Baanbrekerswerk oor die teorieë van wyle prof. Jan Bonsma uit die 1950’s oor die invloed van die omgewing en bestuur op die grootte en aanpassing van vleisbeeste, is die eerste keer wetenskaplik bewys. Die navorsing het bevestig dat die Bonsmara-beesras goed aangepas is vir doeltreffende produksie in die belangrikste vleisbeesproduksiestreke in Suid-Afrika.

Die navorsingsgroep vir produksiedierfisiologie van die departement veekunde aan die Universteit van Pretoria (UP) onder leiding van prof. Edward Webb is op die onlangse kongres van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Veekunde (SAVVV) in Bloemfontein met die David Uys-eerbewys vir die beste wetenskaplike publikasie in 2017 in die Suid-Afrikaanse Joernaal vir Veekunde bekroon.

Dié navorsing was ’n spanpoging saam met mnr. Pieter Visagie (nagraadse veekundestudent, UP), dr. Japie van der Westhuizen (SA Stamboek) en prof. Hennie Snyman (Universiteit van die Vrystaat).

Die navorsing is deel van ’n reeks ondersoeke oor die invloed van nie-genetiese of omgewingsfaktore, soos geografiese ligging, suurvlakke in die grond en grondchemie, veldgehalte en klimatologiese faktore op die groei, grootte, reproduksie en produksie van vleisbeeste in Suider-Afrika.

Die noukeurige aantekening van produksiedata, die beskikbaarheid van omgewingsdata en die omvang van rekenaarstelsels en statistiese toepassing om groot datastelle te ontleed, het die deurbraak moontlik gemaak. Dié navorsing is op Bonsmarakoeie gedoen danksy produksiedata van 1990 tot 2010. Navorsing is ook gedoen op ’n ander inheemse Suid-Afrikaanse beesras, die Nguni, asook die Tswana in Botswana.

Die tipiese metings van beeste wat deur wyle prof. Bonsma (inlas) gebruik is om die belang van raamgrootte te beklemtoon in die skep van die Bons­ma­rabeesras (“Live­stock production, a global approach”, Bonsma, 1980).

Belangrike afleidings

Die navorsing het veel meer opgelewer as wat aanvanklik verwag is, aangesien die belang en omvang van verskillende omgewingsfaktore op beesvleisproduksie bepaal kon word. Die relatiewe bydrae van elke nie-genetiese faktor ten opsigte van produksienorme kon ook met behulp van wiskundige modellering bereken word. “Die groot vraagstuk oor die belang van koeigrootte kon onteenseglik bewys word. Die belangrikste bevinding is dat die geografiese omgewing ’n beduidende invloed op koeigrootte het,” sê Webb.

Die navorsing het getoon dat die gewig van volwasse Bonsmarakoeie in verskillende geografiese gebiede met ongeveer 50 kg tussen die belangrikste produksiestreke verskil, maar met variasies van net 430 kg en tot 550 kg. “Wat hierdie studie eiesoortig maak, is dat die genetiese meriete (Blup-waardes) vir volwasse koeigewig in ag geneem is,” sê hy.

“Die bevindings verskaf ook wetenskaplike bewyse vir Bonsma se wawiel-teorie dat die omgewing baie belangrik is ten opsigte van die fenotipiese uitdrukking van beeste se genetiese potensiaal. Geneties uitnemende diere is dus afhanklik van die verskillende omgewingsfaktore om hul genetiese poteniaal maksimaal uit te druk en dus die geskikte fenotipe te produseer.”

Volgens Webb word die koeigrootte gevolglik betekenisvol deur die omgewing beïnvloed en beteken dit dat koeie wat nie ’n optimale grootte in ’n bepaalde geografiese omgewing het nie, moontlik ’n swakker produksie- en reproduksieprestasie kan oplewer. “Die studieresultate dui daarop dat die geografiese streek en genetiese faktore, soos basterkrag, wat nie in die teelwaarde vervat word nie, die produksie- en reproduksie- eienskappe van Bonsmarakoeie betekenisvol beïnvloed, maar dat die rol van die boer of bestuurder ook belangrik is.”

Dit bevestig Bonsma se verwysing na die “as van die ekologiese wiel” om die belangrikheid van goeie bestuur te beklemtoon. Dit beteken dat die produksiedoeltreffenheid van koeie noemenswaardig verbeter kan word deur die gebruik van doeltreffende bestuursmetodes saam met weldeurdagte en nougesette toepassing van telingsdoelwitte.

Omgewingsfaktore het al die produksie-eienskappe van Bonsmarakoeie beïnvloed, maar dit is duidelik dat die saamgestelde invloed van al die omgewingsfaktore in ’n groot mate afhang van die fisiologiese ouderdom (volwassenheidstipe) en reproduksiestatus van die koeie. Die invloed van sommige omgewingsfaktore op jong kalwers is byvoorbeeld verskans deur die maternale invloed van die koeie as gevolg van laktasie

Omgewingsfaktore begin egter duideliker word vanaf speentyd (wat 9% van die variasie verklaar) en jaaroudstadium (wat 10% van die variasie verklaar), en met ’n toenemende belangrike invloed tot volwassenheid. Die gemiddelde speengewig van Bonsmarabeeste was 215 kg, terwyl hulle teen 18 maande ongeveer 330 kg weeg en ’n gemiddelde volwasse gewig van 500 kg het.

wyle prof. Bonsma

omgewingsfaktore

Die omgewingsfaktore wat die grootste invloed op koeiproduksie en -reproduksie gehad het, was reënval en omgewingstemperatuur. Reënval het ’n matig ongunstige impak op koeigrootte gehad, aangesien hoër reënval in die streke in Suid-Afrika met swakker veldgehalte, laer suurvlakke in die grond en laer beskikbaarheid van veral kalsium (Ca) en fosfor (P) in weidings gekorreleer is.

Laasgenoemde faktore gee aanleiding tot koeie met ’n kleiner raamgrootte in geografiese streke met ’n swakker algemene veldgehalte as gevolg van die hoër reënval. Omgewingstemperatuur het ’n klein, maar ongunstige impak op die grootte van koeie gehad, weens die stygende energiebehoeftes in warmer streke om homeostase en veral liggaamstemperatuur naastenby konstant te handhaaf.

Die gemiddelde ouderdom van Bonsmarakoeie met eerste kalf was 2,63 jaar en hul gemiddelde tussenkalfperiode was ongeveer 422 dae. Laasgenoemde reproduksie-eienskappe is betekenisvol deur die geografiese streek beïnvloed, maar nie noodwendig deur koeigewig nie. Hoewel verskillende omgewings gemiddelde koeigewig beïnvloed, het sodanige gewig nie ’n noemenswaardige invloed op die individuele produksiedoeltreffendheid nie.

Navrae: Prof. Edward Webb, edward.webb@up.ac.za

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.