlik geklasseerde skeersel wat hy aan die mark lewer. Hy vermeng en verpak vagte van dieselfde mikron. Hy volg die Every Goat Tested- (EGT) metode om diere volgens die mikron- en ouderdomsgroepe te groepeer en te skeer. — Fredalette Uys 

Navrae: Mnr. Ben van der Westhuyzen, e-pos: bivdw@iexchange.co.za, 083 413 0221.

FYNWOL KRAAI KONING

In 2016 het mnr. Acton van Aardt van die Fairworld-boerdery die familieplaas by Kookhuis, met gravitasiebesproeiing en van die beste weidings denkbaar, verkoop nadat dit 219 jaar in die familie se besit was. Hy het verhuis na Mulberry Grove, ’n meer ekstensiewe plaas tussen Cradock en Middelburg.

Die fynwolskaap het sy man gestaan en met die grootste gemak aangepas van meestal intensiewe besproeiingstoestande na meer ekstensiewe Karootoestande, te midde van een van die ergste droogtes in mense- heugenis. “Dit bewys dat genetiese fynwolskape op enige plek in Suid-Afrika kan aard en aanpas. Dit was nie nodig om enige veranderings aan te bring ten opsigte van bouvorm of woltipe nie.”

As beginnerboer het hy grootte nagejaag weens die onverdiende kleinskapiestigma wat aan fynwolskape gekoppel is. Hy het besef hy moet eerder volgens kg/ha as koppe/ha boer. Deesdae klas die natuur sy ooie vir hom.

Van Aardt meen die wol van ’n boer wat aandag skenk aan eienskappe soos veseldikte, treksterkte en skoonopbrengs, sal verkoop. Vir winsgewendheid moet dit gepaardgaan met lengte en vaggewig. ’n Wolkoper sal meer betaal vir al dié eienskappe.

“Ons selekteer steeds vir dié eienskappe, maar deesdae meer vir die skaap wat vet kan bly en byvoorbeeld breër is oor die rug, met goeie digtheid en die unieke Fairworld-tipe wol met die perfekte olie-waks-verhouding.

“Daar is ’n groot verskil tussen geneties gestabiliseerde fynwol en honger- en lammerfynwol. Ons het ’n spesiale tipe wol wat net by Fairworld en sy klante te kry is, en sal graag ’n handelsmerk wil skep.”

Om die beste te maak van die teelmateriaal, word die beste ramme al langer as 100 jaar jaarliks vir die boerdery uitgehou. “Menige stoetboer het hul eie agteruitgang en ondergang bewerkstellig deur hul beste ramme te verkoop om posisies op veilings te behou en ’n naam te probeer maak.

“Fairworld se mikpunt was om met die regte hulpmiddels die swaarste moont- like skaap met wol van gemiddeld 17 mikron te teel.”

’n Holistiese hoëdrukbeladingstelsel word toegepas op die Bedford-plaas, asook op ’n gedeelte van die Cradock-plaas waar hy nou bly en met hamels boer.

Een van sy beste boerderybesluite die afgelope paar jaar was om ’n hamelfaktor op die Bedfordplaas aan te bring. “Met die goeie wolpryse van sowat twee jaar gelede het jy maklik R600 tot R700 van ’n hamel afgeskeer op agt maande en dit is uit en uit die moeite werd.”

Die langdurige droogte was moeilik. “Die moeilikste was om my kop reg te hou en nie na die doemprofete te luister wat daagliks vertel dat dit besig is om in ’n woestyn te ontaard en dat dinge nie vinnig sal verander nie, en om my eerder te bepaal by my vee wat my deur die droogte sal kry. As die fynwol-Merinoskaap ons familie vir meer as ’n eeu deur al die droogtes op ons grond gehou het, moes ek nooit vir ’n oomblik oor die toekoms twyfel nie.”

Met die droogte het hy geleer voeding en die diere se kondisie is baie belangrik. Daarby is dit belangrik om te alle tye by die plaas se drakrag te bly, aangesien veld- herstel lank duur. — Fredalette Uys

BOERDERYBESTUUR: meer deursigtigheid gevra

Winsgewendheid moet almal se besigheid wees – veral vir die besighede wat geld uit boere maak.

In die 1950’s en 1960’s was wol amper so waardevol soos goud. In 1970 het Suid-Afrikaanse wolproduksie ’n hoogtepunt van 140 miljoen kg bereik. In die vroeë 1990’s het die reserweprysskema (poelskema) in duie gestort. Dit het tot ’n wêreldwye ineenstorting van die produksie van onverwerkte wol gelei.

Wolproduksie in Suid-Afrika beloop tans net 45 miljoen kg, gelewer deur 15 miljoen skape. Omvattende besinning oor en herstrukturering van die wolwaardeketting is nodig. Wol is deesdae ’n tuisbedryf, maar Suid-Afrika het ’n sjampanjebedryf wat met biergeld gefinansier word. Net een mens betaal hiervoor, en dit is die boer.

In Australië betaal boere vanaf net 1,5% kommissie (makelaarstarief) op die verkoop van wol. Australië lewer 325 miljoen kg wol met 75 miljoen skape. Die helfte van die Australiese wolskeersel word deur Australian Wool Handlers (AWH) verwerk, wat danksy die skaalekonomie tot kostebesparing lei.

In Suid-Afrika hoor ons gedurig die wolmakelaar is daar om die boer te dien. Met die meeste makelaars wat steeds 4% kommissie vra, wonder ek of dit die geval is. Daarby finansier die wolboer ook nog ’n “gratis diens” deur veldagente. Hierdie diens moet verander word na een waarvoor die gebruiker betaal.

In Suid-Afrika is daar 120 veldagente in die wolbedryf, die meeste in diens van makelaars. ’n Aantal maak ’n bestaan as private agente. Deur hul advies in ’n diens te omskep waarvoor die verbruiker betaal, sal boere gou uitwerk wat hulle kan bekostig.

Baie van dié veldagente het ’n tweede bron van inkomste in die vorm van ’n “ramkommissie”. ’n Veldagent gaan saam met ’n skaapboer om ramme by ’n stoetboer te koop. Vir sy moeite betaal die ramteler die agent ’n “kommissie” – enigiets van 10-30% van die koopprys. Hierdie praktyk is wydversprei, en onwettig, veral as dit op ’n openbare veiling geskied. Dit is dieselfde as binneverhandeling.

Ek het op die harde manier geleer dat gratis inligting gewoonlik werd is wat jy daarvoor betaal. Dit is die beste om vir goeie inligting te betaal.

Dit bring my by die verantwoordelike wolstandaard (RWS). Net die wolbedryf kan iets met sulke goeie bedoelings opmors.

Sover ek kan vasstel, kom nie een skaap in Suid-Afrika vir die RWS in aanmerking nie. Vorm RWS AW 1 stel dit: Verseker dat geen geneties gemodifiseerde (GM) organismes in die produksieproses op die plaas gebruik word nie. Elke skaap is een of ander tyd in sy lewe aan GM mielies, sojabone of katoensaad blootgestel.

Makelaars gebruik reeds hierdie spesifikasie om wol te bekom. Daar is drie of meer standaarde in die veld, want dit is belangrik dat die makelaar nie die boer aanstoot gee sodat die boer sy skeersel aan ’n ander makelaar toevertrou nie. Daar is tog seker net een standaard wat tel – die internasionale standaard. Ek het aansprake gehoor dat RWS-wol 10-15% meer op veilings behaal.

Die RWS is ’n produksiestandaard en nie ’n bemarkingshulpmiddel nie. Die RWS is in ’n geldmaakgeleentheid omskep. Baie landbou-ondernemings dien net hulself. Hulle het vergeet dat hulle daar is om die boer te dien, en nie andersom nie.

Daar is twee noodsaaklike belanghebbendes in hierdie spel – die boer en die verbruiker. Almal tussenin is net ratjies in die stelsel. Dit raak al hoe belangriker dat ons as boere beheer en eienaarskap van ons landbou-ondernemings behou. — Claude Cloete

Vee ‘oes’ graan vir groter wins

’n Veefaktor wat in harmonie met bewaringsboerderypraktyke in die graanhartland bedryf word, het aan mnr. Cobus en me. Magdel van Coller die mees onlangse kroon as Skaapboer van die Jaar besorg. Hulle wys hoe volhoubare winsgewendheid op sandgrond verkry kan word.

Om dié prys in ’n saaigebied te verower, boonop effens stroomop as bewarings- boer op sandgrond waar dié benadering voorheen voor die voet afgeskiet is, is ’n dubbele slag vir diversifikasie en volhou- bare boerdery.

Die Van Collers van die plaas Libanon, Viljoenskroon, spits hulle toenemend op hul veevertakking toe om verminderde bewerking te laat slaag op sandgrond met 6-12% klei in die bogrond. Hul veevertakking is uitsluitlik op winsgewende vleisproduksie gerig.

“Ek beskou die plaas in sy geheel as ’n voerkraal en beperk die veevertakking nie net tot ’n enkele kampie op die plaas nie. Dit is die goedkoopste manier van boer.”

Hulle benut hul kommersiële SA Vleis- merino- en beeskudde om die risiko van hul graanverbouing te verskans. Reeds in 2005 het Van Coller besef konvensionele bewerkingspraktyke is nie ’n teenvoeter vir erosie nie. Hy het bewys verminderde bewerking saam met bewaringslandboupraktyke kan op sandgrond slaag. Die jaar daarna het hy met dekgewasse begin eksperimenteer.

“Ons is hoofsaaklik saaiboere, maar die volhoubare winsgewendheid van dié boerdery is baie moeilik, gegewe klimaatsuiterstes en kommoditeitspryse wat aan internasionale markte gekoppel is. Boonop moet ’n Suid-Afrikaanse boer op dié vlak met gesubsidieerde produkte uit die buiteland meeding.”

Waardetoevoeging tot graan kan meegebring word deur die verwerking van produkte, wat baie kapitaal verg en ’n hoë risiko inhou, óf deur graan in vleis en wol deur middel van ’n veekomponent om te skakel.

Hul kleinveekomponent is bykans 7% van die boerdery se omset. “Pleks van om voer op te berg (baal en hark) en vee in krale te voer (wat duur is), sien ek die plaas as ’n voerkraal. Die vee bewei derhalwe die veld, oesreste op die lande, weimielies en dekgewasse. In ruil daarvoor kry ek vleis as ’n groeikomponent, bemesting van grond (urine en mis) en kontantvloei.”

Die gewasverbouing kan reg deur die jaar die veevertakking van voer van goeie gehalte voorsien. “Ons vervang basies die wiele van werktuie en stropertafels met diere se kloue en bekke.”

Ondanks die feit dat hulle sterk op die hedendaagse tegnologie, veral in die saaiery, steun, is hul benadering van eenvoud in die boerdery ’n groot deel van hul suksesresep. Sowat 18% van die lande word met dekgewasse beplant om bewaringslandbou toe te pas. Die veekomponent word gebruik om die helfte daarvan vir ’n gunstige kontantvloei te benut.

Dit verlaag die risiko van droogtes en die prysrisiko van kontantgewasse. Voorts word die grond se gesondheidstatus opgebou en dit het ’n goeie bedekking, wat bewaringslandbou soos ’n handskoen pas.

Magdel behartig grootliks die veevertakking, en kan die bydrae wat voeding lewer, nie genoeg beklemtoon nie. “Goeie voeding met ’n hoë proteïen- en energiewaarde moet regdeur die jaar beskikbaar wees. Verder moet jy ’n gebalanseerde, gemengde rantsoen betyds gee, anders kan jy dit maar los.”

Net die beste ramme word by geregis- treerde telers van die ras aangekoop. “Ons kyk veral na vrugbaarheid aan moederskant, bouvorm, speenindeks en wol. Ons kies geharde, aangepaste diere – nie ramme wat vir veilings opgesmuk is nie.”

Die Van Collers se kudde se besettingsyfer is sowat 80%. — Johan Norval

Moet jy voer of nie?

Boer altyd met voer in jou agterkop. Jou geld kan opraak, maar nooit jou voer nie. Hou dit ook in gedagte dat een oplossing nie vir almal werk nie. In die algemeen raak die insetkoste van veeboerdery hoër hoe verder ooswaarts jy in Suid-Afrika beweeg.

Met veeboerdery is om te voer, die vinnigste manier om bankrot te gaan. Die tweede vinnigste is om nié te voer nie. Die goedkoopste voer op enige veeplaas is die veld. Die plan behoort dus te wees om die veld te bestuur om soveel moontlik hoëgehaltevoer uit hierdie “goedkoop” bron te kry. Veldbestuur is dikwels belangriker as die bestuur van die diere op daardie veld.

Dit is belangrik dat die diere aangepas moet wees by die veld waarop hulle loop. Daar word te veel klem gelê op die welstand van die dier ten koste van die welstand van die veld. Elke keer as daar ’n probleem is, word koöperasie toe gejaag om hierdie aanvulling of daardie bymiddel te gaan koop.

By veeboerdery geld die beginsel van hoe minder gekarring word, hoe hoër is die wins. Die grootste, beste, vinnigste en meeste sal nooit die grootste wins lewer nie. Die klem moet op winsgewende diere wees, dus diere wat minder insette benodig.

Die veld het oor miljoene jare heen geevolueer. As dit beskadig word, duur dit ’n ewigheid om te herstel. Deur na die basiese beginsels terug te gaan en saam met die natuur te werk, kan jy diere hê wat binne twee generasies (ses jaar) met minder bestuursinsette floreer. Beskadigde veld kan nie binne ses jaar herstel word nie.

Sekere basiese beginsels moet toegepas word. Ons boer met plaasdiere in ’n “ongetemde” (natuurlike) omgewing. Voordat mense hier aangekom het, het diere reg oor die land gemigreer en in die somer in die koel hoëreënvalgebiede en in die winter op die soetgras van die warmer gebiede gewei.

Geen dier by sy volle positiewe sou uit eie keuse die winter op Dordrecht deurgebring het nie. Deesdae is daar egter heinings wat hierdie beweging beperk. Mense moet dus die een of ander vorm van kunsmatige insette voorsien sodat die diere kan oorleef.

Daar is egter ’n groot verskil tussen voer vir oorlewing en voer vir produksie. Baie boere voer hooi en mielies in die winter. Dit is goed so as dit kostedoeltreffend is.

Sowat 50 jaar gelede is die klem na lekke en ureum verskuif as aanvullings vir die diere deur die winter. Deesdae is die gonswoord ’n mengsel (brew), en as jy baie deftige lekke gebruik, mors jy.

Geen van dié stelsels is verkeerd nie, maar dit is belangrik om van tyd tot tyd jou stelsel te ontleed om dit kostedoeltreffend en funksioneel te kan hou.— Claude Cloete

HERKOUERVOEDING: Verstaan skaap se grootpens en voer beter in droogtes

Die balans van mikro-organismes in die grootpens van ’n herkouer is deurslaggewend vir die dier se gesondheid. Die grootpens of rumen is eintlik ’n fermentasievat. Dit bevat miljoene mikro-organismes, soos bakterieë, protosoë en swamme, wat die voer wat die dier inneem, verteer sodat rumenmikrobes self kan oorleef, groei en vermeerder.

Mnr. Jan Hoon, dierevoedingskundige van die Landbou-ontwikkelingsinstituut Grootfontein by Middelburg in die Oos-Kaap, het op Landbouweekblad en GWK se droogtehersteldag op Brandvlei gesê die samestelling van rumenmikrobes word bepaal deur dit wat diere vreet.

“Dit is daarom belangrik dat herkouers geleidelik aangepas word wanneer hul voer verander word, soos wanneer hulle van veldweiding, wat hoofsaaklik uit ruvoer bestaan, oorgaan na een wat ’n hoë kragvoerkomponent het.”

Daar bestaan ’n volmaakte simbiose tussen rumenmikrobes en herkouers. “Die herkouer verskaf ’n veilige, suurstofvrye omgewing teen ’n konstante temperatuur en voedsel vir die rumenmikrobes. Die rumenmikrobes verteer die voer en die neweprodukte wat tydens die fermentasieproses gevorm word, word deur die dier opgeneem en gebruik vir onderhoud en produksie.”

Vertering in die rumen is ’n ingewikkelde proses. Die hoofkomponente van voer is koolhidrate en proteïene. Koolhidrate bestaan uit strukturele en nie-strukturele koolhidrate. Strukturele koolhidrate bestaan uit sellulose en hemi-sellulose en kom hoofsaaklik in ruvoer voor. Hoe ouer die ruvoer is wanneer dit bewei of gesny word, hoe hoër is die strukturele koolhidraatinhoud en hoe laer is die verteerbaarheid van die ruvoer.

Nie-strukturele koolhidrate word verteenwoordig deur stysel en suikers wat hoofsaaklik in grane en melasse, asook jong weiding voorkom.

Koolhidrate kan beskryf word as ’n klomp glukosemolekules wat aan mekaar gebind is. Nie-strukturele koolhidrate se bindings word maklik verbreek om glukose vry te stel.By strukturele koolhidrate is bindings ingewikkelder en sterker as by nie-strukturele koolhidrate. Dit kan nie so maklik gebreek word om glukose vry te stel nie.

Herkouers kan ruvoer benut omdat rumenmikrobes oor ensieme beskik wat bindings van strukturele koolhidrate kan breek sodat glukose vrygestel word. Dit word dan as energiebron deur rumenmikrobes benut. Rumenmikrobes fermenteer dus koolhidrate om die energie daarin in die vorm van glukose vry te stel sodat hulle dit kan gebruik om hul energiebehoeftes te bevredig.

Die belangrikste neweprodukte van koolhidraatvertering is vlugtige vetsure, metaan, koolsuurgas en hitte. Metaan en hitte verteenwoordig ’n verlies aan energie van sowat 20%.

Die belangrikste vlugtige vetsure is asynsuur, propioonsuur en bottersuur. Dit verteenwoordig 95% van die vlugtige vetsure wat in die rumen gevorm word.

Asynsuur word gevorm as strukturele koolhidrate (vesel) verteer word, en dien as energiebron op weefselvlak. Dit word tydens laktasie aangewend om kortkettingvette (bottervet) in die uier te vorm.

Propioonsuur is die hoofproduk van nie-strukturele koolhidraatvertering (stysel) en word in die lewer omgeskakel na glukose, wat ’n baie belangrike energiebron vir die dier is, veral tydens laktasie.

Glukose is die voorloper van laktose in die uier. Melkvolume is afhanklik van die hoeveelheid laktose wat gevorm word.

Bottersuur word in die rumenwand omgeskakel na beta-hidroksiebuteraat. Dit word op weefselvlak as ’n energiebron aangewend, ook tydens laktasie, vir die vorming van kortkettingvette in die uier.

Die rumenmikrobes gebruik die verskillende komponente saam met energie en ketosure om hul eie proteïen te vervaardig. Só kan die rumenmikrobes groei en vermeerder. — Amelia Genis 

Navrae: Mnr. Jan Hoon, e-pos: janho@daff.gov.za, 049 802 6600/1