Die siening dat herkouers sleg vir die omgewing is en tot klimaatsverandering bydra, volg op die Voedsel-en-Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies se verslag Livestock’s Long Shadow, waarin berig word dat diereproduksie verantwoordelik is vir 18% van die totale kweekhuisgasse, hoewel dit later afgeskaal is tot 14,5% van die totale antropogene (mensgemaakte) kweekhuisgasvrystellings.

Dit is ’n feit dat herkouers (beeste, bokke en skape) groot hoeveelhede kweekhuisgasse produseer, hoofsaaklik in die vorm van metaan deur middel van enteriese fermentasie. Dit is ’n natuurlike neweproduk van anaërobiese mikrobiese fermentasie in die rumen.

Die metaan wat in die rumen geproduseer word, word deur opbreek van winde deur die neus en mond uitgeskei. Ongeveer 80% van die kweekhuisgasse van diere is afkomstig van herkouers.

Terwyl herkouers dus ’n belangrike rol speel in die verskaffing van hoëgehalteproteïene wat noodsaaklik is vir die mens, is hulle die grootste individueel identifiseerbare bron van kweekhuisgasse, spesifiek metaan.

Daarby is hulle die grootste grondgebruikers ter wêreld. Suid-Afrika is ’n duidelike voorbeeld van laasgenoemde. Ongeveer 84% van Suid-Afrika se grond is vir die landbou beskikbaar, maar die meeste van hierdie grond kan nie vir gewasproduksie gebruik word nie. Slegs 13% van die grondoppervlakte is bewerkbaar, met die grootste deel (71%) wat slegs geskik is vir ekstensiewe herkouerproduksie.

ONVERVANGBARE VOEDSELBRON

Herkouers word dikwels as sondebok vir kweekhuisgasse gebruik, maar hul strategiese waarde in die verskaffing van menslike voedsel word buite rekening gelaat. In baie dele van Afrika suid van die Sahara speel herkouers ’n noodsaaklike rol in menslike diëte. Die meeste van die veselryke plantegroei kan slegs deur herkouers gebruik word, wat dit dan omskakel na hoëgehalteproteïen en ander voedingstowwe vir menslike gebruik.

Enige vermindering in die verbruik van voedsel van herkouers (vleis en melkprodukte) sal die inname van die voedingstowwe wat in relatief groot hoeveelhede in vleis en melkprodukte beskikbaar is, benadeel.

Daar bestaan ’n verband tussen vroeë en selfs latere kognitiewe ontwikkeling en die inname van voedsel van herkouer-oorsprong deur swanger vroue en sogende kinders. Die rede hiervoor is dat dié voedingstofbronne ’n hoër biobeskikbaarheid het wat brein- en kognitiewe ontwikkeling stimuleer vergeleke met voedsel van vegetariese of graanoorsprong.

Die immunoglobulien wat in koeimelk voorkom, help die menslike liggaam om bakterieë, virusse en allergene te bestry. Koeimelk kan dus die ontwikkeling van die immuunstelsel in die boonste lugweë stimuleer, wat ’n rol kan speel in die liggaam se verdediging teen onder meer die nuwe koronavirussiekte (Covid-19).

Ondanks die belangrikheid van diereproduksie, word die belangrike rol daarvan in die voeding van die mens geïgnoreer in die onlangse verslag van die EAT-Lancet-kommissie. Pleks daarvan konsentreer dit op die ongunstige uitwerking van voedsel van rooivleisbronne op menslike gesondheid en oorskat die ongunstige omgewingsimpak van veeproduksie.

GASIMPAK VEEL KLEINER

Dit is nie net die EAT-Lancet-kommissie wat die uitwerking van metaanvrystellings van herkouers op aardverwarming oorskat nie. Dit word deur baie ander groepe en politici met hul eie agenda, soos die Vleisvrye Maandag-veldtog, gedoen.

As ’n mens na Amerika kyk, is die grootste bronne van kweekhuisgasse wat vrygestel word, soos volg (2018-syfers): vervoer – 28%, elektrisiteitsopwekking – 27%, nywerhede – 22%, die totale landbousektor (diere en gewasse) – 10%, die kommersiële sektor – 7%, en residensieel – 7%.

Die konsultant dr. Judith Capper dui byvoorbeeld aan indien die meer as 300 miljoen inwoners van Amerika almal aan die Vleisvrye Maandag-veldtog sou deelneem, sal die kweekhuisgasvrystelling met slegs 0,3% verlaag word.

Klimaatsverandering word grootliks gedryf deur die verhoogde produksie van koolstofdioksied (CO2), metaan (CH4) en stikstofoksied (N2O), wat almal geassosieer word met menslike bedrywighede en diereproduksie. Die kenmerke van hierdie gasse, ten opsigte van atmosferiese konsentrasie, atmosferiese leeftyd en verhittingspotensiaal, word in die tabel opgesom.

Die meeste metaan wat deur diere geproduseer word, is afkomstig van enteriese fermentasie deur herkouers. Dit is dus belangrik om die bronne van metaanproduksie te identifiseer soos aangedui in die grafiek.

Diereproduksie en rys is die twee belangrikste enkele voedselbronne vir die ontwikkelende wêreld. Hierdie twee voedselbronne is egter ook verantwoordelik vir die produksie van groot hoeveelhede antropogene (mensgemaakte) metaan.

Diere (16% van enteriese fermentasie en 5% van dierlike afval, insluitende mis) is verantwoordelik vir 21% van die antropogeniese metaan en rysverbouing vir 12%.

’n Eenvoudige berekening kan gemaak word met behulp van die inligting uit die tabel en grafiek . Diere dra by tot 21% van die antropogeniese metaanproduksie (16% van fermentasie en 5% van afval) en die atmosferiese konsentrasie van metaan is slegs 18% van die kweekhuisgasse. Dus is 0,21 x 18% = minder as 4%.

Dit impliseer dat diere deur metaanproduksie slegs verantwoordelik is vir 4% van die wêreld se kweekhuisgasse.

Dit is belangrik om daarop te let dat die verhittingspotensiaal van metaan ongeveer 23 keer meer is as dié van koolstofdioksied, maar dat die atmosferiese leeftyd slegs 12 jaar is, vergeleke met die 100-200 jaar van koolstofdioksied. Hoewel metaan dus ’n groter effek het, is die duur van die impak baie korter. Dit is een van die aspekte wat gereeld geïgnoreer word.

BENUTTING VAN PLANTEGROEI

’n Belangrike vraag om te vra, is wat met die aarde se plantegroei sal gebeur as dit nie deur herkouers gevreet word wat produkte (vleis, melk en vesel) produseer nie? Die volgende drie dinge kan met die plantegroei gebeur:

  • Dit kan gevreet word deur ander diere (wilde diere) wat ook metaan vrystel.
  • Dit kan deur veldbrande verbrand word en koolstofdioksied met ’n atmosferiese leeftyd van 100-200 jaar produseer.
  • Dit kan verrot en stikstofoksied produseer met ’n verhittingspotensiaal van byna 300 keer meer as dié van koolstofdioksied.

Dit is belangrik om daarop te let dat herkouers wild, wat ook metaan vrystel, in ’n groot mate vervang het. Die netto effek kan dus min of meer dieselfde wees.

Gedurende die hergroei van die plantegroei wat deur herkouers bewei is, word koolstofdioksied uit die atmosfeer opgeneem.

Dit staan as koolstofneerlegging bekend. Die bydrae hiervan om kweekhuisgasse te verminder, word dikwels geïgnoreer. Met korrekte beweidingsmetodes kan dié voordeel ten volle benut word.

Verskille in veeproduksiestelsels tussen lande kan ook die koolstofspoor van diereprodukte beïnvloed. Dit is veral die geval tussen ontwikkelde lande in die Noordelike Halfrond (in Europa en die Amerikas) teenoor ontwikkelende lande. Sommige van hierdie verskille hou verband met produksiestelsels (intensief teenoor ekstensief), misopberging en die gebruik daarvan, voerproduksie, vervoer en verwerking. Baie van die huidige metodes om die koolstofspoor te beraam, is gegrond op generiese aannames wat nie die verskillende produksiestelsels in ag neem nie. 

Prof. Michiel Scholtz is ’n afgetrede spesialisnavorser in toegepaste diereteelt by die LNR-diereproduksie-instituut op Irene waar hy nou op kontrak betrokke is. Hy is ook ’n geaffilieerde professor in diereteelt aan die Universiteit van die Vrystaat. In sy navorsing lê hy klem op klimaatslim vleisbeesproduk- sie. Hy is deel van die Globale Navorsingsalliansie se lewendehawe-navorsingsgroep wat toegespits is op die landbou se kweekhuisgasse. Hierdie artikel is hoofsaaklik gegrond is op ’n wetenskaplike artikel wat in die South African Journal of Science verskyn het (www.sajs.co.za/article/view/8192).