Die Komgaboerevereniging, met behulp van Agri Oos-Kaap, het in Maart ’n suksesvolle hofbevel bekom teen die Groot Kei-munisipaliteit, sy munisipale bestuurder en uitvoerende burgermeester om prosedures in te stel om die nodige wette oor die aanhou van diere binne residensiële gebiede in die munisipaliteit toe te pas.

Die munisipaliteit en burgermeester moes teen 30 April ’n verslag indien oor die nodige stappe wat hulle sou doen om aan die bepalings van die bevel te voldoen.

Volgens mnr. Jason Kümm, bestuurder van landelike veiligheid en kommunikasie by Agri Oos-Kaap, het die munisipaliteit egter die bepalings van die hofbevel geïgnoreer en sal daar nou voortgegaan word met die instelling van klagtes by die hooggeregshof vir die minagting van hofverrigtinge.

Volgens mnr. Coert Jordaan, voorsitter van die Komgaboerevereniging, word daar nog gewag op terugvoer ná die klag op 7 Julie gelê is.  

Jordaan sê die gemeenskap is genoop om hom na die hof te wend ná die munisipaliteit ná verskeie vergaderings niks aan die saak gedoen het nie en die plaaslike polisie ook die saak onaangeroer laat.

“Boere in die omliggende dorpe ly aansienlike skade weens onbeheerde troppe honde en honde wat geteel en aangehou word in die woongebiede en gebruik word vir onwettige jag,” het mnr. Doug Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap, gesê ná die aankondiging van die eerste hofbevel.

“Die gevare van rondloperbeeste en ander mak diere wat op ’n onbeheerde manier aangehou word, spreek vir hulleself.”

Hy sê Agri Oos-Kaap staan nie die aanhouding van diere deur inwoners teen nie, maar dat diere in woongebiede deur munisipale wette gereguleer word. Dit is in die belang van ál die inwoners van die munisipaliteit dat dit afgedwing word.

“Die eienaarskap van vee gaan saam met die verantwoordelikheid om te verseker dat diere op ’n manier aangehou word dat hulle nie ’n oorlas vir ander is nie.”

komga rondloperdiere
Die dorp se golfbaan wemel van rondloperbeeste, -bokke en -skape. Foto: Verskaf
komga rondloperdiere
Rondloperdiere neem die dorp Komga oor, is die oorsaak van verskeie motorongelukke en berokken groot skade vir boere. Foto: Verskaf

Groot uitdaging

“Die rondloperdiere is ’n ernstige probleem vir die biosekerheid van kommersiële boere se vee. Die vee is nie gemerk nie, en indien daar voertuig ongelukke is, weet jy nie wie se diere betrokke was nie,” sê Jordaan.

Mnr. Vukani Sithole is begin Julie oorlede in ’n motorongeluk wat deur rondlopervee veroorsaak is. Volgens sy pa, Xholani, is daar te veel rondloperdiere in Suid-Afrika, veral beeste, aangesien mense nie hou by die wette wat hulle verplig om hulle beeste te brandmerk en om na hul diere om te sien nie.

“Só weet die owerhede dan nie watter beeste die probleme veroorsaak nie.”

Mnr. Gareth Randall, wie se plaas naby die dorp geleë is, vertel hy was juis besig om ’n draad op sy eiendom te herstel wat beskadig is toe ’n kar vir vee uitgeswenk het toe Landbouweekblad hom om kommentaar genader het.

“Hier vind ongeveer een keer elke twee maande ’n ongeluk plaas weens rondlopervee, en ek oordryf nie.”

Sy plaas is naby aan die dorp geleë en hy sukkel weekliks met bokke in sy aangeplante lande. Duisende rondloperhonde is problematies op die dorp, met die honde wat boonop gebruik word om onwettig op plase te jag. Hy voeg by dat die dorp se golfbaan wemel van rondloperbeeste, -bokke en -skape.